Die Afrikaner, vrede en doringdraad

Deur : Gustav Venter

Met al sy tegnologiese wondervernuf, sy millennia se repositorium van ervaring en wysheid, sy nuwe insigte in die werking van die brein en sy databasisse van sosiale gevallestudies, bly die mense onmagtig om die kosbaarste toestand op aarde te bewerkstellig: Vrede. Oorlogmaak, dit is maklik; vredemaak, blykbaar onmoontlik.

Oorlog is gereeld so verloklik. Mense sien oplossings daarin. Sommige het selfs ‘n diepliggende, instinktiewe vertroue in oorlog om alles reg te maak. “Wanneer jy twyfel,” sê die ambagsmanne, “gebruik ‘n hamer. Hoe groter die twyfel, hoe groter die hamer.” Oorlog is die grootste hamer wat daar is en daar is ‘n geneigdheid om daarvoor te reik om nasionale dooiepunte reg te klop. Deesdae hoor ek die praatjies, voel ek die seismiese trillings van my eie mense wat oorlogpraatjies maak; wat in die taal van Van Melle die “donkerbek” wil opneem. Ek verstaan hierdie versugting na ‘n hamer om ons te wreek op ons volk se vyande, om die steierwerk onder die magte wat ons toenemend onder die juk wil plaas, weg te slaan. Ek begryp. Ek voel dikwels ook so. Laat my net eers die saak van vrede bepleit.

Vrede is in die eerste en vernaamste oorweging ‘n toestand sonder oorlog. Ek het genoeg van oorlog gesien in die letsels wat op my volk gelaat is deur die Britse ryk. Ek het die oorleweringe van daardie oorlog en honderde ander raakgelees en dit in TV-reekse gesien. En ek het oorlog selfs beleef as ‘n infanteris in die Grensoorlog. Oorlog is ‘n vuur waarin die mooiste menslike eienskappe gesmee word, soos dapperheid en kameraadskap en opoffering, maar dit ís in die eerste plek ‘n vuur. Dit vernietig nie net vel, vlees en been nie, dit skroei gemeenskappe weg, verwoes dorpe, stede, plase. Dit bring hongerte, verveeldheid, verskrikking, magteloosheid. Dit maak oud. En dit bring veral die Groot Nooitweer, daardie verskriklike emosionele woestyn waarin moeders nooit weer hulle seuns se aanraking sal voel nie, waar vaders nooit weer hand aan hand met hulle dogters sal loop nie, waar vriende nooit weer sal saamkuier nie, waar getroudes mekaar nooit weer sal bemin nie. Oorlog teer uit en oorlog maak klaar. Die wyse man put homself uit om oorlog te verhoed, tot op die aller-allerlaaste.

Liberaliste is oorwegend, instinktief teen oorlog gekant, wat óók ‘n ironie is omdat dit hulle juis aandring op die elemente wat oorlog veroorsaak. Hulle glo in multi-kulturalisme, die konsentrasie van twee of meer dominante kulture in een grondgebied. Dit is ‘n vernietigende utopiese droom. In ‘n land sal die een dominante kultuur altyd streef om die ander te oorheers. Van 1989 tot 2002, volgens die definisie van die Verenigde Nasies, was daar 92 konflikte – ‘n gewapende stryd waarin meer as ‘n duisend mense dood is – wêreldwyd gewees. Hiervan het net drie oor die grense tussen lande plaasgevind. Die ander 89 het in die wrywing tussen volke wat in een land vasgekeer is, ontstaan. Kulturele diversiteit sal onvermydelik die land, die huls daarom, vernietig.

Hedendaagse liberalisme se meesterplan vereis die allesoorweldigende, diepgaande, mikrofyn ingrype van die regering om elke en alle mense te dwing om deurgaans teen hulle en die wyer natuur op te tree. Die een liberale instink wat alle ander oortref is om grense te verwyder, en wanneer daar geen grense tussen volke en rasse is nie, verg dit ’n nimmereindigende stel reëls en onverpoosde toepassing daarvan om ’n katastrofe te verhoed. Alle wesens is ingerig om instinktief grense op te rig en te gehoorsaam. Dat dit grense is wat lewe hoegenaamd moontlik maak, is daar vir almal om in die natuur te sien.

