Afrikaans en die betekenis van 26 Mei 1948

Deur : Dan Roodt

Sondag, 27 Mei 2012 10:09

Gister was my verjaardag en ek wil nogmaals almal bedank wat my op Facebook, Twitter en elders gelukgewens het. Hoe ouer ek word, hoe meer kom ek onder die indruk dat die toevallige dag 26 Mei, soos 31 Mei, nogal ‘n belangrike datum in ons volk se geskiedenis verteenwoordig. Op 26 Mei 1948 het die Nasionale Party in ‘n verkiesing die politieke mag bekom en het dr. Daniël François Malan eerste minister geword.

Vele geskiedskrywers het agterna gemeen dat die Afrikaner daarmee “die vrede gewen het”, ná die oorlog van 1899-1902 wat hy verloor het. Ongeag wat ‘n mens vandag van die Nasionale Party en sy oneervolle einde onder Marthinus van Schalkwyk mag dink, moet ‘n mens toegee dat daardie roemryke verkiesingsoorwinning ‘n belangrike gebeurtenis was. Nie net was dit vir Afrikaners ‘n belangrike datum nie, maar ook vir die Engelse en die res van die mense in hierdie land.

Min mense verstaan die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Want onder die invloed van die Marxisme en kommunisme, word geskiedenis deur die ANC en die SAKP as ‘n sogenaamde “terrein van stryd” beskou. Daarom moet die propagandawaarde van geskiedenis tot die maksimum uitgebuit word. Leuens en oordrywings maak deel van hierdie “nuwe geskiedenis” uit.

Alles wat vóór 1994 gebeur het, word tans as inherent “boos” voorgestel. Die woord “die verlede” word gewoonlik met ‘n geladenheid gebesig, amper asof daar oor moord in die familie gepraat word.

Per toeval soek ek gister na ‘n boek op my rak en ontdek ‘n studie oor Bantoe-onderwys wat in 1964 deur die liberale Instituut vir Rasse-aangeleenthede onderneem is. Muriel Horrell kom aan die einde van haar boek, A decade of Bantu Education, tot die gevolgtrekking: “The administrators of Bantu Education are certainly working most assiduously to make the system a success.”

Die vorige keer toe ek ‘n liberale Engelse vrou oor Bantoe-onderwys aangehaal het, het ‘n hondsdol joernalis van Die Burger my van “rassisme” beskuldig en dat ek ‘n “voorstander en apologeet van apartheid, ‘n misdaad teen die mensdom” sou wees. Dus laat ek dit maar daar.

Ook wil ek nie eintlik vandag oor die geskiedenis skryf nie. Die geskiedenis, of die lewensverhaal van Nelson Mandela en sy ANC-engele wat op ons land neergedaal het, is herskryf, net soos wat die straat- en plekname verander is. Trouens, ‘n mens wonder of daar binnekort iets van die Afrikaner in die land gaan oorbly behalwe die name van enkele booswigte of eerder goeie mense waarvan daar booswigte gemaak is, soos dr. Verwoerd. Hy wat homself jare lank as minister vir die einste Bantoe-onderwys afgesloof het.

Suid-Afrika het ‘n tipiese Afrikaland geword. Selfs die kunswerke word uit die museums gesteel en op die straathoeke verkwansel. Juis vandeesweek is daar berig dat waardevolle Chinese porselein uit die sewentiende eeu wat uit die V.O.C.-tyd dateer, vanuit ‘n plaaslike museum gesteel is. Die waarde van die geroofde voorwerpe word op R50 miljoen beraam.

Op ‘n manier het die revolusie van 1994 veroorsaak dat ons hele erfenis op die ashoop beland het. Alle openbare versamelings word deur die ANC beheer en word na goeddunke verwaarloos, verwoes of verander.

Die kwessie wat my egter tans besonder interesseer, is die Afrikaanse letterkunde. Die ANC, asook sy Britse en Sweedse meesters wat hom aan bewind geplaas het – selfs FW de Klerk en Roelf Meyer! – het nog nooit in Afrikaanse boeke belanggestel nie. As ‘n inbreker by jou huis inbreek, gaan hy waarskynlik alles steel behalwe die Afrikaanse boeke.

Net soos vir inbrekers, is die Afrikaanse letterkunde vir die ANC van te min waarde om te besteel of te beheer. Anders as ons geskiedenis, byvoorbeeld, waarvoor Kader Asmal as minister van onderwys ‘n spesiale propagandaprogram vir die skole laat saamstel het.

