Vir God en Vaderland. ‘n Autobiografie van Jopie Fourie

Jopie-Fourie

In 1914 se tragiese botsing van broer teen broer sterf Jopie Fourie voor ‘n vuurpeleton en word feitlik ‘n legende onder sy mense.

Nie altyd ‘n mense se lewe en werk nie, maar dikwels sy sterwe verseker sy onsterflikheid in die hart van ‘n volk. So ‘n man was Jopie Fourie. As daardie skote nooit op 20 Desember 1914 se Sondag môre in die Sentrale Gevangenis te Pretoria geklap het nie, sou hy waarskynlik soos vele ander maar net nog ‘n treffende voorbeeld van ‘n uiters pligsgetroue burger, toegewyde gesinsman en patriotiese Afrikaner gewees het. Sy sterwe sou hom egter verhef tot één van die Afrikanervolk se grootste tragiese helde – ‘n martelaar vir en simbool van die Afrikaner se hoogste nasionale strewe, naamlik om vry onder ‘n eie republikeinse vlag te kan lewe.

Vir ander was en is die naam Jopie Fourie egter ‘n verwyt, ‘n aanklag. Vir ander weer dat hy, vanweë sy optrede, voor die vuurpeloton slegs sy verdiende loon ontvang het. Dit is die kante van die lewensverhaal van ‘n Jopie Fourie. Fourie is op 27 Augustus 1878 op die plaas Wildeeesthoek, noord van die Magaliesberge, gebore, en soos sy oupa en vader sou ook hy die name Joseph Johannes dra, maar in die omgang sou hy altyd as Jopie bekend staan.

Aanvanklik sou Jopie op die plaas skoolgaan om daarna verskeie skole in Pretoria te besoek. Toe hy sewentien word, is besluit om hom na die Grey College in Bloemfontein te stuur om daar verdere onderrig te ontvang. Hierdie skool, onder die bekwame leiding van die bekende dr. Johannes Brill was tot in Transvaal vir sy deeglike opleiding en vorming van jong Afrikaners in die modelstaat van presidente Brand, Reitz en Steyn bekend.

Tydens die Desember vakansie van 1895 sou dr. L.S Jameson en sy vrybuiters dit waag om met beplande steun van die Engelse uitlanders in Johannesburg Transvaal binne te val. Die vurige Jopie het dadelik as vrywilliger aangesluit en toe Jameson by Doornkop, suid van Krugersdorp, tot oorgawe gedwing is, was Jopie die persoon wat as tussenganger gekies is om tussen die kommando van Kommandant P. Roos en Jameson op te tree. Om een of ander rede is Jopdie die volgende jaar nie na die Vrystaat terug vir sy verdere skoolopleiding nie. Hy is na Stellenbosch, waar hierdie lewensllustige jong seun hom weer veral op die rugbyveld sou onderskei. Sonder om te matrikuleer, tree hy in 1897 tot die staatsdiens van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die kantoor van die Ouditeur-Generaal toe. In Pretoria gaan hy by sy oupa en vader se goeie vriend, kommandant-generaal P.J Joubert, tuis waar hy deur mev. Joubert soos ‘n eie seun behandel word. 

Toe onluste in 1897 in Swaziland uitbreek, is ‘n ekspedisie bestaande uit die Z.A.R Polisie en ‘n vrywilligerskorps uit Pretoria na die grens gestuur. Jopie was onder die eerstes wat aangesluit het, waarskynlik omdat die vier mure van sy kantoor vir hom meestal ondraaglik was. Die oop veld gepaard met avontuur was sy wêreld. Sonder dat veel voorgeval het, was hy binne enkele maande weer agter die lessenaar om smiddae op die oefenveld en Saterdae in wedstryde sy hele hart as voorspeler op die rugbyveld uit te speel. Kragtig het leiers soos Joubert, Botha en ander teen die gevare van ‘n oorlog met Brittanje gewaarsku, maar toe die teerling eenmaal gewerp is, het hulle hul volle steun aan President Kruger toegesê om die Republieke se onafhanklikheid met al die mag tot hul beskikking te verdedig.

Toe die kommandant-generaal, Piet Joubert, versoek om op sy persoonlike staf te dien, het hy dit met albei hande aangegryp. Hy sou uit die gehate kantoor wegkom en sy Oom Piet met sy hele hart dien. Aan die ander kant sou die opperbevelhebber van die Republikeinse magte geweet het wat hy het aan hierdie jong man wat pas mondig geword het. Hy was deur en deur betroubaar en iemand op wie jy in enige omstandighede of krisis kon staatmaak. Aan Jopie is egter hoë eise gestel. Die kommando’s wat Natal in Oktober 1899 binnegeval het, was wyd verspreid en rapporte moes met haas van en na die hoofkwartier geneem word. Nouliks het hy doodmoeg en uitgeput van ‘n rapport- of verkenningstog teruggekeer, of hy is sonder ‘n ruskans onmiddelik met ‘n vars perd op ‘n nuwe sending uitgestuur. 

Tydens so ‘n rit is hy in die omgewing van Newcastle in ‘n ongeluk met ‘n perd beseer en toegelaat om op die familieplaas te gaan herstel. Nog nie behoorlik gesond nie, was hy weer terug op kommando. As iets gedoen moes word, moes dit dadelik en goed gedoen word. Generaal Joubert se terughoudendheid op die front en onwil om die vyand vinnig en hard te slaan, het die jong burgers soos hy ongeduldig gemaak. Maar wie is Jopie om ‘n geëerde en ervare man soos Oom Piet Joubert se oordeel in twyfel te trek? Toe generaal Joubert op die front ernstig siek word en op 27 Maart 1900 in Pretoria aan buikvliesontsteking oorlede is, sou sy staf opbreek en by verskeie kommando’s gaan aansluit. Ná die inname van Pretoria in Junie 1900 doen Jopie Fourie rapportryerswerk vir Advokaat Ewald Esselen se kommando. Steeds val sy toegewyde diens en onverskrokkenheid op. Op ‘n keer word hy onverwags deur twee swartes oorval wat hom met ‘n knopkierie neervel, maar hy slaag daarin om hulle in ‘n worsteling van lewe en dood af te weer totdat hulp van ‘n vriend opdaag. 

