Blou Willem Storie

Deur: Blou Willem

2011-08-28

Nou ja, ons Bok-span is gekies en ons staan en val nou saam met hulle.  Met die span van ou Snorries het ek redelik vrede, maar ek is baie senuweeagtig oor die verkragting van ons arme volkslied Doer Onner.

Soos dit is, is ons die enigste land ter wêreld waar jy die volkslied in drie tale kan sing sonder om een te verstaan, maar as die sangers wat ons moet lei ook vou, is dit nag. Eers was dit laasjaar daai hip hop-maervark in Parys wat ons volkslied vermoor het en nou is dit Ard wat ard teruggekom het arde toe. Dik Daan sê die ouens wat hom gereël het, moes mos geweet het as die man rêrig kón sing, sou sy naam Art gewees het, nie Ard nie.

Nee wat, dalk moet hulle dan nou maar eerder vir ou Toks ’n permanente kontrak gee (en enige mooi meisie saam met hom net om die nabyskote ’n bietjie sagter te maak).

Haai siestog, maar dit moet vreeslik wees om so stage fright te kry voor miljuisende kykers.
Soos ’n haas in ’n skietlig.

Amper soos die dag daar in 1994 toe Seun (toe ses jaar oud) by die kunswedstryd “Die hond” moes opsê.
Ek sit daar in die skoolsaaltjie en sweet saam met omtrent 60 ander pappies en mammies wie se seuntjies ook “Die hond” moes voordra en Seun is omtrent so 55ste op die lys.

Uiteindelik breek die groot oomblik aan. Ek sit op die punt van my stoel en daar kom hy, my klein Oscar-wennertjie! Hy kom staan op die regte kolletjie en die streng tante wat lyk soos ’n kruising tussen Heidi se juffrou Rottenmeier en ’n Nazi-kampkommandante knik haar kop een keer terwyl sy oor haar brilletjie loer.

My arme hasie kyk in die skietlamp se lig, sluk vier keer en toe grom die tannie: “Jy kan maar begin!”

Hy sluk nog drie keer en begin met die gevleuelde woorde: “Diéééé hond” (met sterk klem op die dieeee).

En toe, nes arme Ard, tref hy ’n blank. Mej. Rottenmeier beduie hom van die verhoog af en sê hy kan weer aan die einde van die program probeer.

Ons hou ’n noodspanpraatjie agter die skool se rotstuin en 20 minute later staan hy op dieselfde kolletjie, begin weer goed met sy inleiding (dis nou “Diééééé hond”), vries weer en hol finaal daar af om nooit weer op die verhoog te verskyn nie.
Toemaar, ou Ard, ons weet dis baie ard om Nkosi Sikelel’ iAfrika se woorde te leer – ons ander ouens is al daar van 1997 af aan die sukkel.

Ek sien ons minister van krotte en pondokke, Tokyo S*xwale, het nou ’n taakspan aangestel om Onder Soek in te stel na die feit dat daar 17 jaar nadat ons ’n demonekrasie geword het steeds 86 443 huishoudings is wat nog van die emmerstelsel afhanklik is.

(Terloops, wie’t getel?) En ek was besonder geskok om te sien dat die grootste persentasie hiervan in die Vrystaat is. Oom Johnny sê hy wonder net of dit nie ’n beter plan is om die hele land weer op longdrops en emmers sit te maak eerder as om fênsie spoeltoilette te hê wat al die onheile teen die spoed van wit lig in ons riviere inpomp nie.

Ja nee, oom Tokyo en die ander edeles besef nou hopelik dis maar ’n vrek lang paadjie na bevryding, of overgeset synde: “A Long Drop to Freedom.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s