ANC-fasiliteerder (Croukamp) oorskry alle perke

Afrikanerbond

Dinsdag, 15 Mei 2012 10:06

Die Afrikanerbond het met skok in die Rapport gelees hoe dr Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg in die artikel “Safari na Luthuli” van Sondag 13 Mei 2012 sy afkeer en weersin in die Afrikanergemeenskap gedemonstreer het in sy reaksie teenoor mnr Flip Buys van Solidariteit.

In die artikel laat hy hom soos volg uit: “My politieke instink het ‘n weersin in Afrikanerpolitiek en ek het dit van die begin duidelik gemaak dat die term Afrikaner ideologies gelaai is. Ek dink mense wat hulself as Afrikaners beskryf, beskou hulle nie as deel van Suid-Afrika nie en hul doelstellings korrespondeer nie met die Grondwet van die land nie. Wat my betref, is Afrikaners byna per definisie – of op enkele uitsonderings na – onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste. “Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ‘n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.”

Met die ongegronde oordeel, wat in sy persoonlike vooroordeel neerslag vind, diskwalifiseer dr Croucamp homself om in die toekoms as onafhanklike fasiliteerder op te tree.

Die Afrikanerbond het saam met ander lede van die Afrikaanse taalgemeenskap die uitnodiging tot dialoog aanvaar. Die uitnodiging van die ANC het die spesifieke bewoording bevat: “Minderhede moet méér wees as net ‘n kritiese stem. Hulle moet ook ‘n deelnemende/proaktiewe stem wees in die bevordering van gemeenskaplike belange en ‘n nasionale konsensus.” Die doelwit van die dialoog-beraad is gestel as: “Hierdie vergadering beoog om vervreemding binne hierdie segment van die burgerlike samelewing sowel as binne die politieke en ekonomiese bedeling teen te werk. Die verwagting is dat dié byeenkoms in nasionale belang tot ‘n betekenisvolle dialoog sal lei wat konstruktiewe kommunikasie en samewerking tussen die ANC en Afrikaanssprekende belangegroepe sal fasiliteer.”

Tydens die gesprek het ons dit baie duidelik gemaak dat hoewel ons Afrikanerbelange dien, ons ook as lid van die Afrikaanse taalgemeenskap kwessies wat hierdie gemeenskap raak wil aanspreek, maar dat ons ook die kwessies wat op die burgerlike samelewing in sy geheel ʼn negatiewe uitwerking het, eweneens op die tafel plaas.

Ten spyte van die feit dat dr Croucamp nie sy taak as fasiliteerder na behore uitgevoer het nie, het die deelnemers egter die geleentheid goed benut om openlik en sonder vrees hulle saak te stel en is ʼn groot aantal kwessies op die tafel geplaas. Ons het ook in persoonlike gesprekke met teenwoordiges nie die indruk gekry dat die Afrikaanse taalgemeenskap standpunt inneem teen Afrikaners nie. Dit is immers nie waaroor die gesprek gegaan het nie en was dit ʼn gesprek tussen die Afrikaanse taalgemeenskap en die ANC.

Dr Croucamp probeer met sy persoonlike en verwronge opvatting oor die Afrikaner ʼn wig indryf tussen die Afrikaner en ander lede van die Afrikaanse taalgemeenskap. Dr Croucamp, soos baie ander, besef nie dat ʼn Afrikaner tegelyk ʼn lid van die Afrikaanse taalgemeenskap en lid van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing kan wees nie, en dit geld net so vir ʼn Zoeloe, Xhosa, Khoi-San ensovoorts. Dit staan individue soos dr Croucamp natuurlik vry om hom nie met ʼn spesifieke kultuurgemeenskap te vereenselwig nie en ons respekteer dit. Ons verwag egter dieselfde van hom.