As ek nou terugdink aan ons voorheen Afrikaanse lewe in hierdie land, staan die 1960s vir my uit as die bloeitydperk van Afrikaanse boeke en kultuur. Ek het reeds voorheen iewers gesê dat die sestigerjare die Goue Tyd van die Afrikaner was. ‘n Dekade ná die 48-verkiesing en kort ná Republiekwording, juis onder Verwoerd, het Afrikaans en Afrikaanse boeke ‘n ongekende opbloei beleef. Die Kaap met sy Engelse snobisme wou hoghe literatuur in Afrikaans uitgee; vandaar die Sestigerbeweging van André Brink, Breyten Breytenbach, Chris Barnard en ander, die mees oorskatte en volprese literêre beweging in die geskiedenis.

Maar in die noorde van die land, in Johannesburg van alle plekke, het die ou Afrikaanse Persboekhandel (later Perskor) besluit dat die hele volk behoort te lees. Gewilde fiksie in die vorm van liefdesverhale, spioenasieverhale, selfs fotoverhale met Mark Condor en die Ruiter in swart, is met geesdrif en teen ‘n wins gepubliseer.

Springbokradio, die handelsender van die SAUK, het insgelyks beroemde Afrikaanse sepies uitgesaai, waarvoor die volk vasgenael was. Daar was Fanus Rautenbach se nogal postmoderne en speelse Staal Burger-reeks oor die Afrikaanse sender. Min Shaw en Gé Korsten se plate het goed verkoop en Afrikaanse films het Hollywood-treffers by die loket getroef.

Diegene van ons wat in daardie goue jare grootgeword het, het nooit kon dink dat dit ooit kon eindig en dat ons land in hierdie aaklige Afro-Saksiese nagmerrie met sy geweld, misdaad en korrupsie kon ontaard nie. Vir my voel dit soos wetenskapfiksie: ‘n woesteny met tegnologie maar sonder beskawing het aangebreek. Iewers moes ‘n meteoriet geval en alles uitgewis het.

Die koms van televisie en die revolusie, asook die verdwyning van Perskor, het daardie vertroude Afrikaanse wêreld van die sestigerjare tot niet gemaak. Soos Peet Kruger, die redakteur van Beeld, eenkeer vir my op Stellenbosch gesê het: “Ag man, daar is nie so iets soos ‘n Afrikaner nie. Die enigste verskil tussen hom en ‘n Amerikaner is dat hy soms bietjie Afrikaans praat of die Blou Bulle ondersteun.”

Is die Blou Bulle in hul pienk hemde en slegte Boerewors by die supermarkte dan al wat daar van die Afrikaanse kultuur oorgebly het?

Ek is ‘n modernis. Vir my het ons volk nie deur die smeltkroes van die Groot Trek en die Vryheidsoorloë ontstaan nie, maar deur Afrikaanse boeke in die twintigste eeu, veral tydens die sestigerjare. Nie dat ek die romantiese epos van die negentiende eeu wil geringskat nie; uit ons opstand teen Engeland is die substraat, die fondament, gevorm. Maar dit was daardie ongekende ywer waarmee ons ‘n eie taal, ‘n eie kultuur, ‘n eie verwysingsraamwerk geskep het wat uiteindelik veroorsaak het dat Verwoerd sinvol op ‘n openbare verhoog na “die Afrikanernasie” kon verwys of dat Van Wyk Louw in sy essays daaroor kon skryf.

Is dit nie ironies dat die ANC se hanskakies onder die Afrikaners van Verwoerd ontslae geraak het, maar aan Van Wyk Louw vasklou nie? Die naam van die H.F. Verwoerd-biblioteek aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit, tans “Joe-Djy”, is lankal verander, maar jaarliks word daar steeds ‘n N.P. van Wyk Louw-gedenklesing aangebied. Natuurlik het die inhoud bloedweinig met Van Wyk Louw te make, maar nogtans is dit ‘n vreemde verskynsel.