‘n Ruk lank is hy in die omgewing van Magaliesberg met ‘n kommando doenig, maar sluit daarna by een van die Heidelbergse kommando’s aan wat onder bevel van sy oom, Kommandant Willem Pretorius, staan. Teen Oktober 1901 bevind hy hom by ‘n klein kommando’tjie wat in die Bosveld ten noorde van Pretoria optree. Daar is ‘n ernstige gebrek aan goeie ryperde en daar word besluit om ‘n Britse afdeling wat in ‘n huis verskans was, in die nag aan te val en hulle van hul perde te beroof. Onder die vrywilligers vir die gewaagde daad was Jopie Fourie. Die burgers moes die wagte oorrompel en dan met die perde uit die stalle jaag. Alles vorder goed, maar terwyl Jopie besig is om die perde los te maak, knal ‘n skoot van ‘n senuagtige burger. Jopie besef daar is moeilikheid aan die kom. Hy storm in die donker op die huis se voordeur af om te keer dat die soldate wat binne is, uitstorm. Terwyl hy op sy knie staan en skiet, word hy in die regerbeen net bokant die knie getref. Met groot gesukkel kruip hy na ‘n veilige plek, waar een van sy makkers hom verder uit gevaar neem. Só ernstig is die bloeiende wond en half vergruisde been, dat sy makkers vra om hom in die hut van ‘n swartman agter te laat. Daar is vir hom egter geen ander uitweg as om die Tommies te laat vra om  hom te kom haal nie. 

Hy is met ‘n veldwaentjieopgelaai en vier dae later in ‘n hospitaal in Pretoria opgeneem. Twee maande later, mank vir die res van sy lewe, is hy in ‘n arreskamp in Pretoria opgeneem, maar nie vir lank nie. Kort daarna is die bitter vrede gesluit wat vir Jopie pynliker as al die pyn in die hospitaal was. In Julie 1902 is hy vrygelaat. Hy is terug na Wildbeesthoek om saam met sy oupa en vader die half-verwoeste plaas weer op te bou. Met die Fouries se kenmerkende deeglikheid en deursettingsvermoë is die taak met ‘n wil om weer bo te kom, aangepak. Binne enkele jare was op die plaas, soos die meeste plase in die eertydese Boere-republieke, geen tekens meer van die vyand se verwoestingswerk nie. 

In 1903 is Jopie met die aantreklike Susan Engelmohr, ‘n nooi van Pretoria, getroud. Hierdie stil en ingetoë mens was vir Jopie ‘n wonderlike lewensmaat. ‘n Ruk lank, naamlik in 1910, sou hy op die Fouries se ander plaas, Boskop, ook in die distrik van Pretoria, boer, maar in 1912 keer hy na die familieplaas terug om naas die boerdery ook die amp van staatsinspekteur van brandsiekte en beeste in die distrik te aanvaar. Dit sou hom in wye kontak met talle mede boere bring. Jopie et ‘n lewendige belangstelling in die politiek gehad. Hoewel hy ‘n vurige ondersteuner van generaals Louis Botha en Jan Smuts se Het Volk-party was, was hy in sy beskouinge nooit fanatiek of teenoor die teenpartye kwetsend in sy opmerkinge nie. Hy deel in die Afrikner se vreugte toe in 1907 aan die eertydse republieke selfbesuur toegeken word, en die Het Volk-party en die Orangia-Unie in die Vrystaan aan bewind kom. 

Met unifikasie in 1910 sou hy as lid van Generaal Botha se verkiesingskomitee ywerig aan die werk spring, maar sy geliefde Generaal is op verassende wyse  deur Sir Percy Fitzpatrick in die kiesafdeling Pretoria-Oos verslaan – met 95 stemme. Die neerlaag het Jopie nie ontmoedig nie. Soos soveel ander Afrikaners was hy vas oortuig dat Botha en Smuts besig was om die politiek so te rig dat ‘n republikeinse vlag eendag weer oor die hele Suid-Afrika sou wapper. Met die uitstoot uit Botha se kabinet in 1912 van Generaal J.B.M Hertzog – die onverbiddelike kampvegter vir n Afrikaanse taal, gelykberegtiging van albei taalgroepe op alle vlakke en die beginsel van Suid-Afrika eerste, nl. Suid-Afrika se belange bo die van die Britse Ryk – was Jopie eigsins geskok in sy leier se optrede. Hy het self Generaal Hertzog se toespraak by De Wildt, nie ver van Wildebeesthoek nie, bygewoon en kon daarmee geen fout vind nie. Jopie wou egter sy leier nie sonder meer veroordeel nie, want steeds het hy geglo dat al die boeregeneraals besig was om dieselfde ideal na te streef. Die vraag het wel aan hom begin knaag of Botha en Smuts se konsiliasiebeleid tussen Engels- en Afrikaansprekendes die regte was. Hy het self vriende onder die Engelse gehad. Het het selfs Vere Stent, die uitgesproke imperialis en redakteur van die Pretoria News, geken, maar as hy oor samewerking met die Engelsman voorgestaan het, dan moes dit nie ten koste van die Afriker se taal, kultuur of ideale geskied nie. 

Toe die Unie se Verdedigingsmag in 1912 tot stand kom, versoek genl. C.F Beyers, wat as Kommandant-generaal aan die hoof daarvan gestaan het, vir Jopie om by die staande mag aan te sluit en opleiding daarvoor te ontvang. Vanweë sy beengebrek, want hy het nog steeds mank geloop, sien hy egter nie daarvoor kans nie. Sy plig om krygsdiens te verrig sou hy egter nie ontwyk nie. 

Hy tree tot die aktiewe burgermag toe en word in Julie 1913 tot kaptein van die 13de berede Skutters bevorder – ‘n rang waarop hy besonder trots was. Met die uitbreek van die oorlog in Europa in die eerste dae van Augustus 1914, waarvan die skrikwekkende uitwerking te voorsien maar nog nie ervaar is nie, het die Britse kabinet die Suid-Afrikaanse regering versoek om Suidwes-Afrika, indertyd ‘n Duitse kolonie, te beset aangesien die radiostasies aldaar groot gevaar vir die Brise skeepvaart ingehou het. Hiertoe het die Botha-kabinet dadelik ingestem. Van hierdie verpligting om Suidwes in te val, sou slegs die kabinet weet. Op 13 Augustus roep Generaal Smuts, Minister van Verdediging, al die stafoffisiere byeen en deel hulle mee dat ‘n mag van 20 000 man op die been gebring moet word om ‘n moontlike Duitse aanval af te weer. Allerlei gerugte het die rondte begin doen, onder meer dat ‘n aanval op die Duitsers beplan word. In die gemoed van die Afrikanervolk was daar onrus. Met die Duitsers had die Afrikner geen byltjie te slyp nie, want was dit nie die Duitse volk wat gedurende die Anglo-boereoorlog so sterk met hulle gesimpatiseer en daarna tot die fondse vir die weduwees en wese bygedra het nie? In die omgang was daar al sprake van verset, selfs van opstand en rebellie as so iets wel moet gebeur. 

