ʼn Kort begrip van ons laaste vyftig jaar

Hermann Giliomee

Prof. Hermann Giliomee, gerespekteerde historikus, het op 8 Oktober by ’n byeenkoms van AfriForum in Pretoria gepraat oor die foute wat tydens die vroeë jare negentig tydens die onderhandelingsproses gemaak is. Hier volg sy volledige toespraak.

1. Drie vereistes vir voortbestaan

Met die steun van Idasa het ek in 1989 ʼn konferensie in Bonn, Duitsland gereël waarheen akademici en joernaliste genooi is wat besig was om aan die onderskeie konflikte in Suid-Afrika, Israel en Noord-Ierland te werk. Ek het daarna die konferensieboek, The Elusive Search for Peace: South Africa, Northern Ireland and Israel (1989), saamgestel waarin hul bydraes verskyn het. In ʼn slothoofstuk het ek my indruk gegee van wat nodig is vir ʼn standhoudende skikking in enige een van die drie lande.

My boek, The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power (2012), wat julle [AfriForum] my gevra het om vandag te bespreek, is in ʼn sekere sin ʼn aanwending van die skema wat ek begin ontwikkel het in die konferensie van 1989 en die redigering van The Elusive Search for Peace.

Die skema lyk so:
(i) ʼn Beskermende Buitelandse Moondheid (BBM) wat ʼn waarborg bied in geval van ʼn historiese skikking en onderneem om dit af te dwing (finansiële sanksies indien een van die partye nie by die skikking hou nie) of aan te moedig (lidmaatskap van die Euromark, soos later aan Spanje beloof is indien dit ʼn demokrasie word). Die VSA speel hierdie rol in Israel en Westminster (Londen) in die geval van Noord-Ierland. Die Nasionale Party-regering het gekies om nie só ʼn BBM te betrek nie. In retrospek was dit ʼn flater om alleen te onderhandel. Dit is onmoontlik vir ʼn regering om orde te handhaaf en terselfdertyd doeltreffend mag in ʼn toekomstige bestel te beding en diegene in die geledere van die onderhandelingsvennoot vas te vat wat ʼn kompromis ondermyn.

(ii) ʼn Ideologie by die groep wie se mag uitgedaag word wat die ander kant se ideologie genoegsaam kan “akkommodeer” vir ʼn skikking, maar tog kernwaardes behou wat die eie kultuur na die oorgang tot ʼn nuwe bedeling kan onderskraag. In Suid-Afrika was Afrikanernasionalisme aanvanklik ʼn legitieme ideologie; apartheid was ʼn sekondêre, “operasionele” ideologie. Van die middel 1960’s af, het apartheid as ideologie oorheersend geword en dit het nasionalisme besoedel. Toe dit in duie stort, het dit nasionalisme saam ondertoe getrek. Maar: minderhede in SA kan moeilik die mas opkom sonder ʼn ideologie en sonder ʼn grondwet wat vir die land geskik is. Nie-rassigheid is heeltemal gediskrediteer deur die ANC self en so ook liberale demokrasie. Pierre Vandenberghe in The Liberal Dilemma (1979) waarsku die demokrasie in Afrika moet as die “groot alibi van Afrika-nasionalisme” beskou word. In die algemeen kan die Afrika-demokrasieë nie as liberale demokrasieë beskryf word nie. Ons Grondwet is besig om ʼn kwynende vyeblaar te word. ʼn Minderheidstaal soos Afrikaans kan net gehandhaaf word indien dit ʼn belangrike aspek van die sosiale identiteit van ʼn groot deel van sy sprekers is.

(iii) Versiende leiers in staat om noodsaaklike en selfs ongewilde kompromieë aan te gaan. ʼn Mens kan vandag hierby byvoeg: leiers moet aan hul volgelinge genoeg inligting verskaf om ʼn ingeligte en oorwoë besluit te neem wanneer hulle gevra word om groot leiersbesluite te bekragtig. Voorbeelde: Lincoln, De Gaulle, Churchill.

Kom ons kyk kortliks na die verskillende Afrikaner-leiers binne die raamwerk hierbo uitgespel.