Of miskien nie so vreemd nie. Dit strook met my teorie dat ‘n volk se identiteit eerder deur letterkunde as deur oorloë of politiek gebou word… Het ons nie nog in 1993 ‘n weermag en ‘n staat gehad nie? Maar wat het dit ons gehelp? Indien die sogenaamde “onderhandelaars” van destyds pleks van ‘n weermag ‘n paar idees aan hul kant gehad het, sou dit dalk beter gegaan het. Want oorkant hulle het mense gesit wat geskóól was in die Marxistiese ideologie met sy revolusionêre evangelie, die teologie van die “Groot Verandering” wat sál kom! Die verbeeldinglose Afrikanerpolitici is deur ‘n klompie slim kommuniste soos Joe Slovo en Nelson Mandela uitoorlê.

Nou die dag sê iemand vir my: “Man, weet jy waarmee is Solidariteit besig? Hulle skep organisasie, hulle bou kapasiteit.” Toe dink ek so op my eentjie: “Maar wat van al die kapasiteit wat ons gehad het? Die weermag, die staatsbegroting, ambassades in elke land? As dit nie ‘kapasiteit genoeg’ vir ons oorlewing was nie, hoe sal ons ooit weer die soort ‘kapasiteit’ sien wat ons nodig het?” Uiteindelik is mag tegelyk onaantasbaar en broos. Soos die Franse postmoderne filosowe dit uitgeredeneer het: “Mag berus nie op ‘n weermag of geweld nie, maar op die gehoorsaamheid van die bevolking.”

Die Afrikaner se probleem is nie ‘n gebrek aan “kapasiteit” nie. Ons beskik oor die land se intellektuele kapitaal, asook genoeg privaatvoertuie, -vliegtuie, opleiding en vaardigheid om môre die ANC terug Transkei toe of Kwazulu-Natal toe te stuur. Die probleem is dat ons mense se denke deur die vyand beheer word, dat hulle willoos geraak het, dat hulle deur DSTV en rugby – brood en sirkusse – vermaak word. Tussen nog ‘n Hollywood-fliek op TV en vryheid, stem die gemiddelde Afrikaner vandag vir die Hollywood-fliek.

Hulle dink nie omdat hulle nie meer lees nie, veral nie meer Afrikaans nie. En die Afrikaner is gehoorsaam. Anders as ons medeburgers, betaal hy getrou sy nasionale en plaaslike belastings, sy mediese fonds en sy parkeerkaartjies. Sodoende finansier ons ons eie ondergang. Sou dit nie lekker in die tyd van apartheid gewees het as die TBVC-lande elke jaar ‘n vet tjek aan die SA regering oorhandig het om beter wapens aan te koop, doeltreffender propaganda te produseer en groter salarisse vir ons politici te betaal nie?

Diegene wat my roman Moltrein gelees het, sal onthou dat ek iewers daarin na die veldslag van Jena-Auerstedt van 14 Oktober 1806 verwys. Op daardie dag het Napoleon oor Pruise, die teenswoordige Duitsland, geseëvier. Vir veertig jaar agterna was Duitsland onder Franse oorheersing, veral kultureel, en is Duits as ‘n boerse, agterlike taaltjie beskou wat geen beskaafde mens meer wou praat of veral skryf nie. (‘n Bietjie soos Afrikaans vandag, want ons is die verloorders van die “nuwe” Suid-Afrikaanse geskiedenis en praat dus ‘n verloorderstaal waarin niemand behalwe ‘n handjie vol Nederlanders en Vlaminge meer belangstel nie.)

Totdat Goethe gekom het, die digter, dramaturg en vrydenker. Nadat die Franse skryfster Madame de Staël hom aan die res van Europa bekendgestel het – juis deur middel van Frans, die lingua franca! En agterna was Duits en Europa nog nooit weer dieselfde nie.

Een van my gunstelingessays is dié van die Duitse filosoof Peter Sloterdijk wat ek in Nederlands gelees het: Regels voor het mensenpark. Omdat hy daarin gesê het dat mense dalk beter geteel kan word, is hy onmiddellik in die media as ‘n apologeet van die Nazisme aangeval, maar vandag word hy waarskynlik as die grootste lewende Duitse filosoof en skrywer gereken.

Sloterdijk verwys na iets soortgelyks in Europa as wat by ons ingetree het, toe die radio en veral die televisie die boek as identiteitsvormende medium vervang het. Vandag verteenwoordig Sewendelaan die spieël wat aan die Afrikaner voorgehou word met die soort gedrag, waardes en geradbraakte taal wat hy behoort na te streef. Soos klei is die Afrikanervolk in die hande van die ANC-maghebber, om na goeddunke met behulp van staatsmag en die staatsmedia te vorm.