Duisende seeleeus kan hulleself op ’n kaal rots wat bo die oseaan se oppervlak uitsteek, saampers, net omdat elke een, elke keer na sy skraal lappie klip sal terugkeer. ’n Werpsel varkies is dikwels te veel vir die tepels van die sog. Dit is net deur ’n instinktiewe grens wat hulle mekaar nie vertrap om te suip nie: Elke varkie suip elke keer net aan die eerste tepel waaruit hy sy eerste melk gekry het. Die kleiner en swakker varkies het nou minder kompetisie wanneer dit by etenstyd kom.

Rooibokke doen dit, leeus en jakkalse doen dit: Die sterker manlike diere baken hulle gebiede af. Solank ander manlike diere in die omgewing dit respekteer, is daar vrede.

Dis nie net wilde diere wat op grense vir hulle samelewing staatmaak nie. Hier op die plaas, teenaan my voorstoep is ’n bulkamp. Die melkery se stoetbeeste rus hier uit en word vet voordat hulle na die koeie toe uitgaan om te gaan werk. Eendag daag hier ’n bonkige, rooi Suid-Devon-bul op en enige en alle harmonie is daarmee heen. Ou Rooie en die Friesbulle het dag in en dag uit gestoei en gestamp. Die oplossing was eenvoudig: ’n Stuk doringdraad. Ons het die rooi bul na ’n ander kamp geskuif vanwaar hy en die Friese mekaar en mekaar se voorgeslag na hartelus kon slegsê – maar nie lyflik in aanraking kon kom nie.

Dit is eenvoudig om te bepaal watter wette en instellings oor ’n nasionale front sal werk. Wat in persoonlike en huishoudelike verhoudings werk, is net so geldig in nasionale verband, want volke en rasse is na alles net uitgebreide families. My pa en ma het albei gewerk, wat beteken het ons, die vier kinders, was smiddae na skool vasgekeer in ons eie klein republiek. My pa het nie ’n geklikkery geduld nie en het ons aan ons eie maatreëls vir oorlewing oorgelaat. Hy het net een reël gemaak: Elke kind het sy of haar eie kamer gehad en dáárdie stukkie grondgebied was afgesonder. Dit is die enigste klagte wat Pa in die aand sou aanhoor. Die kind wat ’n ander se kamer óf sonder toestemming betree het, óf nie op bevel verlaat het nie, was in diep en warm sop. Hierdie eenvoudige reëling het vir my, die kleinste en stadigste, lewe moontlik gemaak. Maak nie saak watter ellende ek met my buierige suster of die twee vandale, my ouer broers, opgedoen het nie, as ek dit net tot in my kamer kon maak, was daar vrede.

O, moenie vir ’n oomblik dink die liberaliste verstaan nie hierdie eenvoudige beginsel nie. In Clarens het ons ’n volbloedliberalis, ’n volwaardige ANC-Robbeneiland-alumnus. Toe hy ingetrek het, het hy sy werf, in ’n newelvlaag van snoesige reënbooggevoelens, nie omhein nie. Die swartmense het gerederlik kortpad deur sy tuin na die plakkerskamp gekies. Dit was altyd ’n vreugde om te sien hoe pleit hy van sy voorstoep af: “Please, my brother, this is private property…” (“Asseblief, my broer, hierdie is private eiendom…”) Uiteindelik het hy maar ’n draad gespan. Vrede. Maar hierdie eenvoudige vredesreëling is een wat hy nie vir die land as geheel gun nie. Werk dit nou maar self uit!

