Apartheid: Was dit dan net boos?

Deur : Hermann ­Gilio­mee

Baie politici en kommentators beskou apartheid deesdae as ’n ideologie wat uniek boos en veel meer verdrukkend was as die segregasiebeleid van voor 1948.

Soos die joernalis Piet Cillié dit in 1985 al gestel het, word die indruk gewek van Suid-Afrika as ’n mooi saamlewende, veelrassige gemeenskap wat deur diktatoriale NP-regerings verdeel en gefragmenteer is en sodoende verhinder is “om die vriendskaplike betrekkinge te ontwikkel waarheen hy op pad was”.

Volgens hierdie siening van die geskiedenis was die land ná 1948 op ’n lang ekonomiese, politieke en maatskaplike afdraande pad waarvan die agteruitgang eers in 1990 gestuit is.

Soos Cillié dink ek dit is ’n heeltemal verwronge begrip van die geskiedenis.

Hierin word ons ondersteun deur die liberale filosoof Alfred Hoernlé (wat in 1945 oorlede is) as hy skryf: “[There] is a dominant urge towards segregation, which has moulded the structure of South African society and made it what it now is.”

Die Britse historikus Herbert Butterfield waarsku tereg dat as ons ’n oordeel oor die geskiedenis probeer vel ooreenkomstig hedendaagse morele oortuigings, ons niks anders as ’n reuse-optiese illusie skep nie.

Om apartheid te verstaan, moet ons dit dus oorweeg in die lig van hoe mense dit beskou het tussen die jare 1948 en 1958, toe dié beleid ingestel is.

In uiterste gevalle word apartheid deesdae selfs vergelyk met die uitwissing van Joodse gemeenskappe in Europa deur Nazi-Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die NP se apartheidsmodel was egter geskoei op die van die suidelike Amerikaanse deelstate waar segregasie teen die 1950’s nog sterk toegepas is, en nie Nazi-Duitsland nie.

In dié konteks is dit belangrik om te onthou dat “gemengde huwelike” in 1961, die jaar toe pres. Barack Obama se ma met ’n swart man van Kenia in die huwelik getree het, nog onwettig was in 30 van die VSA se 50 deelstate. Tien jaar later, in 1971, het Louisiana ’n wet aanvaar wat bepaal dat ’n mens met een swart voorouer uit 32 as swart geklassifiseer moet word.

Apartheid was ’n uitloper van ’n segrasiebeleid wat reeds sedert die Anglo-Boereoorlog as regeringsbeleid gevestig was en dus geensins radikaal nuut nie.

Dit wil nie sê dat die NP se apartheidsbeleid wel in bepaalde opsigte duidelik verskil het van die segregasie wat dit voorafgegaan het nie.

Vóór 1948 het opeenvolgende regerings swart “reservate” as ’n bykomende deel van die landsadministrasie beskou en swart mense se reg op ’n baie beperkte vorm van politieke verteenwoordiging erken.

Die NP het ook verder gegaan in sy segregasiebeleid deur sekere vorms van skeiding en diskriminasie tussen wit en swart ook op sosiale verkeer tussen wit en bruin, asook tussen wit en Indiër van toepassing te maak.

Die vernaamste hiervan was die afskaffing van bruin stemreg, die opdwing van aparte woongebiede en die klassifikasie van mense in bepaalde groepe. Die paswette, wat teen 1948 reeds bestaan het, is daarna veel strenger op swart mense toegepas.

Die oorheersing van ander bevolkingsgroepe was dus ná 1948 strawwer en meer stelselmatig, maar nie wesenlik anders as voorheen nie.

Wat die ekonomie betref, word die aanspraak soms gemaak dat die land sonder apartheid vinniger sou kon gegroei het as die 4,5% per jaar waarmee dit tussen 1948 en 1981 gegroei het.

Teoreties is dit seker moontlik, maar net as beleggers, binnelands en buitelands, daarvan oortuig was dat die land stabiel sou bly.

In die apartheidstyd het baie beleggers gemeen die NP se beleidsraamwerk is voordelig vir groei. Hulle het dieselfde geglo van Botswana, wat ná onafhanklikwording ’n konserwatiewe ekonomiese en maatskaplike beleid gevolg het.

In sy outobiografie beskryf Nelson Mandela die Vryheidsmanifes as ’n revolusionêre dokument wat nie sonder ’n “radikale verandering” aan die ekonomiese en politieke strukture ingestel sou kon word nie. So ’n radikale ommekeer sou waarskynlik ’n groot uittog van beleggers tot gevolg gehad het – die teenoorgestelde as wat die apartheidsregering vermag het.

Maar wat sou gebeur het as die Verenigde Party (VP) nie die 1948-verkiesing verloor het nie? Sou ’n meer liberale beleid van ’n nie-rassige gekwalifiseerde stem (aan mense met ’n sekere opvoedingsvlak of vaste eiendom van ’n sekere waarde) meer suksesvol gewees het?

Liberale van daardie era het geargumenteer dat so ’n stelsel sou lei tot ’n meer gematigde politieke klimaat en dat gekwalifiseerde swart kiesers uiteindelik deur persoonlike belange, eerder as rasse- of etniese identiteit, gelei sou word wanneer hulle stem. Daar is egter geen voorbeeld van enige veelrassige land waar dinge só gewerk het nie.

