Marikana en menseregte

Dan Roodt

Die Marikana-massamoord, soos dit reeds bekendstaan, is wêreldnuus. In weerwil van dae lange waarskuwing en inligting wat die ANC-bewind en sy toenemend korrupte en gewelddadige polisiediens tot sy beskikking gehad het, is daar geen werklike plan opgestel om die skare stakende mynwerkers sonder lewensverlies te beheer nie.

Die afskuwelike voorval is die gevolg van die ANC se terroristiese etos en moet met die Kerkstraatbom, halssnoermoorde en ander gruweldade vergelyk word wat die beweging in die verlede reeds gepleeg het.

Marikana is insgelyks bloot ‘n skielike en sigbare manifestasie van die algemene menseregtekrisis wat reeds in die sogenaamde “Nuwe Suid-Afrika” heers. Ongeveer ‘n halfmiljoen mense is reeds sedert 1994 vermoor. Oor die afgelope twee weke was daar 17 slagoffers van plaasaanvalle.

Die Orwelliaanse ironie is dat Suid-Afrika oor ‘n “modelgrondwet” en ‘n Menseregtekommissie beskik. Die paradoks wat ons moet begryp is dat die retoriek rondom menseregte in die Nuwe Suid-Afrika juis die minagting vir menselewens verdoesel wat ‘n groep linkse en dikwels kommunistiese revolusionêre koester.

Die Nuwe Suid-Afrika is die wêreld se eerste sadistiese samelewing. Die Markies de Sade was ‘n Franse edelman wat tydens die Franse revolusie en sy aanhouding in die Bastille-gevangenis hom ‘n wêreld sonder grense verbeel het waarin die heersers se luste sou botvier en waar hulle ook plesier uit moord en die foltering van hul slagoffers sou put.

Min sou die “Heilige Markies” soos daar ook ironies na hom verwys is, kon vermoed dat ‘n sadistiese samelewing eendag in ons tyd aan die suidpunt van Afrika tot stand sou kom.

In die Nuwe Suid-Afrika word kinders en selfs babas verkrag. In staatshospitale word pasiënte gelos om dood te gaan. Feitlik elke week vind kleiner massamoorde plaas as hele gesinne op die gruwelikste wyses denkbaar gefolter en tereggestel word. Soos elders in Afrika, speel afkoms en etnisiteit, asook ras, dikwels ‘n rol by die keuse van slagoffers.

Afrikaners, asook vreemdelinge uit die res van Afrika, word deur die ANC se ondersteuners gehaat en word daarom die voorwerpe vir haatmisdade in die land wat al die vorm van ‘n roetineverskynsel aangeneem het.

Die verantwoordelikheid van die ANC-bewind teenoor die Marikana-slagoffers, asook teenoor elke ander slagoffer in ons land is volkome. Terwyl elke beskaafde land ter wêreld belê in opleiding, toerusting en inligting om skarebeheer met die minimum geweld en lewensverlies toe te pas, het ons bloedbeluste heersers hul polisie met skerppuntammunisie en outmatiese wapens afgevaardig om ‘n klomp baie emosionele mynwerkers op Marikana te gaan konfronteer.

Die uitslag was voorspelbaar. Zuma se vrome woorde oor “tragiese lewensverlies” lei niemand om die bos oor die ware boosheid wat in die boesem van hierdie barbaarse bewind tier nie.

Soos die antieke god Baäl, vereis die ANC sy menslike offerandes om sy mag oor ons, sy slawe, te bevestig.

Vyf jaar gelede al het ons by PRAAG uitgeroep: “Genoeg is genoeg!” Wanneer gaan ons dié slagspreuk ter harte neem om van dié skrikbewind ontslae te raak en ‘n regering te vestig vir wie menseregte nie bloot ‘n wrange grap is nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s