Dié geweld gestook vir eie gewin

Plaaswerkers se gewelddadige protesoptrede by De Doorns in die Hexriviervallei toon onrusbarende ooreenkomste met die mynstaking in Augustus by Marikana in Noordwes.

Die arbeidsonrus by Marikana het in ’n oogwink na ander platinum- en goudprodusente versprei, asook na ­Toyota en die vragmotorbedryf toe bestuurders landwyd vragmotors uitgebrand en nie-stakers aangerand het.

Die onrus by De Doorns dreig nou ook om na ander streke in die Wes-Kaap oor te spoel en die vakverbond Cosatu het reeds gewaarsku daar is ’n wesenlike gevaar dat die stakings na plase in ander provinsies kan uitkring.

Net soos met die mynwerkers word lone en haglike lewensomstandighede voorgehou as die hoofoorsake van plaaswerkers se ongelukkigheid. En net soos in die mynbedryf en tydens die vragmotorstaking word geweldpleging as bedingingsinstrument ingespan. Wingerde is afgebrand, nie-stakers geïntimideer en boere gedreig.

Plaaswerkers se eis dat hul lone moet verdubbel omdat hulle nie kan oorleef op die vereiste minimum loon vir werkers in die landbousektor nie, stem ooreen met mynwerkers se eise vir ’n ­living wage of bestaansloon.

Dit is duidelik hier is groot moeilikheid op hande.

Indien dit waar is dat boere in die Hexriviervallei plaaswerkers uitbuit en swak behandel, hoekom het die departement van arbeid nie lankal ingegryp nie?

Terselfdertyd moet ’n mens vra wat Cosatu gedoen het om plaaswerkers se ellende te ontbloot en verlig. Dieselfde geld politici soos Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, en die DA se Gerrit van Rensburg, LUR vir landbou. Voorts was die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se besoek aan De Doorns die afgelope Donderdag ook reaktief en hopeloos te laat. Zille is met klippe bestook en in ’n pantservoertuig weggeneem.
’n Mens sou hoop politici het ’n paar lesse by Marikana geleer.

Maar nee, die uitgeslape Fransman het De Doorns misbruik om politieke munt te slaan. Pleks van die gemoedere kalmeer, het Fransman in gekruide taal vertel hoe boere se gal bewerk moet word. Boonop het hy onderneem om ’n ANC-optog na die Wes-Kaapse wetgewer te reël indien die boere nie aan plaaswerkers se eise voldoen nie.

Fransman is besig met ’n gevaarlike politieke spel wat niemand behalwe homself bevoordeel nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s