Die liberalis het nou maar eenvoudig ’n hekel in grense. CNN, die televisienuusdiens, is een van die suiwerste produksielyne van onverdunde liberale ideologie. Hulle huidige slagspreuk is: “Beweeg oor grense.” In een van daardie selfaanbevelende blakerinsetsels verskyn ’n rits aanbieders en ander CNN-werknemers op skerm om te pruil oor die negatiewe aard van grense. “Grense verwar,” prewel ’n swartkopvroutjie. “Hulle bring konflik.”

Nee! Nee… Dis net teenoorgesteld. Grense bring sekerheid. Grense vermy konflik, en sy wéét dit. Haar hele bestaan is volgens grense ingelig. Om mee te begin het sy klere aan en klere is niks anders as grense nie. Sy het sekerlik ’n lessenaar wat aan haar toegewys is, en dít impliseer ’n afgesonderde terrein en dié is sonder grense onmoontlik. Haar lessenaar het laaie en die slotte daarop is ook grense. Sy aktiveer ’n grens wanneer sy haar motor sluit, of haar huis se deur agter haar toegrendel.

Dieselfde liberaliste wat die Afrikaner sy afsondering agter ’n grens wil ontsê, sal skuim om die mond as, sê nou maar, ’n spul boere opruk en Lesotho binnery en begin om daar plase vir hulleself uit te lê. Nou ja, ’n mens kan niks wat ’n hedendaagse liberalis sê ernstig opneem nie. Bloedweinig, indien enige, van hulle is bereid om vasbeslote daad by hulle maklike woorde te voeg deur in ’n lokasie te gaan woon, hulle kinders na ’n swart skool toe te stuur of om met ’n anderskleurige te trou. Die grense, wat hulle so hartlik verpes, is juis die waarborg vir hulle gerieflike lewens.

Die liberale propagandameul het deur die jare velerlei simbole vir vrede voorgestel, van die heksepoot-“vredesteken” tot die olyftakkie, die wit duif en die Gebreekte Geweer. Elkeen hiervan spoor ons aan tot ‘n onhaalbare ideaal: Vrede te midde van kulturele diversiteit in ‘n land.

Ek het ‘n ander voorstel vir nie net die simbool van vrede nie, maar ook die enigste praktiese werktuig daarvoor: Die doringdraad. Dit is die oudste beginsel van vrede, die enigste weg daartoe. Wil jy vrede tussen verskillende kulture hê? Rig ‘n heining tussen hulle op. Slaan Abraham en Lot se veewagters mekaar dood? God het ‘n oplossing: Laat die stamvader en sy nefie elkeen op sy eie grond gaan woon. Hoe akkommodeer jy twaalf stamme van ‘n volk in een land? God wys vir elkeen in noukeurige besonderheid ‘n deel van die land Kanaän toe.

Vir my volk is dit so eenvoudig: As jy oorlog wil hê, hoef jy niks anders te doen as om presies soos nou te leef nie. ’n Ingrypende wending in die politieke bestel is dringend nodig, of oorlog sal daar wees. As jy wil vrede hê, gaan woon in jou eie land, net jy en jou mense, en maak die hek agter jou toe. Krygsgeweld is nie ’n uitweg vir ons nie. Ons Boere het ’n aanleg vir oorlog, en daarom ook iets van ’n voorliefde daarvoor, maar ons moet dit nie eers oorweeg totdat ons elke ander moontlike roete, middel en tegniek gebruik het om ons onafhanklikheid af te dwing nie. Te veel mense praat van oorlog as ’n maklike uitweg, ’n eenvoudige roete tot in ons Volkstaat. Dit sal nie maklik of aangenaamwees nie en die vrede daarna sal bloedig duur wees om te bewaar. Ons moet eerder sonder ophou, sonder om te talm, hard en doelgerig werk om ons eie soewereine land te verwerf.

Vir my volk se vyande is daar ook ‘n woord: Laat die Afrikaner gaan anders sal daar oorlog wees, en glo my, as dit by oorlog kom, niemand slaan so hard met daardie hamer as die Boer nie. As jy vrede wil hê, bring jou rol doringdraad. Of anders: Koes!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s