HF Verwoerd se leierskap 1958 – 1966
Wat Verwoerd wou doen:
(a) Wil die Suid-Afrikaanse ekonomie moderniseer deur massa onderwys vir swartes te verskaf, maar sonder dat dit ʼn radikaliserende politieke uitwerking op hulle sou hê. Dit is ʼn vaste patroon: hoe verder kinders op skool in standerds vorder, hoe meer radikaal raak hulle as hulle deel van ʼn onderworpe gemeenskap. Verwoerd kyk ook na die belastingbetalers. Volgens RFA Hoernlé, die voorste liberale denker in die land, was daar in die 1940’s baie min ondersteuning onder blanke belastingbetalers dat die staat die finansiële verantwoordelikheid vir swart onderwys van die kerke oorneem.
(b) Wil veilige politieke uitlaatkleppe skep vir swartes wat die hoër standerds bereik:
Verwoerd bied in 1950 volle selfregering in die swart woonbuurte aan. Swartes moes die geleentheid kry om al die werksgeleenthede self te benut en moes dus die soort onderwys kry wat hulle in staat sou stel om “ʼn volle lewe van werk en diens te verrig”. Die lede van die ontbonde NRC (onder wie ANC-leiers) het geweier: hulle wou direkte verteenwoordiging op provinsiale en nasionale vlak saam met wit mense hê. Wat sou gebeur het as hulle soos die onafhanklike vakbonde in 1979 die “halwe brood” aangegryp het? Dalk kon SA die uitmergelende stryd van die jare 1960 tot 1994 vermy het.

(c) Na swart leiers plaaslike selfbestuur weier, word die NP-beleid dat swartes slegs verteenwoordiging in tuislande kry: op die lang duur was dit fataal vir wittes. Die Nasionale Party (NP) wen geen swart of buitelandse bondgenote met tuislandbeleid nie, maar ANC wen Sowjet-Unie met sy steun vir “anti-kolonialisme”.

Die volgende punte was die swakhede van die Nasionale Party:

(i) ʼn Enkele persoon (Verwoerd) verteenwoordig die idee van apartheid. Maar daar was geen plan nie. Niemand ná hom kan die beleid oortuigend uitspel of in die praktyk in werking stel nie. Sy idee berus op foutiewe demografiese projeksies: daar was in 2000 uiteindelik 15 miljoen meer swartes as wat Verwoerd in die vroeë 1950’s verwag het.

(ii) Die party se onvermoë in meer as 40 jaar om belangrike aanpassing te maak. Die volgende het al meer nodig geraak:
• vrywillige assosiasie van mense en uitfasering van rasseklassifikasie (laasgenoemde eers in 1990’s);
• inlywing van bruin mense (vgl. Israel se relatief liberale hantering van die Arabiese-Israeli’s);
• afwenteling van mag en “magsdeling”. PW Botha verwerp in 1982 die voorstel van Buthelezi-kommissie vir magsdeling tussen KwaZulu-tuisland en Natal-provinsie;.
• swart plaaslike besture met voldoende hulpbronne.

Aan die ander kant was daar ʼn hoë ekonomiese groei tot in die 1970’s. Daarsonder sou Suid-Afrika ver agter gebly het.
John Vorster se leierskap 1966 – 1978
Vorster tot De Klerk in 1989 het almal aan Verwoerd se idee geglo, maar het geen ander plan beraam of aanpassing gemaak nie.

In 2010 was Derek Keyes se woorde aan my: “Tuislande was van nul en gener waarde vir die Suid-Afrikaanse staat .”

Vorster glo indien hy swartes burgerskap van tuislande sou gee, sal hy hulle aanspraak op burgerskap en stemreg in SA afsny. Dít was ʼn groot en dwase dwaling.

Wit leiers het teen die 1970’s geglo dat internasionale kommuniste die grootste gevaar vir blankes inhou, drie keer groter as swart nasionalisme. Dit was die produk van massiewe self-misleiding. En gevolglik die fatale betrokkenheid by konflik in Angola vanweë obsessie om kommunisme te stuit.