Om ‘n mag oor die grense van die Unie te stuur, was parlementêre goedkeuring nodig. Op 12 September 1914 vergader die twee huise van die Parlement in Kaapstad. Generaal Botha lê ‘n dramatiese verklaring af: “Die Duitsers het die grens van die Unie oorskry, die Duitsers het die vyandelikhede begin by Nakop. Die toestand is ernstig, die land is in gevaar. Geen ander keuse het die Regering, geen ander keuse het die volk van Suid-Afrika nie, as om sy grondgebied te verdedig teen die onbeskaamde aanvaller.”

Wat bloot ‘n insident aan die grens tussen die Unie en Duits-Suidwes oor ‘n omstrede polisiepos was, het skielik ‘n gewigtige rede vir militêre optrede geword, terwyl die ware feite aan die Parlement verswyg is, naamlik dat die kabinet reeds op ‘n aanval op Duits-Suidwes besluit het. Die versoek om Suidwes binne te val, is in die Volksraad met 92 stemme teen 12 stemme in in die Senaat met 24 teenoor 5 stemme goedgekeur. Vir Generaal Botha moes Suid-Afrika die weg van “plig en eer” volg. Bowendien, as die Suid-Afrikaanse magte nie die taak onderneem om Suidwes te best nie, sou Brittanje waarskynlik die hulp van troepe uit Australië of Indië inroep om dit te doen, en dit sou nie in belang van die land wees nie. Ook die Engelse in die land sou in verset kom as die Unie nie sy lot by Brittanje in sy uur van nood inwerp nie. Generaal Koos de la Rey wil as Senaatslid nie teen sy strydmakker en politieke vriend, Louis Botha stem nie, maar hy sien ook nie kans dat Afrikanerseuns hul bloed vir die Britse Ryk opoffer nie. Hy verlaat die Senaatsaal en besluit om terug te keer na Transvaal.

Wat hierna sou volg, hoort tot een van die tragiese momente van ons land se geskiedenis. Toe Generaal de la Rey in Transvaal aankom het hy kontak gemaak met Generaal Beyers, wat op 15 September uit protes teen die Parlement se besluit sy pos as Kommandant-Generaal van die S.A. Verdedigingsmag neergelê het. Daar is besluit om saam per motor na die militêre kamp op Potchefstroom te reis om daar met die bevelvoerder, Generaal J.C. Kemp, te beraadslaag wat hulle verder in die krisis te doen staan. Op weg daarheen jaag die twee generaals deur ‘n hinderlaag wat vir die gevaarlike Foster-bende opgestel is. ‘n Opslagkoeël in die strate van Langlaagte tref Generaal de la Rey, die befaamde held en Leeu van Wes-Transvaal, in die hart. In die lig van al die spanning, gerugte en onsekerheid het die meeste Afrikaners Generaal De la Rey se dood as ‘n berekende daad van die Botha-regering beskou. Op 20 September is Generaal De la Rey in die teenwoordigheid van manne soos Generaals Botha, Smuts, Beyers en Christiaan de Wet op Lichtenburg begrawe. Die volgende dag is ‘n groot volksvergadering gehou waar die ou republikeinse Vierkleur gewapper het. Gevoelens loop hoog, maar die toesprake van ds. S.J du Toit (Totius), Generaal De Wet en ander het ‘n kalmerende uitwerking. Die vergadering besluit eenparig om protes aan te teken teen die parlementsbesluit omdat die volk nie vooraf daaroor geraadpleeg is nie. 

Of Jopie by die begrafnis of die volksvergadering teenwoordig was, is nie bekend nie. Hierna is oral vergaderings gehou. Protesstemme het opgegaan en ultimatums is gestel, maar al versekering wat die onrustige Afrikaners kon kry, is dat niemand teen sy wil opgekommandeer sou word om in Duits-Suidwes te gaan veg nie. Reeds op 23 September word aan Generaal Manie Maritz, wat met burgermageenhede by Kakamas en Upington saamgetrek was, opdrag gegee om na die grens van Suidwes op te ruk. Die uiteinde was dat Maritz op 9 Oktober met ‘n klomp jong manne van die Noordweste na die Duitsers oorgestap het. Wat in Jopie se gemoed omgegaan het toe hy op 10 Oktober Pretoria besoek om inkopies te gaan doen, weet ons nie. Toe ds. Herman van Broekhuizen hom in die straat raakloop en meedeel dat die geboortedag van Paul Kruger daardie aand met ‘n sangfees en ‘n voorlesing deur Generaal Beyers in die Opera-gebou in Pretorius straat gevier gaan word, maar dat daar gerugte is dat sekere elemente die verrigtinge vanweë Generaal Beyers  se teenwoordigheid wil ontwrig, het hy dadelik ingewillig om die genooide gaste te help beskerm. 

Toe die verrigtinge met gebed sou begin, was daar van die gallery, waar Jopie ook saam met ‘n klomp ander Afrikaners gesit het, ‘n oorverdowerende lawaai en gesing van “Rule Britannia”, “Tipperary” en “God Save the King”. Ten spyte van beroepe van die voorsitter, ds. Van Boekhuizen, het die rumoer voortgeduur. Dit was toe dat Jopie, wat Engels goed magtig was, opgestaan en die mense op die galery soos volg toegespreek het: “Gentlemen, I appeal to you as Englishmen! Surely you are under a wrong impression; our coming together here tonight is not to discuss politics. We are here to honour our great President. Certainly no nation, and least of all you English, would prevent us from doing it. I wish to ask all of you present who do not sympathize with us or who do not wish to hear the music or the singing, to leave this building.”

Enkeles het dit wel gedoen, maar as almal wat daardie aand die Afrikaner wou kom verneder, uitgestap het, het Jopie se lewenspad waarskynlik anders geloop. Vir n ruk lank het dit rustiger daaraan toegegaan, maar toe Generaal Beyers na pouse met die grootste moeite sy lesing oor Paul Kruger lewer, het oproer opnuut uitgebreek. Dit is toe dat Jopie en sy vriende onder die oproermakers op die gallery inklim. In hierdie stadium is ook die hulp van die polisie ingeroep en die uiteinde was dat Generaal Beyers onder polisiegeleiding weggeneem moes word. Die gepeupel het intussen ook sy motorbande stukkend gesteek. Die gebeure en die Engelse se optrede het Jopie diep geskok, veral die mate van haat wat hulle teenoor Beyers openbaar het. Hy moes homself ernstig die vraag vra: Wat het van sy leier, Generaal botha, se versoeningsbeleid tereg gekom? Sy pleidooie van gee-en-neem het klaarblyklik daarop uitgeloop dat die Engelse as oorwinnaars net wil neem en die Afrikaner niks wil gun nie, ten minste nie dit wat vir hom heilig en dierbaar is nie. Is Generaal Hertzog se tweestroombeleid van absolute gelyke beregtiging tussen die twee volkgsgroepe nie miskien die regte pad nie? 

