Wat Dr. Mulder eintlik vir die ANC se

Deur: Hermann Giliomee

Daar is kere dat ’n mens wanhoop dat die politieke debat in die “nuwe” Suid-Afrika ooit volwassenheid sal bereik. Dit is klaarblyklik ’n skrale moontlikheid as dit oor ’n kwessie soos grond gaan, skryf Hermann Giliomee.

Oor die laaste paar dae het ’n storm om die kop van dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, uitgebreek omdat hy dit durf waag om die ANC se grondhervormingsbeleid te
kritiseer.

Hoofartikels en rubrieke het Mulder gestriem oor sy onsensitiwiteit, sy onkunde oor die geskiedenis en selfs oor die sogenaamde leuens wat hy vertel het. Business Day het verklaar: “Dr. Mulder het sy party en sy land in die steek gelaat.” (22 Maart.)

Wat is die onvergeeflike, onsensitiewe flater wat Mulder begaan het? Hy het gereageer op die stelling van die departement van landelike ontwikkeling en grondsake en pres. Jacob Zuma dat nog net 8% van die grond sedert 1994 aan swart mense oorgedra is.

Dit beteken dat die regering se teiken van 30% grond in swart hande in die gedrang is.

Sedert 1994 is demografie en die eise wat daarmee saamhang ’n sentrale deel van die politieke spel. Veral in aanstellings in die staatsdiens en sport is dit ’n gevoelige saak.

Maar al kan minderhede nie die regering se speletjies boikot nie, kan hulle vra: Die nasionale demografie of streeksdemografie?

In die Wes-Kaap is mense woedend oor die regering wat die nasionale demografie wil afdwing op die gevangeniswese in die provinsie waar die demografiese proporsies heeltemal anders is.

Die mees gewraakte sin in Mulder se toespraak het gelui: “Die ANC praat graag van ‘Black people in general and Africans in particular ’… (maar) ‘Africans in particular’ het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie.

“… Daar is genoeg bewyse dat geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en die Noord-Kaap gewoon het nie. Hierdie dele beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.”

Business Day se kommentaar daarop is dat historici baie van Mulder se feite betwis. Ek weet egter nie van ’n enkele historikus wat Mulder se stelling betwis dat “Black people in general and Africans in particular” teen die 1770’s nie in genoemde twee provinsies gewoon het nie.

Die verhaal van die besetting van grond in die 18de eeu word uitvoerig beskryf aan die hand van argivale bronne in The Shaping of South African Society, 1652-1840.

Ek het daarin aan die hand van argiefdokumente oor die eerste kontakte en konflikte tussen wit en swart tussen 1770 en 1812 geskryf, terwyl Martin Legassick die noordgrens (die huidige Noord-Kaap) behandel het.

Soos Jeffrey Peires in sy standaardwerk oor die Xhosa se geskiedenis aandui, het Xhosas nooit op grond anderkant Sondagsrivier aanspraak gemaak nie.

Business Day verklaar ook dat Mulder se stelling aanstoot gegee het teenoor Suid-Afrikaners van alle rasse wat die onreg van die verlede probeer herstel. Dis nie presies duidelik wat daarmee bedoel word nie.

Mulder het beslis nie die ou mite verkondig dat die land leeg was toe die wit mense hier aangekom het nie.

Wat wel waar is, is dat die sogenaamde tuislandbeleid, soos dit deur dr. H.F. Verwoerd in 1959 aangekondig is, gegrond was op die foutiewe historiese aanname dat ’n groot deel van Suid-Afrika nie bewoon is nie.

Dié opvatting was algemeen onder wit historici.

In 1957 het Eric Walker se History of Southern Africa verskyn, wat ’n tyd lank as die standaard algemene geskiedenis beskou is.

Oor die vestigings­patrone van “Africans in particular” (Mulder se woorde) het Walker geskryf: “In some parts of the present-day ­Union and Southern Rhodesia their occupation is not much older than that of the Europeans, and in the western half of the Cape ­Colony it is more recent than theirs.”

Die eerste deel van die stelling is nie korrek nie.