In Suid-Afrika sou ’n gekwalifiseerde stemreg waarskynlik nie stabiliteit gebring het nie. Die vlak waarop swart mense vir stemreg kwalifiseer, sou waarskynlik altyd hoogs omstrede gebly het en spanning tussen wit gemeenskappe net vererger het.

As die vlak waarop mense vir stemreg kwalifiseer te vinnig verlaag is, sou daar heel waarskynlik gou ’n regering aan die bewind gekom het wat ’n vorm van “staatskapitalisme” of sosialisme probeer instel het, met dodelike ekonomiese gevolge.

Wat Suid-Afrika ná 1948 gekry het, was natuurlik nie sosialisme of ’n liberale demokrasie nie, maar apartheid.

Daarmee saam het die NP-regering ’n konserwatiewe ekonomiese beleid gehandhaaf wat die grondslag gelê het vir bestendige ekonomiese groei. Hy het begrotingsoorskotte gebruik om skuld af te betaal en buitensporige looneise van wit werkers verwerp.

Hoewel dr. H.F. Verwoerd se Bantoe-onderwys tereg gekritiseer is omdat die besteding aan wit en swart so ongelyk was, het swart geletterdheid tog aansienlik verbeter.

Tussen 1950 en 1970 het die getal swart kinders op skool met drie keer vermenigvuldig. Voorts was swart- en wit-leerplanne basies dieselfde.

In die eerste helfte van die 1960’s het die Suid-Afrikaanse ekonomie teen gemiddeld 6% per jaar gegroei, inflasie was 2% en grootskaalse beleggings het ingestroom.

Die land was suksesvol genoeg dat die nuustydskrif Time Verwoerd in Augustus 1960 kon beskryf as “one of the ablest ­white leaders Africa has ever produced”.

Uiteindelik het apartheid Suid-Afrika egter ekonomies duur te staan gekom, veral in die vorm van gebrekkige onderwys vir swart en bruin kinders, ’n onproduktiewe arbeidsmag, ’n gebrek aan vaardighede en ’n groot omset van werkers weens die reuse-omvang van trekarbeid.

In die 1950’s en 1960’s was dié skade egter nog beperk omdat die vervaardigingsektor klein en ongekompliseerd was. Dit was eers in die vroeë 1970’s, toe die vervaardigingsektor sterk begin uitbrei het, dat dié gevolge duidelik sou word.

Verwoerd word deesdae gebrandmerk as ’n “bose genie” wat apartheid so te sê eiehandig uitgedink en toegepas het. Stephen Mulholland, voormalige redakteur van Financial Mail, noem hom “one of history’s monsters” – saam met Saddam Hoesein in dieselfde kategorie as die massamoordenaars Josef Stalin, Adolf Hitler, Mao Zedong en Pol Pot. Maar in die 1960’s het toonaangewende historici – wat nie voorstanders van apartheid was nie – baie anders oor hom gevoel.

Die uitstaande liberale historikus C.W. de Kiewiet vergelyk hom in 1963 met Charles de Gaulle, “the stern, headstrong but deeply imaginative leader of France”.

Argumente dat ekonomiese groei in dié tydperk swart mense niks in die sak gebring het nie, hou ook nie steek nie.

Hoewel die welvaartgaping tussen swart en wit groot gebly het en swart mense se vooruitgang boonop deur apartheidsmaatreëls aan bande gelê is, het die besteebare inkomste van swart, bruin en Indiërs in die 1960’s en 1970’s vinniger gegroei as dié van wit mense, hoewel van ’n baie lae basis.

Dit was natuurlik skrale troos vir mense in die swart reservate met wie dit broekskeur gegaan het. Vir hulle was daar egter steeds hoop op werk, al was dit vir ’n baie klein loon.

J.L. Sadie het bereken dat 73,6% van die nuwe toetreders tot die arbeidsmark in 1965 in die formele sektor werk gekry het, meer as ooit tevore. In 1970 het dit tot 76,6% gestyg, maar daarna geval tot 43,3% in 1998. Vandag is dit nóg laer.

Geskiedskrywers staan onder die verpligting om die ondenkbare te dink. As ’n mens oor apartheid wil oordeel, moet ’n mens daarom die volgende ondenkbare stellings oorweeg:

* Ná die Tweede Wêreldoorlog kon Suid-Afrika ’n liberale demokrasie geword het of die land kon 25 jaar lank teen 5% per jaar groei. Albei kon nie gelyk gebeur nie.
* Snelle rasse-integrasie kon plaasvind of die land kon vir 25 jaar redelike stabiliteit beleef. Albei kon nie gelyk gebeur nie.
* Die staat kon voortgaan om laegraadse goudmyne met goedkoop swart arbeid winsgewend te hou terwyl hulle reuse-belastingbydraes tot die staatskas maak of hulle kon swart vakbonde wettig. Albei kon nie gelyk gebeur nie.

Nie een van dié stellings kan bewys word nie, maar dit beteken steeds nie dat jy nie die ondenkbare moet dink nie.

Prof. Hermann Giliomee is ’n ­historikus.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s