Jopie worstel met homself. Daar is teleurstelling, vertwyfeling en onsekerheid in sy gemoed. Daar is gerugte van rebellie oral in die lug en nou word nog krygswet deur Smuts aangekondig. Wat sou dit beteken? Opgekommandeer word om in Duitswes te gaan veg? Na Generaal Maritz se oorlopery na die Duitsers en vanweë die gespanne toestand wat oral in die land tussen voor- en teenstanders van die Regering geheers het, is op 11 Oktober 1914 ‘n verklaring oor Maritz se optrede uitgereik en die volgende dag krygswet in ‘n buitengewone Staatskoerant aangekondig. Aan Generaal Smuts, Minister van Verdediging, is nou heel besonder mag verleen. almal word die swye opgelê. Kritiek op die owerheid se militêre optrede is verbode. 

Meer as ‘n week gaan verby. Jopie het stil geword en niks gesê nie. Generaal Beyers is reeds veld toe. Oral begin burgers gewapend byeenkom. Teen die Duitsers sou hulle nie gaan veg nie. Jopie worstel steeds met sy lojaliteit teenoor Generaal Botha en die vertroue wat in hom ontbreek. Hierdie deeglike mens, sorgsame eggenoot, geliefde seun en kleinseun en in normale omstandighede ‘n opgeruimde mens, weet dat hy ‘n beslissing moet maak. Hy was nog altyd een wat vinnig besluite neem en hulle deurvoer, kom wat wil. Wat hy glo, doen hy, maar hy wil nie nou in sy drif besluit nie. In Oktober versoek Generaal Botha hom om in die Pretoria distrik rond te gaan en vas te stel hoeveel mense vir Generaal Beyers steun. Hy bly sy Generaal ‘n antwoord skuldig, want diep in sy hart weet hy dat hy so iets nooit sal kan doen nie. 

Daardie aand, na hy reeds tevore ‘n lang gesprek met sy oupa gehad het om by hom lig op sy pad te probeer kry, sê hy aan sy vrou en sy moeder: “Dit is nou eenmaal in my hart; ek kan dit nie keer nie; by my volk moet ek gaan staan; ek gaan uit na my mense vir ons vaderland en ons vryheid.” Op Sondagmiddag, 24 Oktober, staan sy familie en kyk hoe Jopie en sy jonger broer, Johannes, die plaas te perd met hul gewere verlaat. Hulle het hul Weermag uniforms aan. Dit was miskien ‘n fout, asook die feit dat hulle nie vooraf uit die burgermag bedank en Jopie sy rang neergelê het nie. By Klipfontein sluit hulle by Generaal Christiaan Beyers se protesmag aan. Omdat Generaal Beyers in Pretoria voortdurend met sy lewe bedreig is, het hy na Damhoek by die Magaliesberge uitgewyk, waar ‘n aantal burgers, meestal gewapen, by hom kom aansluit het. Beyers het hierdie saamtrek van manne bloot as ‘n protesbeweging, ‘n demonstrasie sonder geweld, gesien. Sy verduideliking was: “Dit was oorspronklik ewe min Generaal De Wet se bedoeling as my bedoeling om te rebelleer. Ons wou net protesteer teen die handelswyse van die regering insake D.S.W.A…” Die burgers persoonlik nie, want dan het dit geen ander gevolg gehad as om die tronke vol te maak nie, maar gesamentlik, deur saam in die veld in te trek, deur met ‘n openlike daad aan die regering en aan die wêreld te toon dat hulle die gemene handelswyse van die regering afkeur en dat hulle hul nie in die diens van die ‘Empire’ vir rowers sou laat gebruik nie. 

Gaandeweg sou die protesbeweging, sonder vaste plan of koers, wel veel meer as dit word. Dit sou inderdaad vir derduisende burgers ‘n opstand  teen die regering wees met die doel om opnuut die republiekeinse ideale van die Afrikanervolk te verwesenlik, maar trouens met nog minder plan en koers as die aanvanklike protesbeweging. Die dag nadat Jopie en sy jongste broer, Hannes, by Generaal Beyers aangesluit het, is Jopie as kommandant aangestel onder Generaal J.J. Pienaar in Noord-Transvaal te dien. Noord-Transvaal is in drie streke verdeel en Jopie word in bevel van die streek onmiddellik noord van Pretoria geplaas. Hy het nooit meer as vyftig manne onder sy bevel gahad nie, en met die krygstaktiek wat hy gedurende die oorlog van 1899-1902 geleer het, sorg hy dat hy uuit die hande van die regeringstroepe bly, wat van alle kante op die proteserendes in Transvaal en die Vrystaat toesak. 

Omdat die Rebellie in werklikheid niks anders as ‘n ingewing van die oomblik was nie, was dit as ‘n krygsaksie deurgaans planloos en selfs verbeeldingloos. Kans op sukses vir die rebelle was daar eintlik nooit. Minder as 12 000 swak gewapende en half-gesdissiplineerde rebelle sou dit op die lange duur nie teen ‘n oormag van goed bewapende en gedissiplineerde manne – opgekommandeerde Afrikaners en regeringsgesinde vrywilligers – met onbeperkte reserwes aan mannekrag en voorrade, volhou nie. 

In die Vrystaat is weerstand gebreek nadat ‘n groot aantal rebelle onder leiding van Generaal de Wet deur Generaal Botha by Mushroom Valley verslaan is en hy met ‘n uitgsoekte klompie manne na Suidwes probeer vlug het, maar aan die grens van Betsjoeanaland gevange geneem en in die fort by Johannesburg opgesluit is. Generaal Beyers, wat intussen na die Vrystaat afgetrek het, waarskynlik om met Generaal de Wet kontak te maak en saam na President Steyn op Onze Rust te gaan om raad, leiding, koers wat ook al te verkry, is by Bultfontein verslaan. Toe ook hy uitvlug om die grens van Suidwes te haal, sou hy onder druk van regeringsgroepe in die Vaalrivier verdrink. 

