Afrikaner armoede: Die blanke vraagstuk 2012 – Deel 1

Geskryf deur Philip van Staden
(Gepubliseer op VF+ se web-koerant – Die Voorblad)

Niemand in die wêreld kan enige iemand laat insien waaroor armoede in ‘n gemeenskap gaan nie, hoe dit ontstaan en wat die gevolge daarvan is behalwe die mense self wat in die betrokke gemeenskap woon en werk en daagliks op die grond waarneem waaroor alles gaan. “Hoekom is jy ‘n aktivis teen armoede in die gemeenskap?” is die vraag wat menigte my al gevra het. My antwoord is eenvoudig- ek gee om vir my mede Afrikaner.

Armoede is nie speletjies nie en diegene wat gal braak en dinge kwytraak soos: “Die mense is te lui om te werk” of “deel kondome uit in plaas van kos” het ek nuus voor. Daar is nie werk vir ‘n blanke Afrikaner man of vrou in Suid Afrika nie veral as jy nie kwalifikasies het nie.

Ek het die afgelope sestien jaar gewoon in die Wesmoot van Pretoria wat bestaan uit die woonbuurte; Hermanstad, Mountain View, Suiderberg, Pretoria Tuine, Booysens, Claremont, Andeon, Kirkney, Uitzicht, Kameeldrift, Danville en Elandspoort. In hierdie gemeenskap is die werkloosheidssyfer skrikwekkend hoog en die aanslag op die blanke Afrikaner word elke dag al hoe meer en sterker.

‘n Man of vrou wat vandag ‘n werk het is nie verseker dat hy/sy môre nog die werk gaan hê nie. Enige een van ons kan môre in die kloue van totale armoede verval. Ek hoop dat hierdie skrywe meer lig sal werp op die kwessie van blanke armoede. Oor die volgende vier weke gaan ons stap vir stap na die kwessie van armoede kyk en daarna ook wat die geleerdes sê van hierdie kwessie. Onder die geleerdes tel Dr. Jackie Grobler, Dr. Pieter Mulder, Mev. Ina Wilken, Mev. Irma Hartzenberg, Prof. Flip Smit en Prof. Grietjie Verhoef.

Maar vir u as leser wat nie in hierdie situasie betrokke is of vasgevang is nie wil ek eers die volgende diagram wys, sodat u die prentjie van die kringloop van armoede onder die Afrikaner kan verstaan. Dit het ook heelwat betrekking op alle gemeenskappe in Suid Afrika:

1. Transformasie en Regstellende aksie lei tot werkloosheid:

Sedert die begin van demokrasie in 1994 in Suid Afrika, het die grootste euwel ooit ontstaan, nog erger as apartheid naamlik “Regstellende aksie”. Regstellende aksie was daarop gemik om die agtergeblewenes op te hef uit die poel van armoede, maar die ANC regering het die projek heeltemal verkeerd benader.

In plaas daarvan om die skaal van die verlede so te herstel dat daar balans is, het die skaal heeltemal na die verkeerde kant geswaai. Die gevolg daarvan was dat slegs ANC politici hierby baat gevind het. Ons noem hulle die “fatcats”. Die swart man op straat het nog net meer verarm en die middelklas blanke is nou die armste onder die armstes.

Die skaal is dus nog nie gelyk nie en die balans is na die ander kant verskuif en druk nou swaarder op die bevolking as onder apartheid. Die gemeenskap van die Wesmoot het destyds bestaan uit mense wat by instansies soos die Spoorweg, Yskor, die Stadsraad van Pretoria en die Poskantoor werksaam was.

Hierdie mense is tegnies aangelê en daarom dat daar verskeie tegniese skole in die omgewing was. Met die begin van regstellende aksie het hierdie mense hulle werk verloor en slegs ‘n pakket ontvang van ‘n paar honderd duisend rand. Let wel ‘n pakket en nie ‘n pensioen fonds nie.

‘n Pakket wat jare moes hou is opgevreet deur die hoë inflasie koers in die land, asook die mense se onvermoë om met die geld te woeker. Namate die geld begin opraak het moes die meeste van hierdie mense van hulle eiendomme ontslae raak om aan die lewe te kon bly en was daar ook nie geld om die kinders na skool verder te kon laat leer nie.

Sekere van hierdie mense moes noodgedwonge eiendom gaan koop ten duurste aangesien hulle in hul werkgewers se huise gewoon het. Die geld het opgeraak. Hierdie mense spook-en-spartel om kop bo water te hou en die poel van armoede begin sy tol eis.

Die nuut gekoopde eiendom word na minder as drie jaar deur die bank teruggeneem en die persoon se kredietwaardigheid is daarmee heen. Die gevolg is egter dat hierdie persoon, as gevolg van sy velkleur, nie die kans gegun word om sy lewe van vooraf te begin nie en hy beland in die stof teen die grond.

