Dodedans van partypolitiek

Deur Quintin Diederichs via Maroela Media – Solidariteit

Die Suid-Afrikaanse politieke landskap het onherroeplik verander na die ANC byna twintig jaar gelede die septer begin swaai het. Die regerende party het elke verkiesing sedert 1994 loshande gewen, ten spyte van die feit dat hulle die land in die grond in regeer. Kan ’n klein Afrikanerminderheid enige sinvolle weerstand bied teen hierdie belaglike bestel deur die ANC by die stembus aan te vat?

Die eerlike antwoord is nee. Wanneer dit by politieke weerstand en oplossings kom, dink meeste Afrikaners ongelukkig nog in terme van partypolitiek. Organisasies soos Solidariteit en die Orania Beweging bied wel ’n alternatief wat besig is om vlam te vat onder Afrikaners. Meer hieroor later.

Sedert die vroeë 1980’s het daar ’n duidelike ideologiese skeiding binne die Afrikanerdom plaasgevind. Die 1994-verkiesing het bevestig dat Afrikaners twee uiteenlopende roetes gaan volg wat hul plek en toekoms in suidelike Afrika sal bepaal. Diegene wat besluit het om te emigreer het ’n derde roete gekies en ons wens hulle sterkte toe terwyl ons hoop dat hulle eendag weer by ons sal kom aansluit.

In 1994 het die Nasionale Party nie meer in volkspolitiek belanggestel nie en hul veldtog het gewentel om die “Suid-Afrika-Eerste-sindroom” waarmee die Afrikaner al sedert Barry Hertzog se dae geïndoktrineer word. FW de Klerk en kie het die NP se beheptheid met Afrikanernasionalisme van ouds getransformeer in ’n soort multikulturele nasionalisme: ’n beter Suid-Afrika vir almal. Dit is onmoontlik om te weet hoeveel Afrikaners vir die NP in 1994 gestem het, maar dit moes heelwat gewees het.

’n Groot deel van die Afrikanervolk het anders gedink. Hierdie mense het geglo, en glo steeds, dat ’n Nuwe Suid-Afrika met sy ANC-regering en ’n liggewig multikulturele opposisie nie in ons volk se beste belang is nie. Hul Afrikaner identiteit was dus vir hulle belangriker as hul Suid-Afrikaanse nasionaliteit. Meer as ’n halfmiljoen Afrikaners het toe in 1994 vir ’n volkstaat gestem nadat genl. Constand Viljoen by die volk gepleit het om wesenlike steun vir die vryheidsideaal te bewys deur hul kruisies langs die Vryheidsfront te trek.

Die Konserwatiewe Party het ook die volkstaat-ideaal ondersteun, maar het besluit om die verkiesing te boikot saam met die Herstigte Nasionale Party, vanweë die slagspreuk “Stem reg, bly weg”. Hoeveel Afrikaners in 1994 van die stembus af weggebly het maar wel ’n volkstaat wou hê, is ook onmoontlik om te bepaal.

Die eerste roete is dus vir diegene wat in Suid-Afrika über alles glo. In sommige gevalle sal hulle probeer behou wat hulle kan, maar diep binne hul harte weet hulle dat hul eie, asook die nageslag, se kulturele identiteit sal moet transformeer sodat hulle deel van hul land en sy nasie kan wees. As vry Suid-Afrikaners onderwerp hulle hulself vrywilliglik aan die meerderheid se wil. Die eerste stap van transformasie was natuurlik om hul land se nuwe staatspresident, vlag en nasionale lied met ope arms te aanvaar.

Die tweede roete is vir die wat glo dat Afrikaners, soos bv. die Swazi’s, Taiwanese en die Dene, ’n land van hul eie moet hê. Hulle wil hul taal, kultuur en kundigheid op alle vlakke bemagtig en weier eenvoudig om te transformeer in iets wat hulle nie is nie. Hulle beywer hulself eerder vir ’n nuwe Republiek vir die Afrikaner as om die ou een wat ons in 1961 gestig het, maar ideologies onvolhoubaar regeer het, terug te vat. Die kern van hierdie denkers kan vandag op Orania gevind word waar hulle tans besig is om met hul eie arbeid ’n nuwe toekoms vanuit die grond uit op te bou.

Na 1994 het die Engels-dominante Demokratiese Party (DP) blankes oor die algemeen, en Afrikaners in besonder, uitstekend opgesom. Hulle het besef dat ons ou Suid-Afrikaanse patriotisme en diepgewortelde ontevredenheid met die ANC, kragtige politieke troefkaarte is. Die DP begin toe om die “sterk opposisie” drom al hoe harder te slaan. In die 1999-verkiesing het dit skielik vir hulle baie punte op die telbord besorg.

Kortliks daarna het die DP en die NNP saamgesmelt om nog sterker opposisie teen die ANC te vorm. Gevolglik het die meerderheid Afrikaners begin glo dat hierdie nuwe sterk opposisie, nl. die Demokratiese Alliansie (DA), die ANC kan klop en dat Suid-Afrika sodoende ’n beter plek vir almal sal wees.