Op 10 Desember kon Generaal Botha ‘n verklaring uitreik: “Die opstand is nou feitlik op ‘n end. Die vernaamste leiers het deur die dood of deur gevangneming verdwyn…Die enigste taak wat nou nog wag, is om Maritz en Kemp, wat albei in Suidwes is, te verslaan.” Wat Generaal Botha nie vermeld het nie,was dat die opstand ten noorde van Pretoria nog voortgewoed het. Tot Saterdag, 30 Oktober, sou Jopie en sm manne nog geen skoot afvuur nie. Hulle ontwyk die regeringstroepe sover hulle kan. Hul enigste doel is om verbindings te vernietig. Jopie wil nie bloed vergiet nie. Toe een van sy manne hom in die veld vra of dit nie vir hom gevaarlik is dat hy nie as offisier bedank het nie, antwoord Jopie: Hoekom sou ek? Ons gaan mos nie veg nie. Ons protesteer presies soos daar vroeër met die wapen in die hand geprotesteer is by Wonderfontein en Paardekraal. Die regering sal onderhandel. Generaal Botha het ‘n verkeerde pad ingeslaan, maar hy is nie ‘n man wat op sy eie Afrikaners sal skiet nie.”

Toe die berigte van ander gevegsterreine wel deurkom dat bloed gevloei het en dat mense gedood en gewond is, het die stemming in Jopie verander. Toe op 30 Oktober berig kom dat Generaal Pienaar by Zoutpansdrif aangeval word, het Jopie en sy manne hom onmiddelik te hulp gesnel. Ononhoudelik word daar geskiet en aan albei kante word mense gewond en gedood, maar die regeringstroepe word gedwing om terug te val. ‘n Paar van hulle val in die hande van die rebelle en van hullle word verneem dat daar ook al op Generaal Beyers geskiet is. Dit was nou duidelik dat dit nie langer ‘n protes met bloot ‘n wapen in die hand was nie, maar dat dit nou ooorlog was en selfs tot ‘n burgeroorlog kon ontwikkel. Jopie het die erns daarvan ook besef en nog dardie dag saam met sy broer alle kentekens van hul uniform verwyder. Jopie het voor die probleem te staan gekom dat hy talle voetgangers by hom gehad het was sleg of heeltemal ongewapend was. Perde, wapens en ammunisie was dus dringend nodig. Waar Jopie dit van private persone kon kry, is daarvoor betaal en nooit met geweld afgeneem nie. Polisiestasies en Spoorwegstasies is wel aangeval en op die wapens beslag gelê. Steeds probeer Jopie nie aanvallend optree nie. Hy vlug dag en nag, maar wanneer daar op sy manne geskiet word, skiet hy terug. By twaalf geleenthede het die regeringsmagte hom aangeval en dit was dikwels net sy vernuftige krygstaktiek wat sy kommando’tjie uit die noute gekry het. Die stryd was vir hom ‘n mengsel van ontwyking en verdediging; selde of ooit ‘n berekende aanval. 

Op 8 November vind ‘n hewige geveg by Sandfontein plaas. Dit is ‘n botsing van ‘n groot aantal regeringstroepe onder Luitenant Kolonel Dirk van Deventer en die rebelle. Onder bevel van Generaal J.J Pienaar – iemand wat later bestem was om Administrateur van Transvaal te word. Die ongevalle onder die regeringsmagte is swaar: twaalf gedood. Hier in die Bosveld sou ruim ‘n derde van al die ongevalle aan beide kante van hierdie tragiese broederstryd in Suid-Afrika opgteken word. 

Jopie, wat die laer moes verdedig, het nie ‘n enkele skoot geskiet nie, maar dit was of hy hierna ontembaar was, veral omdat die Regering telkens geweier het om met hulle te onderhandel. In die gevegte wat volg, sou nog meer bloed vloei. Jopie het die houding ingeneem dat as die Regering dan oorlog soek, sal hulle oorlog kry. In hierdie stadium word aan alle rebelle wat voor 21 November hul wapens inhandig, amnestie verleen. By Generaal Pienaar se kommando gaan baie manne huis toe, maar by Jopie nie een nie. Oorgee sal hulle nie. Soos Jopie glo hulle in die regverdigheid van hul saak. Hulle word by baie Afrikaners die simbool van taaie volharding, maar by regeringsondersteuners ‘n toonbeeld van dwase hardkoppigheid. Terwyl Generaal Pienaar se kommando gaandeweg verbrokkel, word Jopie s’n versterk toe Veldkornet Simon Prinsloo met nog veertig man by hom kom aansluit. Op 23 November bevind hulle hulle by Rondefontein, digby Hammanskraal. Die manne is uitgeput van al die agtervolging, rondtrekkery, spanning en min slaap. Dit word vir hulle duidelik: ook hulle sal moet probeer uitvlug Suidwes toe, maars eers later as hulle uitgerus is. Dit sou hulle nie gegun word nie. Meedoënloos word Jopie en sy burgers gejag. ‘n Groot troepemag van  450 goed gewapende soldate ruk teen die kommando van tagtig man op. Dit word ‘n hewige geveg, maar Jopie se goeie stellinge verhoed dat die oormag hulle oorrompel. Teen die aand gebeur die ongelooflike; die regeringsmagte trek terug. Op die slagveld lê sewe rebelle egter dood, en talle is gewond; ook Jopie het ‘n armwond, wat hy vir sy manne wegsteek. 

Aan regeringskant het drie gesneuwel. vir Jopie, wat op die gevegsterrein dwaal, wag ‘n hewige skok. Onder die regeringsmanne wat gesterf het, kom hy af op sy vriend Kaptein Allen King – ‘n Engelsman wat onder talle Afrikaners in Pretoria besonder hoog geag is. “Dit moes nie gebeur het nie…Dit het hy nie verdien nie,” was Jopie se stamelende woorde. Diep bewoë bid hy knielend by die lyk van sy vyand, maar bo alles ‘n edele vriend. Nog ‘n geveg met verlies vind op 1 Desember by Dubbeldriwwe plaas, maar weer slaag Jopie daarin om sy agtervolgers te ontglip. Jopie se suksesvolle weerstand word vir die Regering ‘n verleentheid. In die oë van die teenstanders van Generaals Botha en Smuts groei Jopie se heldeskap met die dag. In Pretoria word magte gemonster om hom ‘n finale nekslag toe te dien. Aan die hoof van die nuwe offensief staan niemand anders as Kolonel J.J. Pretorius, Jopie se eie bloedneef. Dit was nie ‘n maklike taak wat op hom gewag het nie, maar hy is lojaal aan die Regering en hy moet sy plig doen, kom wat wil. Volgens berigte is Jopie in die omgewing van De Wildt, sowat 45km wes van Pretoria. Sonder versuim is Kolonel Pretorius se goed toegeruste kolonne per trein daarheen, maar van Jopie se kommando is daar geen teken nie. Verkenning bring aan die lig dat hulle in ‘n noordelike rigting uitgewyk het. Die hele dag volg hulle die spoor van Jopie se kommando’tjie. Kolonel Pretorius dryf sy manne genadeloos. Majoor Trewe, wat hom vergesel, doen dieselfde met sy polisiemag. Vir Jopie was die dag se tog nie minder veeleisend nie. Toe hulle teen die vroeë middag, Geloftedag, 16 Desember, op die plaas Nooitgedacht aankom en laer trek, was hulle onbewus van die naderende regeringsmagte. 