Die term Suid-Afrikaner is ʼn suiwer staatkundige begrip en kan nie verwar word met ʼn kultuurbegrip nie. Daar bestaan nie iets soos ʼn Suid-Afrikaanse kultuur nie, maar wel ʼn nasionaliteit. Dit word gedemonstreer in die sin dat daar nie ʼn Suid-Afrikaanse taal is, of homogene kulturele gebruike nie. Nog minder is ons gesamentlik gevorm deur historiese kragte. Wanneer Suid-Afrika egter op die sportveld optree of ons bevind onsself tussen mense van ander lande is ons Suid-Afrikaners. Dit is ons patriotisme en dit is ons lojaliteit. Vanuit ʼn nasionaliteitskonteks is ons dus Suid-Afrikaners. Dit onderskei ons van ander nasionaliteite.

Die term Afrikaans verwys na taalverband. In die verband en binne die konteks deel ons die taal met miljoene gebruikers van die taal en moet ons verenig om die taal Afrikaans tot sy reg te laat kom. Veel eerder moet die term Afrikaanssprekende gebruik word teenoor die term Afrikaanse wat soms verkeerdelik as ʼn kultuurbegrip aangewend word. Die Afrikaanse taalgemeenskap van Suid-Afrika is tans binne die Afrikaanse Taalraad georganiseer en tree gesamentlik op om bepaalde uitdagings die hoof te bied. Dit is ook die Afrikaanse taalgemeenskap wat Dinsdag 8 Mei 2012 met die ANC in gesprek was.

Die term Afrikaners verwys na kulturele identiteit. Kulturele identiteit verwys na die gebruikstaal, ʼn gedeelde historiese herkoms, vaste kulturele gebruike, en vele meer. In ʼn onlangse besprekingsdokument vir die Afrikanerbond – “Taal en Kultuur in die Suid-Afrikaanse grondwet” skryf prof Marinus Wiechers “Die individu is die belangrikste kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur ʼn groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne ʼn besondere kultuurgemeenskap beleef word. So ʼn kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur ʼn gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis.” Selfs Unesco wat poog om ʼn internasionale handves van kulturele diversiteit daar te stel beskou kultuur as eiesoortige eienskappe wat geestelike, materiële, intellektuele en emosionele kenmerke van ʼn samelewing of ‘n sosiale groep omvat, en dat dit benewens kuns en letterkunde ook lewenstyle, maniere van saamleef, waardestelsels, tradisies en oortuigings insluit. Duidelik is dr Croucamp ʼn ander mening toegedaan en gun hy nie aan Afrikaners ʼn kultuurerfenis of belewenis nie.

Die gevolgtrekking is dus redelik eenvoudig: Staatkundig is ek ‘n Suid-Afrikaner eerste, taalkundig is ek Afrikaans eerste, kultureel is ek ‘n Afrikaner eerste. Die begrippe staan nie teenoor mekaar nie en is die een nie afhanklik van die ander of ondergeskik nie.

Dr Croucamp se standpunt is ʼn belediging vir honderde duisende Afrikaners wat die volste reg het om as deel van die Afrikanerkultuur, neffens ander kultuurgemeenskappe, hulle Suid-Afrikanerskap uit te leef en te vier. Dit mag sekere politici en hooggeleerde individue dalk nie aanstaan dat ʼn beduidende groep in Suid-Afrika enersyds trots is op hulle Afrikanerskap en andersyds dankbaar is om deur hulle taal deel te wees van so ʼn groot taalgemeenskap nie.

Diegene wat ʼn weersin het in Afrikaners en dit as sodanig uitspreek moet self die vraag oor rassisme beantwoord. Om trots te wees op jou Afrikanerskap, stel jou juis in staat om ander kulture te waardeer en te respekteer en dit is presies wat ons wil bevorder.

Die Afrikanerbond se visie is As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika. Ons glo dat baie Afrikaners konstruktief en positief wil meewerk aan ʼn suksesvolle Suid-Afrika, daarom is ons deel van die gesprek en daarom soek ons saam na oplossings, saam met die regerende party en ook in gesprekke met die opposisie. Ons is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika en sal steeds voortgaan om ons bydrae op alle gebiede soos landbou, ekonomie, onderwys en vele meer te lewer. Ons sal ons nie deur verwronge idees van stryk laat bring nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s