Vóór 1945 (die koms van televisie in Europa), meen Sloterdijk: “… sou die burgerlike nasies self tot op sekere hoogte literêre en posprodukte wees – fiksies van ‘n lotsbepaalde vriendskap met verre landgenote en met lesers, verbonde in simpatie vir outeurs wat tot gemeenskaplike besit gereken word”. Hierdie “nasie van vriende” word juis deur die onderwysers op skool gekonstrueer omdat daardie selfde stel skrywers en boeke aan die kinders van geslag tot geslag oorgedra word. Volgens Sloterdijk is boeke “dikker briewe” wat vriende, dus volksgenote, aan mekaar skryf.

Die punt wat vir ons belangrik is, is dat die rampspoedige verlies aan mag, status en instellings wat die Afrikaner sedert 1994 verduur, hom van feitlik alles gestroop het – alles behalwe daardie vergete stel boeke wat deesdae van so min waarde is dat die vindingryke diewe van Afrika hulle nie eens soos die kunswerke en die porselein uit die biblioteke wil steel nie. Wel het vele van die “nuwe” bibliotekarisse al sulke boeke aan tweedehandse boekwinkels verkoop of laat verpulp of sommer ashoop toe laat aanry.

In Ray Bradbury se klassieke wetenskapfiksieverhaal uit die vyftigerjare, Fahrenheit 451, is dit verbode om boeke te lees en bestaan daar ‘n interaktiewe soort televisie waarmee die bevolking deur breinspoeling onderdanig gehou word. Die held van die verhaal is ‘n brandweerman wat ou boeke moet uitsnuffel wat afvalliges in hul huise versteek en moet verbrand. Blykbaar brand boeke by 451 grade Fahrenheit; vandaar die titel van die roman.

Nou het ek juis gister so ‘n boek wat hom iewers op my rak versteek het, ná ‘n halfuur se gesoek kon uitsnuffel, gevind en gelees. Dis ‘n meer literêre roman uit daardie Goue Afrikaanse Tyd, uit die vroeë sestigerjare: Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein.

Toe ek jonk was, het ek wel ‘n sekere bewondering vir die Sestigjerskrywers gehad; nou nie meer nie, op enkele uitsonderings na. Gee my liewer ‘n Olaf Bouwer-boek of ‘n Staal Burger-storie uit dieselfde tyd: dis interessanter en intellektueel meer prikkelend as die soort opgesmukte na-apery van Britse en Franse letterkunde wat die Sestigers aan ons opgedring het. Breyten Breytenbach het tydens sy “Blik van buite”-toespraak in 1973 gevra: “Vir wie skryf ons ons verwronge, pretensieuse, nouveau riche-werke behalwe vir ‘n paar vriende aan universiteit wat daardie werk deut dit voor te skryf ‘n bestaansreg gee?”

Maar hierdie Elsa Joubert-boek dateer uit die vroeë sestigerjare, voor sy tot Brink en Breytenbach se voorspelbare Sap-ideologie van “die Afrikaner moet skuldig voel en eerder Suid-Afrikaner word” bekeer is. Natuurlik het sy later bekendheid verwerf vir ‘n baie meer polities korrekte boek, Die swerfjare van Poppie Nongena, ‘n soort Cry the beloved country in Afrikaans.

Terloops, Breyten Breytenbach het die Sap-ideologie van destyds in 1973 tot sy logiese gevolgtrekking in dieselfde toespraak gevoer toe hy verklaar het: “Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, onbindend om wéér in ander vorme te kan bind.”

Toe nié. As ek so rondom my in Johannesburg kyk, dan sien ek heelwat ouerige Engelse mans met sulke jong swart vrouens in stywe langbroeke. Soms word hulle ook vergesel deur hul mulatkindertjies met kroeshaartjies en blas gesiggies.

Soos dit vir my lyk, is die Engelsman in Suid-Afrika veel meer ontvanklik vir die mulatkultuur, om self ook mulat te word. En ek gebruik hier spesifiek die woord “mulat” omdat Elsa Joubert dit so herhaaldelik in Ons wag op die kaptein besig, ‘n verhaal wat volledig op ‘n Angolese plaas afspeel waar dit die gebruik was vir die Portugese boere om ook ‘n swart houvrou aan te hou.