Jopie se mane neem die geleentheid waar om in die stilte van die veld te rus of in te sluimer. Generaal Pienaar, wat hom met sy oorblywende manskappe ook by Jopie bevind, slaap selfs diep. Skielik waarsku iemand: “Die troepe is hier!” Vinnig saal ‘n klompie op. Dit is reeds te laat; die eerte skote klap en slegs enkeles, onder andere ook Generaal Pienaar, slaag daarin om tusseen ruie bosse uit te jaag. Die res is vasgevang, maar Jopie gee bevel om in ‘n droeë rivierbedding daar naby stelling in te neem. Hy besef dat hulle teen ‘n oormag te staan gekom het wat hulle feitlik van alle kante insluit. 

Slegs die donker sou hulle kon red as hulle die aanvallers tot dan kan terughou. Meer as drie uur lank duur die geveg; die hewigste waarin Jopie en sy manne al ooit betrokke was. Die regeringsmagte is te baie en die rebelle se koeëls te min. Dit is asof die son gaan stilstaan en die genadiglike donker eenvoudig nie wil daal nie. Majoor Trewe se polisie het die kring al nouer getrek en die bevel kom om met gevelde bajonette in te storm. Dit word ‘n wanhopige handgemeen. Oplaas steek Jopie sy hande omhoog. Hy word dadelik vasgegryp en die res van die rebelle gooi hul gewere neer en gee oor. Aan regeringskant sneuwel tien manne en 21 is gewond; aan rebellekant is twee dood en vier swaar gewond. Daardie nag word Jopie en sy broer in ‘n huis daar naby aangehou om die volgende oggend vroeg saam met sy 43 ander burgers in Pretoria se gevangenisse opgesluit te word. Jopie en sy broer, Hannes, word by die Polisie se hoofkwartier apart in selle wat vir gekleurdes bedoel was, met slegs ‘n matras en kombers toegesluit. Wat hulle lot gaan wees, weet hulle nie. Miskien is daar toegeeflikheid, want pas twee weke tevore het generaal Botha nog gesê: “Ons moet regverdig en billik straf, maar ons moet ook vergeef en vergeet.” Generaal Botha is egter ‘n man met ‘n sagte hart, iemand wat hom die broederstryd diep aangetrek het, maar hy is die naweek op sy plaas en totaal onbewus van die tragedie wat hom sou afspeel. 

In Pretoria is Generaal Smuts in beheer. Hy is die harde wetsman. Reg moet geskied met vergelding. As daar skuldiges is, moet hulle ooreenkomstig hul dade gestraf word. Jopie en sy manne het nie van die amnestie wat op 21 November verval het, gebruik gemaak nie. Hoe kan hulle op vrywaring van hul bloedige dade aanspraak maak? Om onverklaarbare redes is daar by Generaal Smuts die eis dat Jopie en sy broer onmiddelik verhoor moet word. ‘n Veldkrygsraad moet dadelik saamgestel word en reeds op 18 Desember sy verrigtinge begin. Majoor N.C Sim stel die aanklag saam en sewe getuienisse sal ingeroep word. Toe die haastig saamgestelde krygshof in die polisiegimnasium onder voorsitterskap van Kolonel Theo Truter om tienuur sy sitting begin, maak Jopie se advokaat, Van Hees, beswaar teen die samestelling van die hof. Hy voer aan dat ‘n veldkrygshof geen regsbvoegheid in die stad het nie en slegs sitting mag neem as ‘n gewone krygshof nie daartoe in staat is nie. Die voorsitter verklaar dat hy wel van die Minister van Verdediging magtiging het dat ‘n veldkrygshof bevoeg is om die beskuldigdes te verhoor. 

Hierop het Advokaat van Hees die hof daarop gewys dat die veldkrygsraad volgens die Militêre Kode van die Unie van Suid-Afrika onmiddelik na sy uitspraak, wat nie in die openbaar mag geskied nie, die vonnis moet laat uitvoer. Om hierdie rede het Advokaat Van Hees die hof in kennis gestel dat hy na die hooggeregshof sal appelleer as die vonnis ongunstig vir sy kliënte is. Al wat die voorsitter hierop laat volg het, is dat sy beswaar aangeteken sal word, maar dat die hof, volgens sy oordeel, behoorlik saamgestel was en met die saak kon voortgaan. Joseph Johhanes en Johannes Petrus Fourie word gelyktydig aangekla as synde offisiere van die Unie-Verdedigingsmag wat verraad gepleeg het omdat hulle hulle in die maande November-Desember 1914 in die Pretoria distrik teen Sy Majesteit se magte verset het en deelgeneem het aan ‘n gewapende rebellie. Jopie pleit eers onskuldig en Hannes skuldig, maar toe wysig Jopie sy pleit na skuldig aan ‘n gewapende opstand, maar onskuldig aan hoogverraad. Getuienis op getuienis word gelewer van Jopie se kommando se optrede in die veld; van polisiestasies wat aangeval is, terwyl telefoondrade wat geknip is; van persone wat hulle wou werf om op kommando te gaan om teen die Botha regering te veg, en oor botsings tussen hulle en die regeringsmagte. Ook is getuig dat Jopie en sy broer offisiere van die 13de Berede Skutters was, maar reeeds vermis was voordat hul korps op aktiewe diens geplaas is. Daar is getuig dat hulle uniforms van die Verdedigingsmag gedra het, maar dat daar keen kentekens of rangtekens op die uniforms voorgekom het nie – iets wat algemeen tydens die Anglo-Boereoorlog in gebruik was. 

