Branders: ‘n Paradys se skyn verdwyn

Deur: Ian Theron

Huppedie-stok, huppedie-stok waggel die ou man teerstraat-langs op Vermont se kuspad. Sy bietjie hare is erg deurmekaar, sy wange kon al lankal met ‘n Gillette-vierlem bygekom word, sy wenkbroue, daarenteen, kort ‘n tweezer.

Sy gesig lyk soos ‘n Landrover-ekspedisie iewers in Afrika – die ene spore. En sy waterige blou oë kon net sowel twee oasisse in die bloedige woestyn wees.

Sy regterbeen is gespalk, lyk dit, broekspyp opgerol. Met vuilerige verbande oraloor om als in plek te hou. Vandaar die lang stok waarmee hy voort sukkel. En wat hy goedsmoeds oplig vir elke motor wat verby ry.

Dit lyk asof hy al sy klere by die Rotariërs se winkeltjie op Hermanus gekoop het – oud en op en muf en geskif. Die baadjie is te groot, die hemp te klein. En die broek sak alewig oor sy boude af.

By die Jan Rabie-getypoel skop hy sy Liewe Jesus-plakkies uit. Hy sukkel-sukkel die vlak waters binne – gebukkend, bespiedend, loer-loer hier, vat-vat daar. Met ‘n PnP-plastieksak in die een hand gaar die ander hand lekseltjies lewende skulpies op, stukkies aas, ‘n swartmossel of twee van die rotse af. Selfs ‘n bietjie seewier en ‘n stukkie seebamboes beland in die sak.

Uit sy baadjiesak kom ‘n klein visnetjie. Hy spoel dit so oor die poele in die hoop om dalk ‘n baba-vissie te vang. Woerts-warts! Vergeefs! Tot hy hier in die agterstrate van die ruwe rotse iets kry wat lyk soos ‘n miniatuur seekatjie wat pas die water en die lig gesien het. Vinnig in die plastieksak!

Met die gety wat inkom, wikkel die oom hom met sy stok terug strand toe. Sy asem jaag, sy keel hyg, sy oë is nou rooi soos die sout see hom gevang het. Maar daar is nie tyd om tot ruste te kom nie.

Soos met die gesukkel met die bou van die ark probeer hy op sy knieë kom. Stadig, stadig, tot hy plat sit. Met sy hande, ou hande wat die littekens dra van harde werk en oorwerk en werk vir niks nie, begin hy die oppervlakkige seesand wegdolwe. Daai vingers werk al dieper die sand in, skraap ‘n groter plek oop tot hy by Salomo se diamante kom. Witmossels. Dié grootste mannas-vir-die-siel beland ook in die plastieksak.

Die ou man steier en stamper orent. Sy PnP-sak gedy, propvol see-goetertjies. Tussen sy ongeskeerdheid gee hy so ‘n smaailtjie en huppedie-stok, huppedie-stok terug teerstraat toe.

Ek kon nie anders nie. Ek gee hom ‘n lift. Waarnatoe oom? Paradise Park.

Nou, vir die wetendes, alwetendes, spotters en neusoptrekkers: Paradise Park aan die buitewyke van Hermanus is vir baie mense ‘n veilige hawe. ‘n Blyplek vir mense wat net-nie-meer-kan-nie. Daar word meer asems uitgeblaas as ingeasem. Maar dis nie nét ‘n sogenaamde plakker-halte nie. Kyk ‘n bietjie rond en jy sien die blink metaallywe van Mercs en BM’s en viertrek-gevaartes oral kop uitsteek.

So kom ons aan by oom se outydse karavaan plus aangelapte houtkonstruksies om die lewe draagliker te maak. Daar staan nie eens ‘n fiets nie. Ek sê niks. Ek ervaar net.

“Ek moet seker met die sop begin”, sê die oom, “anders word die seekos laf.”

Maar oom is nie alleen nie. Ek hoor iemand iewers hoes en mompel en roep en woel. “Pappa! Waar is jy?”

My vrou, sê die oom. Sy is baie siek. Sy kan nie meer opkom nie. Maar ek het nie meer medies nie, nog minder geld om haar na die provinsiale hospitaal toe te vat. Ek het nie eens ‘n voertuig nie, ek het net die stok, solat ek darem nog gestap kan kry.

Hy sukkel-sukkel tot agter ‘n stuk laken wat klaarblyklik die “slaapkamer” van die woonkamer skei. Ek hoor hom paai, mooi praat, soebat, sus, en “moenie worry nie, ek bring nou-nou vir mamma iets te ete”.

Hy gooi sy dag se vangs in die sink en spoel en spoel dit onder loopwater totdat hy dink al die sanderigheid is af drein toe. Pot met water en sout op die Cadac, gas op hoog totdat die water borrel. Dan kom die dag se opbrengs, skulpe en al, ingedons en deksel toe.

Ons gaan sit uiteindelik op die verslete karavaan-bankies. Oom, vra ek, van waar?

Transvaal, sê hy, ek was, hoe sal hulle nou sê, ‘n grootkop by ‘n mynmaatskappy. Siviele ingenieur. Dis my nering, dis waarvoor ek op universiteit was. Dis waarvoor ek goed betaal was. Ek was selfs op die board of directors, ‘n gesiene man. Lekker gelewe in Waterkloof – swembad, stoomkamer, jakoetsie, mini-gym, jy noem dit. Ek en my vrou was royalty.

