Min sprake van ware vryheid

2012-04-28

Pres. Jacob Zuma wou Suid-Afrikaners Vrydag, op Vryheidsdag, opnuut laat glo die land is op koers na groter vryheid en voorspoed sedert 27 April 1994, maar daar is min denkendes wat hom sal glo.

Zuma het weer grootliks staatgemaak op die ANC se toenemend krimpende morele kapitaal: die vryheidstryd. Daar was weinig wat die res van ons inspireer, behalwe vir die tronkvoëls wat afslag op hul vonnisse kry.

Te veel van ons glo sy regering beroof Suid-Afrikaners deur sy gebrekkige toepassing van demokrasie van hul swaar verdiende vryheid.

Een kommentator het gesê die huidige ANC-leiers het baie om oor verantwoording te doen. Dit is húlle wat die land stelselmatig laat vasval in die Zumakrasie, ’n verwaterde toepassing van die demokratiese beginsels waarvoor talle gesterf het.

Nog een het gesê die land het in Zuma se bewind vasgeval en selfs agteruitgeboer. Hy vra of Zuma die land kan beredder en ons op die pad van hoop en vooruitgang plaas.

Barney Mthombothi, redakteur van Financial Mail en ’n gerespekteerde politieke ontleder, meen Suid-Afrikaners se drome wat op 27 April 1994 gebore is, het in nagmerries verander. “Ons moet terugkeer na die gees van daardie dag om die gloeiende, pryslose ornament terug te eis: vryheid in al sy glorie.” Mthombothi meen die beoogde muilbandwet en sprake van ’n mediatribunaal is “kontrepsies” wat hierdie vryheid aan bande lê.

Die FW de Klerk-stigting het weer gesê die 18de herdenking van ons eerste demokratiese, algemene verkiesing behoort ’n geleentheid vir viering te wees. “Hierdie jaar is die meer gepaste reaksie egter selfondersoek. Op geen tydstip sedert 1994 was daar meer rede tot kommer oor die toekoms van ons grondwetlike demokrasie as juis nou nie.”

Nee, agbare pres. Zuma, gewone Suid-Afrikaners sal net glo dat hulle waarlik vry is as die regering hulle ’n veilige werk-en-leefruimte kan waarborg. En as die land se onderwysstelsel die belange van almal se kinders eerste stel.

Nou leef te veel in vrees vir misdadigers en te veel skole slaag nie in hul taak om gehalte-onderwys te bied nie.

Verder ontneem die hoë vlak van korrupsie talle mense die geleentheid om voorspoed te kan ervaar. Suid-Afrika beklee nou die 64ste plek op die korrupsiepersepsie-indeks.

Net ’n jaar gelede was ons nog tien plekke beter daaraan toe. Voorts het die Wêreldbank gewaarsku korrupsie beroof die land van sy toekoms. Hoe kan ons vry voel sonder die vooruitsig van ’n toekoms?

Tog is daar ligpunte in die manier waarop die burgerlike samelewing sy kop optel oor die regerende party se foute, mislukkings en ondeurdagte weë wat ons van vryheid beroof.

Een daarvan is die vorming van Corruption Watch.

Nog een is die afgelope week se stigting van die beweging vir sosiale verandering onder leiding van die sakevrou en sosiale aktivis dr. Mamphela Ramphele. Dié organisasies verdien die steun van elke landsburger. Dit sal ons saam weer die ware betekenis van Vryheidsdag laat ontdek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s