Ons sal dit oorleef

Deur : Steve Hofmeyr

Soveel versoeke hiervoor. Veral na die Voortrekkermonument konsert (foto onder). Hierdie woorde kan jy hoor op my konsert, elke aand, voordat ek ONS SAL DIT OORLEEF sing. Dit was vreemd om dit neer te skryf, want ek doen dit elke aand anders en sommer uit my kop uit. En die spoeg spat, ja:

“Toe U2 Suid-Afrika toe kom, koop ek my kaartjies heel eerste. R5000 vir twee kaartjies. Ek wag al twintig jaar daarvoor. Ek het ’n orkes begin danksy U2. Ek het al hulle liedjies geken en veral van hulle sanger gehou. Soos Bono sou ek ook verveeld raak om ’n popster te wees. Daar moet meer wees in die lewe as om ’n popster te wil wees. Saterdagaand sien ek my held in Johannesburg. Ek’s reg. Maar Vrydagaand sing ek eers in Alldays. Dis vêr noord. Warm bosveld. Die aanloopbaan lê sommerso langs die verhoog tussen die doringbome. Die volgend oggend vra die Boer of hy sy familie aan my kan kom voorstel. Natuurlik sê ek. Toe hulle inkom, sien ek vier opgekerfde mense voor my. Ek maak nog ’n dom grap. Ek vra die Boer of dit ’n leeu of luiperd was wat hulle aangeval het. Nee, sê hy. Dit was ’n mens.

Ek weet nie wat om te sê nie. Ek verskoon myself en loop vliegtuig toe. Kyk nie om nie. Ek wil wegkom. Ek waai vir die opgekerfde mense. Ek wil nie weet nie. Ek wil Bono gaan kyk in Johannesburg. Toe ek land in Pretoria klim ek in my kar en jaag deur. Toe ek oor die Jukskei ry hoor ek Bono sê dat dit okei is om Struggle liedjies soos KILL THE BOER te sing. Ek slaan my brieke aan, maak my venster oop en smyt my kaartjies in die Jukskeirivier.
Ek draai om en gaan huis toe.

Dis nie blerrie okei nie, meneer Bono. Want voordat jy weer WITH OR WITHOUT YOU sing, sal ons meer Boere verloor het as wat julle mense verloor in Ierland. En ons SAL ’n Boer verloor voor Sondag. Ons Afrikaners staan meer Boere af aan die dood as wat daar soldate sterf in Irak en Afganistan saam. Dit is nie okei nie, meneer Bono. Waar is jou humanitêre grootbek nou dat die sterftesyfer hoër is ooit?
DIT IS NIE OKEI NIE.
Want elke keer as daar ’n Boer sterf, verloor ek en jy iets.
Verloor jy ’n stukkie taal, ’n stukkie kultuur, ’n stukkie identiteit en godsdiens.
Verloor ons die voorreg van ’n Afrikaanse grappie om ’n braai.
Verloor ons die voorreg van nagereg. Van Hertzogkoekies en Jan Ellis Poeding.
Verloor ons die voorreg van Psalm 23, in Afrikaans.
Verloor ons ’n Gesang wat sê ek sien ’n nuwe hemel kom.
Verloor ons ’n stukkie Sheila Cussons, ’n stukkie Elizabeth Eybers, Eugene Marais en AG Visser.
Verloor ons NP van Wyk Louw en Brolloks en Bittergal.
Verloor ons die voorreg van CJ Langenhoven en om op ’n rots te staan en skree: ek sal antwoord op jou roepstem en sal offer wat jy vra.
Verloor ons die FAK, verloor ons Suikerbossie. Verloor ons Hasie Hoekom Is Jou Stert so kort.
Verloor ons die voorreg van Voortrekker erfenis al langs die N1 af. Totsiens Louis Trichardt, Totsiens Pietersburg, Totsiens Naboomspruit, Totsiens Nylstroom, Totsiens Warmbad en Totsiens Pretoria. Wie de donner was Tswane in elk geval!?
Kom ek vertel jou wie was Pretorius, Potgieter, Maritz, Generaals Botha, Delarey, Hertzog en Smuts.
Elke keer as daar ’n Boer sterf verloor ons die voorreg van die Groen en Goud, verloor ons die Springbok, verloor ons vir Danie Craven en Frik du Preez.
Verloor ons ’n bladsy in die geskiedenis sillabes van ons eie land.
Verloor ons die voorreg van EEN klaskamer in Afrikaans.
Verloor ons die voorreg van EEN enkele Afrikaanse universiteit.
Dit is nie okei nie.

Sê ek jou dit als om jou swaar te maak?
Nee.
Ek sê jou dit om jou lig te maak. Jou te bevry. Kyk na jou arms. Het jy vergeet watter bloed vloei in jou are? Jy kom van voorouers uit Europa wat geweier het om onderdanig te wees aan enigiemand. Toe pak hulle hul tasse. Waarnatoe? New York toe? Ha! Na die gat kant van Afrika toe. Hier moes hulle weer onderdanig wees. Twee keer. Waarnatoe trek hulle? Terug New York toe? Ha! Binneland toe op ’n geelhout kakebeenwa met tien osse en ’n touleier. In elke oorlog waarin jou voorouers betrokke was, was hulle verreweg die minderheid. Dan wen hulle! Dan wen hulle! En wanneer hulle verloor, dan gaan hulle op hulle knieë en sê Dankie, God, ons sal dit oorleef.

Ek sê jou vandag.

Ons sal dit oorleef.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s