Grondbesetting-‘n Kort geskiedenis

OASE skryf:

Max du Preez, die bekende linkse joernalis het pas ’n insiggewende artikel geskryf oor die grondkwessie wat dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ die afgelope week in die parlement aangeraak het. Lesers kan gerus gaan kyk na wat Max du Preez te sê het, aangesien heelwat van sy standpunte ooreenkom met OASE se navorsingsresultate rondom historiese grondbesetting.

Max du Preez verwys egter na die difaqane- of mfecane-era as ‘n “mite” en hier kan OASE nie anders as om van hom te verskil nie. Boonop verswyg Du Preez in sy artikel belangrike faktore soos klimaat en ekologie wat ’n rol gespeel het by grondbesetting in Suider Afrika. Swart Afrika-stamme was nie in staat daartoe om permanent te vestig op die hoëveldgebied in die binneland van SA nie. Dit is die gebied wat slegs grasvlakte is en waar daar basies geen inheemse bome of struikgewasse groei nie. Sommige stamme het wel in die meer klimaatvriendelike noordelike en westelike periferie van die hoëveld gevestig waar daar wel bome/struike is en waar sommige dele ‘n mikroklimaat het wat meestal rypvry is in die winter.

Swart stamme het nie in die vroeë 19de eeu oor die tegnologiese ontwikkeling beskik om gedurende die wintermaande op die hoëveld te kon oorleef nie. Alle Bantoesprekende stamme wat reeds op daardie stadium in Suider Afrika teenwoordig was, was grootliks afhanklik van veeboerdery en in ‘n beperkte mate van die verbouing van somergewasse. Alhoewel die somerweiding op die RSA-hooglande van die beste gehalte is, is die benutbaarheid van hierdie weiding beperk tot die somermaande. Die reënseisoen begin eers in Oktober van elke jaar en dan duur dit minstens vier weke voordat die grasveld begin herstel. Die weiding word werklik eers vanaf November geskik vir benutting deur vee, mits daar nie droogtetoestande heers nie en die reënseisoen betyds aanbreek. Teen die einde van Maart begin die gehalte van die weiding drasties afneem en teen Mei-maand ryp byna alle flora dood. Dit beteken dat vanaf April/Mei tot November (6 maande) die natuurlike weiding van die hoëveld vir alle praktiese doeleindes onbenutbaar is.

Die swart stamme van Afrika wat teen die begin van die 19de eeu reeds in Suider Afrika aanwesig was, kon dus nie ekonomies voortbestaan gedurende hierdie wintermaande nie, tensy hulle uitgewyk het na daardie dele van die land wat warmer is en waar daar in elkgeval natuurlike bome en struikgewasse vir hout voorkom. Dit is dan ook inderdaad die dele waar hierdie eerste swart stamme vir alle praktiese doeleindes permanent gaan vestig het. Veldbrande, wat dikwels deur weerlig maar ook deur nomadiese besetters self veroorsaak is op die hoëveld se grasvlaktes, het menigmale groot verwoesting aangebring as gevolg van die sterk winde wat veral gedurende Augustus-maand oor die hoogliggende dele van die land waai. So het dit dan ook gebeur dat Sotho- Tswanasprekende stamme vanuit die Weste van die land hul veekuddes gedurende somermaande van die vroeë 1800’s op die hoëveld laat wei het, maar nooit permanent daar kon vestig nie. Dit was ook grootliks die migrasiepatroon van groot troppe wild wat gedurende somermaande na die hoogliggende grasvlaktes en in wintermaande na die laagliggende kusvlakte (oos) en laeveld/bosveld (noord) uitgewyk het ter wille van oorlewing.