Die kiesers was glad nie oor die oorlog ingelig nie. Een of twee politieke leiers se koppe moes hieroor gewaai het.
PW Botha se leierskap 1978 – 1989
Wiehahn-verslag en hervorming: Arbeidshervormings word wyd geloof, maar daar was min besef van groot historiese les: om vakbondregte voor politieke regte te gee is erg destabiliserend en sal ʼn land lank kortwiek in sy ekonomiese groei. Dit strem die ekonomie nou nog.

Botha sou egter nie die fout begaan wat in die 1990’s begaan is nie, naamlik om te ontwapen voor onderhandel is.

Wiehahn-hervormings is baie aangehelp deur die sterk sakeleier, Wim de Villiers (van Gencor) wat deur sowel PW Botha as Fanie Botha, die betrokke minister, vertrou is.

Die politieke onderhandelings van die 1990’s word gekenmerk deur die afwesigheid van ʼn soortgelyke figuur. Ook die afwesigheid van kenners van Afrika en van kiesstelsels, maar die belangrikste van alles: die afwesigheid van ʼn kenner van die strategieë en tegnieke van onderhandelings. Iemand soos Johan Liebenberg, onderhandelaar van die Kamer van Mynwese in die 1980’s wat dikwels met Cyril Ramaphosa kragte gemeet het.

Nasionale Party-onderhandelaars moes van meet af aan leer. Soos Roelf Meyer aan die joernalis Patti Waldmeir gesê het: “Dis nie iets wat jy in handboeke leer nie.” Moeilik om te begryp waarom FW de Klerk nie buite die koukus wou gaan om top onderhandelaars en top strateë te kry nie.
FW de Klerk se leierskap 1989 – 1994
De Klerk wou nie die militêres met hul kennis van teen-rewolusionêre oorlogvoering as raadgewers gebruik nie. Hy het gou die militêres vervreem deur die Gesamentlike Bestuurstelsel, wat die opstand in die 1980’s effektief onder beheer gebring het, op die kantlyn te skuif. Onstabiliteit in die townships van 1990 tot 1994 is nie onder beheer gebring nie, en die ANC het beheer oor die townships verwerf. Dit is bitter moeilik om só te onderhandel.

De Klerk het van die eerste maande as president militêre uitgawes gesny en die periode van diensplig met die helfte verminder. Hy wou daarmee die sein gee dat die staat nie wil veg nie. “Everything was staked on getting a politcal settlement within 1 to 3 years.” Daar was geen terugvalposisie nie.

Asimmetriese konflikte: Suid-Afrika was hiervan ʼn voorbeeld. Ook Vietnam, Irak en Afghanistan. Die een kant het die militêre oorhand en die ander kant het die morele oorhand (en het sterk steun binne die geledere van sy opponent (die elite in die wit gemeenskap in die geval van Suid-Afrika).

Die militêr-sterker party se wil om te veg, kwyn en die siening kry in hul geledere oorhand dat omdat stryd immoreel is, is dit ook ʼn verlore stryd. Uiteindelik het die VSA die wil verloor om aan te hou veg. Dit was ook die patroon in talle anti-koloniale stryde. Ook in Suid-Afrika.

Dit is veral ook waar van akademici in Suid-Afrika in die 1980’s. Die meer rasionele faksie onder regses in 1980’s het ʼn veel meer realistiese verwagting gehad van hoe die land vandag onder die ANC-bewind sou lyk, as die meeste akademici in die fakulteite van sosiale wetenskappe gedurende die 1980’s (sien meningsopname onder plattelandse blankes onderneem deur Pierre Hugo in laat 1980’s).

Daar was by akademici wat die ANC gesteun het, ʼn groot dosis romantiek saam met die brandende begeerte om van die skuldlas van apartheid ontslae te raak. Hierdie akademici wou “aan die regte kant van die geskiedenis wees”. Dit is iets wat enige persoon wat iets van die geskiedenis weet, met groot agterdog moet bejeën.