2. WERKLOOSHEID LEI TOT ARMOEDE:

Ons is nou by die tweede skakel in die ketting naamlik armoede. Wat is armoede? Armoede onstaan weens ‘n gebrek aan inkomste.

Maar wanneer is ‘n persoon arm? Daar bestaan egter die volgende vorms van armoede naamlik:

* finansiële armoede – hierdie vorm van armoede is algemeen in die Wesmoot en die mense verdien bitter min of geen inkomste nie. Die volgende stap is dan wanneer die persoon nie ‘n huis kan bekostig nie hy/sy dan eindig in ‘n wendyhuis, karavaan of buitekamer. Ons het afgekom op tot soveel as 39 mense wat in een huis in kamers bly en tot soveel as 17 wat in een wendyhuis bly.

*geskoolde armoede – ‘n Gebrek aan geskooldheid kom volgende voor. Kinders wat in hierdie omstandighede by hulle ouers groot word dink dit is normaal om so te lewe. Die kinders moet partykeer die ouers help om bietjie geld vir kos bymekaar te maak en daarom is die skool hulle laaste prioriteit.

Hierdie mense vind dit normaal om alreeds in std 6 (graad 8) die skool te verlaat en vir die gesin op een of ander manier te sorg. Die kind kry oor ‘n paar jaar kinders en die kinders word ook so groot en die skakel van die ketting word nou 100 skakels. ‘n Bose kringloop wat al groter en groter word.

*kulturele en Christelike armoede – Afrikaner kultuursake bestaan glad nie in hierdie mense se lewens nie. Weens die feit dat hul van ‘n jong ouderdom glad nie meer in die skool is nie ken hulle nie goed soos kultuurdae en selfs die geskiedenis van die Afrikaner nie. Hulle weet nie waar hulle vandaan kom nie en dus weet hulle ook nie waarheen hulle oppad is nie.

Hulle weet wel dat dit as gevolg van regstellende aksie is dat hulle en hul ouers in die omstandighede is waar hulle vandag is. Die kinders wat egter na 1994 gebore is verstaan nie hierdie politieke gebeure nie en is besig om stadig maar seker in opstand te kom teen die regering van die dag.

Wel, ek verstaan dit ook nie en sal help om hierdie euwel uit te roei. Alhoewel daar baie kerke in die Wesmoot is, is die bywoningsgetalle van die arm kant op Sondae baie laag. Die wat wel die kerke bywoon is nog die laaste bietjie middelklas wat oor is wat nog ‘n werk het.

In meeste van hierdie arm huise is daar nie Bybels om te lees nie maar daar is tog baie van hulle wat daagliks op hulle knieë gaan en dankie sê vir dit wat hulle het. Meeste van die kerke in die omgewing sukkel om te oorleef en daarom kyk hulle slegs na hul eie. Baie van hierdie kerke probeer om na almal om te sien maar dit is nie altyd moontlik nie.

*armoede aan selfrespek en respek vir ander – Dit is egter ‘n duidelike bewys dat as jy jou menswaardigheid totaal en al verloor het, jy jou selfrespek verloor en ook respek vir ander. Dit word dan soos hulle in engels sê “survival of the fittest”. Jy dink net aan jouself en die kleinding langs jou sy.

Jy bekommer jou nie meer oor jou man/vrou of kind wat al vir homself kan begin dink nie. Jy raak soos ‘n wilde dier in die bos. Die kos wat jy in die hande kry is joune en joune alleen, die klere wat jy in die hande kry sal jy tien teen een ‘n paar stukkies hou vir die winter, maar die res sal jy gaan verkoop vir kos. Jou hele omgewing stort in duie.

Jy bekommer jou nie meer oor ‘n skoon huisie nie, jy bekommer jou nie meer oor skoon klere nie of ‘n skoon liggaam nie. Meeste van hierdie mense het totaal en al hulle menswaardigheid verloor. Hulle is plat teen die grond geslaan en niks maak meer saak nie.

Die bekommernis waar kos vir die dag van môre vandaan gaan kom is ‘n bysaak en al wat nou saak maak is die oomblik van nou. Ons sê altyd dat water en seep die minste kos maar hierdie mense het nie die geld vir daardie minste nie. Water en seep is vir hulle ‘n luukse. Dit gebeur dan ook so dat hulle niks voel vir ander mense nie en sal alles in hulle vermoë doen om te oorleef.

Wat sal jy, wat nog nie in hierdie omstandighede is nie, doen vir oorlewing? Dit is waar misdaad dan vlamvat. Ek het al menige kere met ‘n bakkie vrag vol brood by hierdie plekke gaan stop en binne twee minute alles uitgegee. As gevolg van geen selfrespek nie is hierdie mense baie skaam en afgesonder.

Net soos ‘n wilde dier sal hulle eenkant wees en sodra iemand van buite af probeer inkom na hulle toe sal hulle weghardloop partykeer uit skaamte, partykeer omdat hulle heeltemal afgesny is van die buite wêreld

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s