Toe knak die myn. Bo-gronds word onder-gronds. En die stof sit in die oë van die directors, sê die oom.

“Die geld en bates is opgeslurp. Ons voorsitter is land-uit. Die bietjie wat oorgebly het, is verdeel in baba-porsies waarmee jy nie eens ‘n goudvis in ‘n glasbak mee sou kon voer nie. Ons moes alles los, verkoop, verkwansel, weggee. Toe’s ons maar in ‘n second hand stasiewa af Kaap toe met dít wat in die wêntjie kon pas. Dié ou Datsun staan nou nog op Touwsrivier waar hy bly vassteek het.”

Niemand wou hom in die Kaap aanstel nie. Te oud, te wit, te manlik. Te bestrede binne die hoog-geagte Suid-Afrikaanse Grondwet wat wêreldwyd aanklank vind omdat dit bulderend verklaar “geen diskriminasie nie”. Godsdiensvryheid is OK, gays mag trou, twee mans mag kinders aanneem, pa’s mag toesig oor hul kinders kry. Maar kom dit by werk, hang die “Closed” bordjie voor jou neus.

Die oom rem orent, trippel-trippel gasbrander  toe en gee sy brousel ‘n roer. “Die skulpe is mooi oop,” sê hy en sif die see-goetertjies uit die water. “Nou vir oopbreek en prut.”

Hy sleep nader: kerriepoeier, ‘n titseltjie borrie, ‘n kaneelstokkie, twee olyfblare, een naeltjie en sout en swart peper. Hy kerf ‘n ui, twee aartappels en ‘n geelwortel met sy vissersmes asof hy aan ‘n kosprogram op TV deelneem. Hy kommandeer ‘n bietjie tamatie-puree op en gryp ‘n klompie koljander van die potplantjie op die gehawende karavaan-tafeltjie af. Jy wil nog vra of jy kan help, toe sit hy sy laaste bietjie rys op die ander gasstofie en sê “jy kan saam eet as jy wil”.

Ek wil nie eintlik nie. Ek was maar net die oom se taxi-drywer, uit vrye wil. Maar iets binne-in my sê tog: jy wil. So, ek bly vir ete. Willens en wetens.

Die oom se sop word toe uiteindelik ‘n seekos-broth. ‘n Mallemeule van snaakse geure en teksture en hopelik heilsaamheid. Hy verdwyn agter die laken met ‘n bakkie van sy toorkooksel. Ek hoor hom die tante voer. Slurpie vir slurpie. Ek hoor hom saggies praat, maar die woorde haal nie my gehoor nie. Ek hoor ‘n snik, iemand wat huil, maar ek sit bankvas, roer nie ‘n voet nie.

Tot hy terugkom. “Kan ek opskep?”

Ek knik. My tong is droog, my woorde is maan toe.

“Snaaks,” sê die oom, “dat ons twee nou so op mekaar afgekom het. Dis nou al maande laas dat enigiemand met my gepraat het. Ek lyk seker te sleg en afgeskryf, net nog ‘n ou bum waaroor hulle kan ry en nie eens hoef stil te hou nie. Who cares?”

Ek gee om, oom. Maak nie saak wat jy was of is of nog sal wees nie, ek gee om. As Zuma nie sy act together kan kry met ware omgee nie, dan sal ek. Punt.

Met die kar toe loop, sien ek teen die karavaan se muur: cum laude vir dit en dat en nog wat. Nog ‘n verwerping van ‘n sogenaamde misbaksel omdat hy nie binne ‘n sekere boksie gepas het nie?

My tong is steeds droog, my woorde steeds maan toe. My mond ruik erg na see.

Ek ry terug na Jan Rabie se getypoel. Kaalvoet in die sand, met die golfies wat sprikkel om my tone. Salig! Tot ‘n groot brander kom en my broek en T-hemp raps met water en skuim.

Dan sien ek weer die oom met sy stok – knock-knock – soekende tussen die moontlike eetbares heen. En ek gaan huis toe met ‘n kop vol distels – gedagtes van dit wat was en nooit meer sal wees nie.

Tuis, die oggend, begin ek met ‘n skrik-vir-niks oxtail-bredie met baie vleis en sommer murgbene ook. En ek doen boontjies-met-aartappels-en-uie-en-knoffel en goud-gebraaide soet geelwortels met ‘n bietjie basil en ‘n lekker groen slaai on the side. Ek gooi my ouma se lappieskombers op die agtersitplek van my karretjie met ‘n stewige kussing in die hoek. Vandag gaan ek hierdie ex-CEO treat, sy vrou hospitaal toe vat en hulle daarna behoorlik laat eet – soos dit hoort.

By die oom se karavaan in Paradise Park staan sy stok buite teen die deur. Ek klop, maak oop, stap die skemerte binne, sien ‘n geraamte van ‘n man gebukkend oor die half stukkende tafeltjie lê.

Oom?

Sy’s nie meer hier in die paradys nie, sê die oom byna onhoorbaar. Sy’s nou by Doves, hulle het haar vieruur vanoggend kom haal.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s