Die groot les van ons tyd is deur Vernon Bogdanor, politieke wetenskaplike van Oxford geformuleer: “Divided societies that have attained stability have all adopted a model of government whose essence is the sharing of power. Some kind of power-sharing has been a feature of governments in all societies that have successfully overcome their internal divisions.” (Daedalus, Spring 1997)

Die Nasionale Party onder De Klerk streef ook hierna, maar gooi tou op in September 1992 met die Record of Understanding. Die veel groter behoefte by die NP-leierskap was om met ʼn skikking morele respek te probeer terugwen.

Die NP het sy ideologie verloor. Die party het toegegee aan die ANC se definisie van die stryd dat dit suiwer om die immorele beleid van apartheid gaan en dat ʼn gewone meerderheidsregering normaliteit (en moraliteit) sal herstel. Die party het nie probeer om die definisie van die stryd om te draai en daarop te wys dat dit oor die totstandkoming van ʼn doeltreffende staat handel wat vir stabiliteit en werksgeleenthede kan sorg nie.

Die NP het sy band met die kiesers verbreek (ʼn mens kan dit ook sterker stel). Die 1992 referendum het bloot oor die proses gehandel; die NP hou nie sy belofte dat hy ʼn tweede referendum sal hou as die onderhandelde grondwet te ver afwyk van sy beleid wat hy in September 1991 aanvaar het nie (ʼn roterende presidensie en ʼn tweede huis waarin minderhede oorverteenwoordig sou wees en wetgewing sou kon blokkeer wat hulle benadeel). Uiteindelik was daar geen magsdeling en wigte en teenwigte soos die NP beloof het nie.

En uiteindelik was daar geen doeltreffende beskerming vir minderhede nie. Daar was die Grondwet en Grondwethof, maar teen 2009 het die ANC die stryd gewen om die meerheid ANC-gesindes in die Regterlike Dienskommissie te kry, wat die aanbevelings oor die aanstelling van regters by die president maak. Volgens een goedgeplaaste bron is daar nou ʼn 16 teen 7 ANC-gesinde meerderheid.

ʼn Mens weet nie tans meer of diskriminasie teen minderhede nog diskriminasie is en of die nasionalisasie van grond nog nasionalisasie is nie.

2. Huidige posisie Afrikaanse mense

Daar is ʼn algehele afwesigheid van leiers onder Afrikaanse mense en ʼn afwesigheid van ideologie wat lei tot ʼn verswakkende staat, maar daar is steeds baie sosiale kapitaal met organisasies soos die Solidariteit Beweging en private kanale soos kykNET wat hulself vir Afrikaanse mense beywer. Die kanse vir bondgenootskappe is ook baie sterker as tien jaar gelede.

3. Paraatheid

Lees, dink, skryf, leer en onthou dat sonder ʼn sterk historiese besef en ʼn aanvaarbare ideologie, kan geen minderheid homself handhaaf nie.

Hoe lyk só ʼn ideologie?

Afrikaners (en daarmee word bedoel almal wat hulle met die groep identifiseer) vorm ʼn nasionale minderheid (soos Vlaminge of Jode in die VSA vandag), maar nie die soort minderheid wat eens gestigmatiseer was soos die sigeuners of swart mense in die Amerikaanse Suide nie. ʼn Nasionale minderheid is ʼn politieke kategorie, een wat sterk deur sy kultuur gerig word. Mense neem verantwoordelikheid vir hul taal en kultuur.

In teenstelling hiermee beklemtoon liberalisme die individu en sy materiële belange, terwyl kommunistiese klassebelange voortbestaan.

Nasionale minderhede wil nie eksklusief of dominerend wees nie. Dit soek vreedsame saambestaan in ʼn nasie-staat deur die onderskrywing van ʼn (liberale) grondwet.

In Europa word toenemend besef dat nasionalisme nie noodwendig die probleem is nie, maar eerder die miskenning van nasionale minderhede se regte. Sien veral die werk van Tom Nairn, wat eens een van die voorste sosialistiese teoretici in Brittanje was, in sy boek, The Break-Up of Britain (1981).

Minderhede in Suid-Afrika het te veel potensiaal en energie om onderdruk te word en onder druk te bly.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s