Ons Engelse landgenote, wat al die jare so snobisties en neerbuigend teenoor ons Afrikaners was en vir wie ons weens ons verre Kaapse herkoms glo ook nie “wit genoeg” was nie, is lyk my besig om geredelik soos die Portugese van Angola en Mosambiek die mulatkultuur te aanvaar, terwyl die Afrikaner nog iewers aan sy rasseidentiteit vasklou.

Wat Elsa Joubert se boek egter interessant maak, is hoe die Afrikaan-in-opstand, as hy eers geweld begin pleeg, juis die mulat met groter minagting en wreedheid verwerp as die blanke setlaar of kolonis. ‘n Mulatdogtertjie wat op soek na water by ‘n geut opklim, word deur ‘n Kongolese soldaat koelbloedig doodgeskiet. As die Portugese vrou die kind se lyk van die dak wil gaan afhaal, waarsku die soldaat dat hy en sy manne sal aanhou om lood in die dooie liggaampie te pomp totdat daar niks van oorbly nie.

Blykbaar is Ons wag op die kaptein op ‘n ware verhaal gegrond wat hom op ‘n plaas in die noorde van Angola afgespeel het en waaroor daar op 15 Maart 1961 in Die Transvaler berig is. Twaalf blankes is op die plaas na ‘n soort “verhoor” deur die Franssprekende kaptein en plaaslike swartes vermoor.

Die tyd van ideologiese konflikte is verby. Vandag leef ons in die tydvak van identiteitstryd en kultuurkonflik. Daar was vele profetiese romans in Afrikaans wat in die verlede geskryf is en wat ‘n tyd voorspel het waarin ons aan die swartman se genade oorgelaat gaan wees. Iets soos Ons wag op die kaptein of Na die geliefde land van Karel Schoeman.

Ongelukkig het die Afrikanerpolitici van destyds blykbaar nie boeke gelees nie, anders sou hulle seker met groter ywer die huidige situasie waar “ons wag op die kaptein” probeer verhoed het. In mnr. FW de Klerk se outobiografie verskyn daar nie ‘n enkele aanhaling uit ‘n ander boek nie, waaruit ‘n mens seker jou eie afleidings oor die man se belesenheid kan maak.

Feit is egter dat die internet ons mense weer aan die lees gesit het. Op Facebook en Twitter of die Praagwebwerf, oral, lees hulle ywerig en skryf en neem deel, hoe krom en skeef hul Afrikaans soms ook al is.

Afrikaners het meer boeke geskryf en vertaal as waarskynlik al die ander inwoners van Afrika saam. Dit het ons nie ryk soos die Engelse of magtig soos die swartes met hul groot swart karre en duur klere gemaak nie, maar daardeur het ons ‘n Afrikaanse beskawing, ‘n denkwyse en ‘n identiteit geskep wat ons steeds aan mekaar bind, hoe sleg dit ook al tans met ons gaan.

Ek is daarvan oortuig dat as ons weer vir mekaar Sloterdijk se “dik briewe” begin skryf, ons Grootbroer se TV-skerm met sy propaganda kan afskakel en ons gewonde selfbeeld kan herstel, sal ons op ‘n dag eenvoudig “nee” sê vir oorheersing en weer vry kan word.

Juis op 23 Junie reël ons namens Pretoria-PEN, die skrywersvereniging, ‘n simposium oor “Die Afrikaanse letterkunde in die digitale tydvak” by die ou munisipale raadsaal van Centurion in Jeanlaan. Daar kan ons planne beraam oor hoe ons al die ou Afrikaanse boeke weer vir mense digitaal toeganklik kan maak, maar ook hoe ons ‘n ontploffing van gewilde Afrikaanse boeke vir hierdie tyd kan veroorsaak.

Ek voel baie opgewonde hieroor. Die ANC het al die deure vir ons toegemaak, die kommando’s afgeskaf en alles voor die voet getransformeer. Selfs die Afrikaanse kunstefeeste word deur borge beheer wat ook die arme Afrikaanse kunstenaars vir hul politieke propaganda misbruik. Ons is amper so magteloos soos Elsa Joubert se Angolese gyselaars wat op die kaptein se doodsvonnis wag. Maar daar is nog een deur vir ons oop: die geskrewe woord, veral die digitale woord wat u hier lees.

Dit mag dalk net die poort na ons vryheid en die herstel van ons menswaardigheid word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s