Neem in ag dat ’n skrapse 20% van die kiesers in 1994 vir die NP gestem het en dat hierdie lae syfer nog nooit verbygesteek kon word deur enige opposisie party nie. Die DA se groei van ’n 12% opposisie party in 2004 na ’n 16% opposisie party in 2009 is ’n nul op ’n kontrak werd aangesien die ANC in 2009 steeds meer as 65% van die stemme gekry het (byna 3% meer as in 1994), dit terwyl ’n groot faksie binne die regerende party voor die verkiesing uitgestap het en COPE in die lewe geroep het.

Trouens, daar was nog nooit sprake van ’n werklike sterk opposisie party in die Nuwe Suid-Afrika gewees nie. Al smelt al die opposisie partye saam onder een vaandel, sal die ANC steeds op hul troontjie bly sit want hulle is al vir meer as ’n eeu lank meesters in die spel om die swart meerderheid te paai.

Waarom dan soveel hoop plaas op partypolitiek? Dit gaan die verstand te bowe dat ons mense stem vir die DA of COPE, wat nes die ANC ook rasstellende aksie, grondhervorming en pleknaamverandering bevorder terwyl nie een van hierdie twee opposisie partye enigsins ’n behoefte het om ons pragtige taal, trotse kultuur en beproefde kundigheid te bemagtig nie.

Dit maak net nie sin om vir ’n opposisie party te stem wat in beginsel dieselfde doen as die ANC, maar dinge net ’n bietjie anders stel nie. As jy voel dat jy móét stem om die ANC nie ’n tweederdemeerderheid te gee nie, weet dan dat ’n kruis langs die ACDP of VF Plus minstens jou Christelike waardes verteenwoordig en beslis ook as ’n stem téén die ANC tel.

Die oplossing lê verseker nie in partypolitiek nie. Die Solidariteit-beweging het gedurende die afgelope dekade meer vermag om Afrikaners se belange te beskerm as enige politieke party. Deur nie deel te neem aan partypolitiek nie, hoef Solidariteit en sy instellings soos bv. AfriForum en Helpende Hand nie beloftes te maak wat hulle weet hulle nie kan nakom nie. Anders as in die parlement, ding Solidariteit mee op ’n terrein waar die ANC se getalle absoluut geen gewig dra nie. Die onlangse saak wat AfriForum teen Julius Malema (met al die ANC swaargewigte agter hom) gewen het dien as een van vele voorbeelde.

Natuurlik is die privatisering van die Afrikaner se samelewing nie genoeg nie omrede niemand weet vir hoe lank die Suid-Afrikaanse regbank nog onafhanklik gaan wees nie. Die ANC is juis stelselmatig besig om hul idee van ’n onafhanklike regbank te implementeer en die vooruitsigte lyk nie goed nie.

Ons het ook ’n eie ruimte nodig – ’n grondgebied waar ons self ons lot kan bepaal. Ons benodig ’n grondgebied waar ons taal, kultuur, geloof, tradisies, eiendom, voedselsekerheid en eie arbeid beskerm word en waar ons eenvoudig net in veiligheid kan aangaan met ons lewens.

Dit is die vryheid waarvan die Orania Beweging praat. Vryheid wat hulle sedert 1991 besig is om vir Afrikaners te ontwikkel daar tussen die Oranjerivier en die Weskus.

Die Orania Beweging handhaaf ’n beskaafde verhouding met die Suid-Afrikaanse regering terwyl hulle ’n de facto werklikheid uitbrei wat niemand kan ontken of ontwrig sonder om elke internasionaal aanvaarde wet en riglyn m.b.t. minderheidsregte te verontagsaam nie. En as hierdie roete eindig in ’n nuwe Afrikaner Republiek waar ons en die nageslag ’n seker toekoms het, dan is dit ook goed so!

As jy werklik ’n verskil in jou leeftyd wil sien dan is dit hoogtyd dat jy die dodedans van partypolitiek laat vaar vir diegene wat nie met die Afrikaner kan of wil assosieer nie. Word deel van ’n nuwe werklikheid deur jou gewig agter enige van Solidariteit se inisiatiewe te gooi en spoedig aan te sluit by die Orania Beweging.

Ja, ons het ’n blink toekoms in Afrika en ons het nie die DA, COPE of enige politieke party nodig om dit vir ons te gee nie, want die Afrikaner het die vermoë om dit vir homself te bou!

Wie is QuintinDiederichs?

Quintin is gebore op 25 Okt. 1981 te Pretoria. Hy het BA Kommunikasiewetenskap deur UNISA studeer en was van 2004 tot einde 2006 in voltydse diens van die ‘Ministère de l’éducation nationale’ in Frankryk. Gedurende hierdie tydperk het Quintin ‘n toerisme maatskappy tot stand gebring en in Des. 2006 keer hy terug na Afrika. Na sy eerste besoek aan Orania in 2008 raak hy aktief betrokke by die Afrikaner vryheidsideaal. Quintin en sy vrou, Rozanne, woon sedert Okt. 2010 permanent op Orania. In 2011, op die ouderdom van slegs 29, is dié jong entrepreneur verkies tot lid van die Orania Burgerraad.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s