Vat vyf en skud blad, want als is shap, ou maat

Dana Snyman

Ons manne wat in die stad grootgeword het, groet mekaar mos nie meer ordentlik nie. Of verbeel ek my?

Jy sal in die straat of in ’n winkelsentrum stap en ’n ou sien wat bekend is en dink: Ai, moet ek hom regtig gaan groet?

Eers sal jy ongemerk probeer verbystap, maar as dit nie anders kan nie, sal jy nader stap en iets sê soos: “Hallo. Hoe gaan dit?”

“Nee wat,” sal die ou antwoord. “Dit gaan goed, dankie. En jy?”

“Nee, dit gaan goed, dankie.”

Soms sal julle nie eens bladskud nie. En as julle dit wel doen, sal albei se handdruk neutraal wees: nie te hard nie, ook nie te sag nie.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n man gegroet het wat my hand soos ’n knyptang beetgekry het nie, asof dit die normaalste ding op aarde is.

Miskien het dit iets met die ANC se bewindsoorname in 1994 te doen, het ek al gedink.

Miskien het die Afrikaanse man se handdruk ná ’94 begin verslap.

Vroeër is daar byna van jou verwag om ’n ander man ’n stewige handdruk te gee.

“Moenie vir my so ’n ou slap handjie gee nie, ou maat,” sou ’n oom jou teregwys. “Druk hom! Nog! Nóg!”

Dikwels was dit ook nie die grootste, sterkste ooms wat jou hand die hardste gedruk het nie.

Dit was die kortetjies en die lang, maer seningriges. Soos oom Shorty.

Oom Shorty het altyd sandale gedra en ’n crimpeline-kortbroek, ’n geruite hemp en ’n Gatsby-pet.

As jy hom in die straat raakgeloop het, het jy geweet hier kom pyn.

“Groet jy nie?” het hy altyd gesê terwyl jy besig was om na hom te stap. Dan was jou hand in syne. “Dag, ou maat. Hoe gaan dit?”

“Nee, dit gaan goed, dankie. En met oom?”

“Aanhou, uithou, kophou en bekhou. Wat sal dit tog help om te kla?”

Ek het altyd probeer om my hand so slap moontlik te hou, maar dit het nie gehelp nie: Oom Shorty het jou hier om die kneukels beetgekry en jou hand bewerk terwyl hy jou vrolik uitgevra het: “Hoe gaan dit met jou pappie?”

“Nee, dit gaan goed met hom, oom.”

“En met jou mammie?”

“Ook goed, oom.”

“Ek sien jy ry nog met die Mazda-bakkie. Wat gee sy jou per kilo?”

Teen die tyd dat jy jou hand uiteindelik weer vir jouself gehad het, het jy oom Shorty selfs vertel van jul kat wat vyf kleintjies gekry het.

Sulke ooms sê ook nie net vir jou dit gaan goed of sleg nie.

Dis altyd ’n rympie, soos: “Arm maar geduldig, ou broer.”

Een ding merk ek nogal deesdae van myself – en ander mans – op.

Soms wanneer ek ’n swart man groet, sê ek nie sommer net: “Nee, dit gaan goed, dankie” nie.

Ek praat in ’n oordrewe stem en is baie vriendelik en sê goed soos: “Shap-shap”, terwyl ek lomp probeer om sy hand op die Afrika-manier te skud: hand, duim, hand.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s