Die hof verdaag daarna om die Vrydag middag aan lede van die Verdedigingsmag die geleentheid te bied om die begrafnis by te woon van die manne wat aan regeringskant by Nooitgedacht gesneuwel het. Nieteenstaande Advokaat Van Hees se pleidooi dat daar geen bewys aangevoer is dat Jopie en sy broer al op aktiewe diens was, of dat hulle die oproep tot aktiewe diens wel ontvang het nie, en dus nie deur ‘n veldkrygshof verhoor kan word nie, het die voorsitter, Kolonel Truter, voet by stuk gehou en die hof is die volgende Saterdag oggend voortgesit. Jopie self sou nie onder eed getuig nie, maar wel ‘n verklaring aflê, met ander woorde dit sou die beskuldigde se finale pleidooi wees. Advokaat Van Hees vra die hof beleefd om Jopie toe te laat om die hof sonder ‘n tolk, toe te spreek. Weer beslis die voorsitter dat die hof geen teater is nie en dat Jopie se verklaring woord vir woord vertolk sou word. Dit was egter so gebrekkig dat advokaat Van Hees dit moes oordoen. Nadat Jopie die hof aandagtig deurgekyk het, kom die volgende woorde uit sy hart: “Ek wil weergee waarom ek op 16 Desember ‘n gewapende mag in die veld gehad het teen die Britse Troepe. Ek is ‘n gebore Transvaler – gebore onder die Republikeinse vlag. In die laaste oorlog het ek teen die Engelse geveg totdat ek swaar gewond na ‘n hospitaal gebring is. Na my gevangeneming het ‘n Engelse offisier my met sy rewolwer op my kop geslaan; dit het my nie lekker laat voel teenoor die Engelse nie, maar ek het my gedurig bedwing met die hoop dat die Engelse met ons sou saamwerk om ‘n voorspoedige Suid-Afrika op te bou.

“Die toestand het enige jare geduur, maar my ondervinding is dat waar die Engelse ‘n kans gekry het om die gevoelens van die Afrikaner seer te maak, dit vir hulle ‘n plesier gewees het. Ek daag enige Engelsman uit om te sê dat ek ‘n fout begaan het as dit hom oorgekom het om onder ‘n vreemde nasie gebuk te staan, en as sy gevoelens seerkgemaak is. “Toe daar ‘n tyd gelede sprake van oorlog in Duitswes  Afrika was, was ek een van die persone wat nie daarooor geraas het nie, al was ek daarteen; ek kan nie sien waarom ons Regering oorlog moes verklaar teen Duitsland, wat ons nog nooit leed aangedoen het nie. Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie. “Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan;  die moord wat die slag van Bloedrivier voorafgegaan het; die moord op ons mense by Holkrans waar die moord gepleeg is deur naturelle onder aanvoering van Engelse offisiere; en wanneer ek dink aan die 30 000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet help om sy eer hoog te hou nie. Nogmaals daag ek enige man uit om die vinger op my te wys en te sê: ‘Jy het ‘n fout begaan!” Ek weet dat die Regering my as ‘n rebel beskou en in my teleurgesteld is. Ook is ek teleurgesteld in die Regering wat ek op die been help bring het. “Dan word daar van gelyke regte gepraat – maar gaan net na die gevangenis en kry ‘n gewone kwitnasie vir ‘n pyp en sien of daar ‘n enkele woord Hollands op is. Waar kom die gelyke regte dan in?

“Tien Oktober het ek na ‘n konsert in die Operagebou gegaan – die konsert is ter gedagtenis van ons geagte president Kruger gegee – maar in plaas van musiek en aansprake oor die lewe van die Presidnet te hoor, het daar vuil skelwoorde op my ore geval, en terwyl ‘n dominee besig was met ‘n openingsgebed, is ‘Rule Brittania’ met stokke in ons keel afgepers en die dames op die verhoog met vrot eiers getref. As dit Britse gelykheid is, dan wil ek daar nie onder lewe nie, en dit is my ‘n groter eer om hier te staan as gevangene dan as ‘n offisier in die Engelse leër.”

Vir ‘n oomblik bly hy stil en dan vervat hy met die emosie: “Wat ek gedoen het, het ek met oop oë en vrye oortuiging gedoen. Selfs is ek tot vandag toe nog oortuig dat die Godheid die onreg nie sal gedoë, en dat daar nog genoeg mense in die veld is om Suid-Afrika te red vir ons volk. “Wat my broer betref, my invloed het hom beweeg om te doen wat hy gedoen het; hy het gehandel en opgetree onder my instruksies. Ek moet die hof vra om in aanmerking te neem dat hy my jongste broer is en in my handelswyse geglo het. “As daar vandag Afrikaners in die hof is wat hul harte moet uitpraat soos ek dit vandag doen, en as hulle g’n huigelaars is nie, kan hulle g’n ander woorde uiter as ek nou gebruik nie.

“Ek kan nie vals wees nie! Nooit in my lewe kon ek dit gewees het nie! En mag die Godheid my bewaar om nooit ‘n valsaard te word nie. My dade het altyd my hart openbaar. “Ek is nie van plan om die hof om genade te vra nie. Die genade van my Skepper wat my gelei het, is vir my genoeg; maar ek vra dat my manskappe wat onder my gedien het, genadig behandel moet word – my invloed oor hulle was sterk.” Jopie gaan sit. ‘n Groot stilte daal oor die hof. Advokaat van Hees staan op om sy betoog te lewer. Hy vra die hof om nie die opperste straf op te lê nie, maar om die gevoelens van Kommandant Fourie in ag te neem. Hy pleit dat die land se omstandighede in aanmerking geneem moet word, en dat die uitspraak sal geskied in die lig van Generaal Botha se berorep op die hele land om te vergewe en te vergeet. Die voorsitter wys ten slotte daarop dat albei beskuldigdes op die aanklag skuldig gepleit het en dat daar oor hul skuld geen twyfel kan wees nie. Wat die vonnis betref, mag dit nie in die openbaar geskied nie. Die beslissing  sal aan die Minsiter van Verdediging besorg word vir bekragtiging deur die Goewerneur-generaal-in-rade. Die hof verdaag. Jopie en Hannes word na hulle selle teruggeneem. Die groot onsekerheid oor wat met hulle gaan gebeur, begin nou in hul harte posvat. Vir ‘n klein rukkie, niks meer as tien minute nie, is sy vrou Suzy en sy moeder en vader toegelaat om Jopie in sy sel te besoek. In almal se harte is twyfel en onsekerheid, want niemand weet wat die vonnis gaan wees nie. Jopie hou vol dat wat hy gedoen het reg was, maar hy het spyt oor die leed wat hy Suzy en sy ouers aandoen. Die afskeid oorweldig almal. Die groot twyfelvraag bly: Sal hulle mekaar ooit weer sien?