Gedurende die 1960’s het ar­geoloë ná ­nuwe opgrawings aangetoon dat die eerste deel van die stelling foutief is: Swart mense het inderdaad verspreid oor die land in die hele oostelike en noordelike deel gewoon.

Die belangrike punt van Mulder was egter nie om sekere groepe se reg op die grond te verdedig nie.

Vir hom het dit in die eerste plek daaroor gegaan dat mense nie die geskiedenis moet misbruik om swak beleid en die ewe swak toepassing daarvan te probeer regverdig nie.

Die regering wil nou die vrywillige koper/verkoper-beginsel laat vaar omdat die boere glo nie wil saamspeel nie.

Mulder voer aan dat die kernoorsaak nie die boere se onwilligheid is nie, maar die onbevoegdheid van die betrokke departement.

Dit antwoord nie op boere wat grond aanbied nie en in baie gevalle sloer die departement lank om vir grond te betaal wat oorgedra is.

Die departement stel dit ook nie duidelik wat hy bedoel met die doelwit van 30% besit in swart hande nie. Wat is swart? “Africans in particular” of swart, bruin en Indiërs saam?

Die inheemse mense wat in die westelike helfte van die land gewoon het voor wit vestiging was die Khoikhoi en San en die regering se grondhervormingsbeleid is beslis nie op hul nasate toegespits nie.

Die vraag is verder of die syfer slaan op alle besit, staatsgrond ingesluit, of grond in private besit.

As dit gaan oor laasgenoemde, is die regering se doelwit reeds bereik, want hy kan by die 13%, wat in 1994 in swart hande was, die 8% toevoeg wat hy aangekoop het en die 25% van die totale landsoppervlakte wat volgens Mulder in die staat se besit is.

Maar die regering stel waarskynlik nie in hierdie syfers belang nie. Die departement erken hy weet nie hoeveel grond die staat besit nie.

In ’n Beeld-rubriek gister kryt Henry Jeffreys Mulder uit vir sy “desperate vorm van politiek”.

Hy verdraai Mulder se woorde heeltemal wanneer hy verklaar dat Mulder gesê het swart mense “kan nie aanspraak maak op 40% van die grond nie”.

Wat Mulder wel gesê het, is: “In die Karoo en Kalahari is groot plase beskikbaar. Waarom koop die departement nie van daardie grond om vinniger die 30% te bereik nie? Hierdie semi-woestyngronde word egter by die 87% propaganda-persentasie as wit grond getel.”

Jeffreys behoort homself af te vra of dit nie hy is wat die gevaarlike speletjie speel waarvan hy Mulder beskuldig nie.

Mulder is veral daaroor begaan dat die hoeveelheid vrugbare grond wat onder landbouproduksie is van 1994 tot 2009 met 30% afgeneem het.

Hy verklaar verder: “Mislukte hervorming, waar 9 uit 10 plase nie suksesvol is nie, het ’n belang­rike rol. Landbouers moet nou op minder grond meer kos produseer vir Suid-Afrika se bevolking van 50 miljoen.”

Zuma het op Mulder se toespraak gereageer deur te impliseer hy het op ’n onverskillige wyse ’n emosionele saak aangeraak. Vir sommige mense is dit “’n saak van lewe en dood”.

Die vraag is vir hoeveel mense is dit so ’n lewensbelangrike saak?

In die meningspeilings van die laaste 20 jaar het die behoefte aan grond nooit gefigureer as ’n belangrike kwessie vir swart mense nie. Werkgeleenthede, onderwys en bekostigbare kos, huise, dienste en misdaad is veel belangriker.

As ’n mens die hele teks van Mulder se toespraak lees, is dit duidelik dat hy nie met goedkoop politiek besig is nie, maar op verantwoordelike wyse ’n belangrike saak aanroer.

Waaraan die histerie in sekere van die media toegeskryf word, is moeilik om te bepaal.

Miskien is dit heimwee na die stryd teen apartheid toe alles, moreel gesproke, gerieflik wit en swart was.

Hermann Giliomee is mede-redakteur, saam met Bernard Mbenga, van Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika (Tafelberg 2007).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s