Ons mag nie vergeet nie

22 Oktober, 2014

Daardie bakens is langs die volkspad opgerig deur hulle wat hierdie land getem en beskaaf gemaak het, wat met sweet en gebed, ’n trek moes aanpak, met lewens moes betaal, die offers moes bring soos ’n klein Japie Greyling, tot by Jopie Fourie, Christiaan de Wet, MT Steyn en Paul Kruger  –  dit is maar enkeles van ’n galery van helde, en volksmanne wat die voorbeeld stel van moed, geloof en daad.

Van Bloedrivier, verby die Vredesverdrag van 1902, ja selfs 1994 is alles deel van ons volksgeskiedenis – en ons kinders moet dit ken en verstaan.

Ons moet ons kinders vertel van ’n Hans Strydom, van Sagmoedige Neelsie wat die mooiste Volkslied se woorde vir ons nagelaat het, ja, ook van dr. Verwoerd, en sy roemryke oorwinning oor Brittanje met die koms van ons Republiek, maar ook moet onthou word die daad van sy moordenaars….

Ons durf ons helde, die dapper stryders, die vroue van konsentrasiekampe, die vegters tydens die Grensoorlog, hulle almal, en ’n duisend ander, nie vergeet nie, want hulle het aan ons en die geslagte wat kom, die voorbeeld gestel van hoe vryheid van ’n volk verkry word, en hoe dit herwin word, en hoe ons dit weer verloor het….

Op hierdie volkspad was daar ook die tienduisende gewone volksgenote wat sonder roem hulle kant gebring het en slagoffers langs die pad was. Daarvan getuig die konsentrasiekampe, maar ook diegene wat wreed vermoor is en wat steeds sedert 1994 die slagoffers van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika is.

Dit wat ons nie mag vergeet nie, sluit ook in die Jan Smuts en die Louis Botha’s wat eers Boeregeneraal was en toe Boere-verraad gepleeg het. Ons moet ons kinders vertel van die Piet de Wets, die Roelf Meyers, die F W de Klerks en hulle wat nie vir volksvryheid was nie, maar eerder op die wêreldverhoog wou wees vir die vals roem en eer toegeken deur die wêreldburgers…..

Ons durf nie vergeet dat ons die nasate is van ’n genl. Koos de la Rey, van ’n Wally Grant, en van ’n president C R Swart nie…

Ons is die nasate van ’n roemryke volk, wat die wêreld se eerste hartoorplanting gedoen het, wat talle volksrepublieke opgerig het ter wille van volksvryheid, wat kernkrag kon ontwikkel, wat eerste was om brandstof uit steenkool te vervaardig, en wat dit alles kon doen omdat die God van Bloedrivier ons nooit verlaat het nie.

Ons mag dit nie vergeet nie, en ons mag nie dat dit van ons kinders weggehou word nie – hulle moet dit weet, en hulle moet die strydrosse van môre word wanneer die juk vir ons te swaar geword het.

Dit is ons hartsbegeerte, dat ons volk sy geskiedenis, en sy strewes vir die eeu wat voor ons is, nie sal versaak nie.

Die onreg wat tans teen ons gepleeg word, is soos ’n dolk wat mik na die hart van ons volk, en daarom moet ons steeds stry om ons vryheid te herwin.

Mag elke volksgenoot dit deel van sy lewe maak om die waarheid te bewaar vir die geslagte wat kom, want ons is ’n volk wat ’n trots het omdat ons vryheid vir elke volk gegun het, soos wat ons dit vir onsself opeis.

Daardie roeping om weer ’n soewerein, vrye volk te wees, mag nimmer vervaag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s