Daardie Saterdagmiddag gaan verskeie petisies in Pretoria rond om die Minister van Verdediging te versoek om, indien die doodvonnis uitgespreek word, dit nie te voltrek nie. ‘n Deputasie word saamgestel om dit aan Generaal Smuts te oorhandig. Hulle verneem hy is nie in Pretoria nie maar op sy plaas by Irene. Hulle verkry toestemming om hom daar te gaan opsoek, maar die blanke bediende verseker hulle hy is nie tuis nie, maar het in die veld gaan stap. Die drie predikante, dr. D.F. Malan, H.S. Bosman en C.A. Neethling, wag tevergeefs op sy terugkoms.  ‘n Regeringsmotor hou agter die huis sitl. Wat die deputasie nie weet nie, is dat Generaal Smuts dringend na Pretoria ontbied is. Dat hy die deputasie ontwyk het, is seker, maar dit is ewe waar dat hy na Pretoria moes gaan om na die vonnisse van die Fouries om te sien. Tevergeefs gaan soek die deputasie hom eers by die Pretoria-klub waar hy in Pretoria tuisgaan; en toe by sy kantoor in die Unie-gebou. Dis al aand en dit is donker. Ure lank sit hulle en wag, maar al versekering wat hulle uiteindelik verkry nadat hulle vertrek het, was dat die Generaal ingestem het om die petisies die volgende oggend om nege-uur te ontvang…toe dit te laat sou wees. 

In die selle van die Polisiehoofkwartier sit Jopie en Hannes ook en wag. Dit word aand en die kerklok het reeds nege-uur geslaan. Sersant Kennedy, bevelvoerder van die stasie, sluit eers Hannes se sel oop en stap binne. Hy deel hom mee dat hy tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis is. Dan gaan hy na Jopie se sel. Hy lees aan hom voor: “Joseph Fourie, jy is gevonnis om môreoggend met dagbreek deur ‘n vuurpeleton tereggestel te word.” Jopie sê niks nie. Hy is oorbluf. Dit het hy nie verwag nie. Hy word toegelaat om sy predikant, ds. Neethling te sien, wat kort daarna saam met hom op ‘n vuil matras in die sel sit. Saam lees hulle uit die Woord van God; saam bid hulle. Jopie vra dat ds. Bosman moet kom om aan sy ouers en Suzy die vonnis te gaan meedeel en te sê dat hulle mekaar op aarde nooit weer sal sien nie. Hulle moet die nag saam met hom in gebed worstel. Jopie moet oorgeplaas word na die Sentrale Gevangenis in Potgieterstraat en word deur ds. Neethling vergesel. Hartverskeurend is die afskeid tussen hom en Hannes voor hy vertrek. 

In die gevangenis word hy toegelaat om briewe te skryf. Een is gerig aan sy dierbare ouers en Suzy. Dit spreek van diepe geloofsoortuiging en vertroosting aan hulle wat moet agterbly. “Zeg hun dat God is mijn Leidsman, mij doel was heilig.” ‘n Ander gaan aan die persone wat aan hom regshulp verleen het, dit getuig van diepe dankbaarheid. Daar is ook ‘n bitter brief aan Generaal Louis Botha: “U was mij ideaal als Afrikander, maar ik ben in u teleurgesteld.” Aan sy volk, “Getrouwe Afrikaander vrienden en vriendinnen”, is ook ‘n brief gerig. Hy skryf onder meer “Ik heb veel om u allen voor te bedanken, de boom die geplant is en met mijn bloed benat word zal opgroei tot een grote boom en het zal heerlijke vruchten voortbrengen. Wees getrouw aan u tradisies, wees getrouw aan uw volk, aan uw godsdienst en aan uw God…Skryft op mijn grafseen deze woorden: Voor God en Vaderland.”

Daar is nie meer skryfpapier nie. In die sakbybeltjie wat Suzy hom gegee het net voordat hy veld toe is, skryf hy sy laaste testament in diep godsdienstige woorde: “Eb Heer roept mij, mijn tijd die Hij mij op deze wereld gesckonken heb is voorby. Treurt niet over jij, mijn dood is voor een edel zaak, mijn laaste wil is dat mijn dierbare echtgenoote alles erft dat ik heb…Groete van Jopie.” Meer as een keer sou hy dit aan ds. Neethling herhaal dat God ‘n boom in die hart van die Afrikanervolk geplant het en “my bloed moet dit natmaak en dit sal heerlike vrug dra.” Die dag is aan die breek. Dit is sondagmôre, 19 Desember 1914. Die oggendstilte word verbreek as die tienmanvuurpeleton by die gevangenis inmasjeer. Jopie weet dit is tyd. Terwyl hy sy hand op sy bors lê, sê hy: “O, ek hoop tog hulle sal my nie in die gesig skiet nie. Hier is ‘n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls te ontvang.

Die dokter kom vra of hy nog vir hom iets kan doen, maar hy weier enige verdowings- of kalmeermiddele. Christus het daarsonder gesterf, hoekom nie ook hy nie? Ds. Neethling stel voor dat hy in die sel agterbly en vir hom bid as hulle hom uitneem, maar hy vra dat Dominee as sy vriend moet saamgaan. Die wagte kom in om hom te haal. In ‘n binnehof staan ‘n stoel gereed. Met vaste tred stap Jopie daarheen en neem plaas. Die offisier in bevel kom om hom te blindoek. Hy weier, maar as aan hom verduidelik word dat hy sonder ‘n blindoek die peleton se werk sal bemoeilik, willig hy in. Met ‘n stukkie kryt word op sy bors  oor sy hart ‘n kring getrek. En toe begin Jopie met ‘n vaste stem die gesang te sing: “Als wij de doodsvallei betreen, laat ons elke aardse vriend alleen…”

Die peleton kry op Engels die bevel: “Fire!”

In die binnehof is ‘n oorverdowerende lawaai. Jopie ruk agteruit en dan sak sy kop vooroor. Skielik is alles stil, aaglik stil. In Pretoria sing die volëls hulle oggendgesang, soos op Wildebeesthoek, waar Oupa, pa, Ma, Suzy en ander nog steeds bid. Aanvanklik is Jopie in die gevangeniswerf begrawe om twee dae later in die Nuwe kerkhof van Pretoria begrawe te word. Omdat daar by die familie groot twyfel was oor hy sy lyk behandel is, is herhaalde vertoë gerig om dit weer te besigtig. Eindelik stem Generaal Smuts in Oktober 1915 daartoe in. Die familie is tevrede en hy word in ‘n nuwe kis in dieselfde graf weer begrawe. In 1923 word sy lyk nog ‘n keer verskuif, die keer na die Ou kerkhof van Pretoria in die Helde-akker, waar ook President Paul Kruger ter ruste lê. Op sy grafsteen, soos op die monument wat in 1963 op Wildebeesthoek ter ere van Jopie opgerig is, staan, soos hy versoek het: Vir God en Vaderland.

M.C.E van Schoor

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Leopold Scholtz

ISBN 0 947 00606 0

http://www.myvolk.co.za/jopie-fourie-vir-god-en-vaderland.php

http://gelofteland.org/index.php/ons-geskiedenis/11-artikels/213-lewe-en-dood-van-jopie-fourie.html

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s