Die oorspronklike bronne van verskeie sendelinge is dit eens dat die dele wat later bekend gestaan het as die Transvaalse en Vrystaatse hoëveld ‘n menseslagting geken het tussen 1820 en 1835. Nadat Shaka die opperhoof van die amaZulu-stam in Natal geword het, het hy omliggende Nguni-stamme aangeval, die volwasse mans uitgemoor en die vroue en kinders by die Zoeloestam ingelyf, en op hierdie wyse is die Zoeloeryk opgebou. Na mate Shaka basies die hele deel wat vandag bekend staan as Natal op hierdie wyse oorheers het, het sy imperialistiese drange teen 1821 uitgebrei na die binneland van die RSA en het sy moordlustige impi’s oor die Drakensberg-platorand getrek om die nomadiese Sotho-Tswanasprekendes en ander stamme te gaan aanval. Sodoende is aanvanklik slegs die veeherders van hierdie stamme op die hoogland uitgemoor of verdryf, terwyl duisende stuks vee deur die Zoeloes teruggevoer is na Natal. Trouens, hierdie gedragspatroon van veediefstal onder Afrikane het, nadat Suid-Afrika ’n swart meerderheidsregering in die vorm van die ANC gekry het, weer ’n  duidelik waarneembare tendens geword.

Gemelde Sotho-Tswanasprekende-stamme was uiteraard teen die begin van die 1800’s lankal afhanklik van die hoëveld se somerweiding om hul groot getalle vee te onderhou, en die strooptogte van die Zoeloes het uiteindelik daartoe gelei dat die Sotho-Tswanasprekendes meer permanente klipstrukture as verdedigingswerke veral op die hoërliggende heuwels en koppies van die hoëveldgebied opgerig het. Die klipfondasiereste hiervan is steeds duidelik sigbaar in dele van die hoëveld en het dikwels daartoe gelei dat Afrikanerpioniers hul plase Kafferskraal genoem het, want dit is hierdie reste van die post-difaqane-era wat hulle daar aangetref het. In die kortstondige Britse koloniale besettingsperiode van die ZAR tussen 1877 en 1884 het Britse landmeters sulke plase soms geregistreer as Kaffirs Kraal.

Sedert 1820 het die Zoeloeryk al hoe magtiger geword, ook nadat Shaka deur sy halfbroers Dingane en Mpande vermoor is en Dingane in 1829 die koning van die Zoeloeryk geword het. In hierdie selfde tydperk, 1820 – 1829, het een van Shaka se veggeneraals, Mzilikazi, weggebreek van die Zoeloes en op dieselfde wyse as Shaka en sy opvolger, Dingane, hoofsaaklik Sotho-Tswanasprekende-stamme maar ook ander kleiner groeperinge in die binneland aangeval, die volwasse mans uitgemoor en die vroue en kinders by sy eie groep ingelyf. Mzilikazi, of Silkaats soos wat Afrikaner-pioniers hom genoem het, se groep het bekend gestaan as die Matabele’s. Silkaats was juis besig met sy strooptogte vanuit die periferie van die hoëveld, waar hy pemanent gevestig was in die somer van 1836, toe hy sy Moses by Vegkop naby Heilbron in die Vrystaat teen die Voortrekkers teëgekom het. Hy het daarna uitgewyk na die weste van die land en het uiteindelik tot in Bulawayo, Zimbabwe gevlug waar sy nasate vandag nog die Zimbabwe-Ndebele-minderheid vorm. Teen 1830 was die binneland van die RSA een groot menseslagveld en sommige sendelinge, soos die Fransman Ellenberger, praat van honderdduisende slagoffers. Britse sendelinge beaam die meeste van hierdie gebeure in hulle dagboeke en verslae. Die menseslagting was natuurlik nie beperk tot bogemelde Zoeloe-opperhoofde se optredes nie, en het vele ander onderlinge stamgevegte tussen die verskillende swart groepe van Suider Afrika ingesluit. Tydens hierdie volksmoordtoestande is die beleid van verskroeide aarde ook dikwels toegepas en kon mens of dier dikwels niks vind om te eet nie. Daar is sommige bronne wat selfs beweer dat kanibalegedrag hieruit voortgespruit het, bloot omdat daar werklik niks anders op die verwoeste vlaktes van die hooglandgebied oor was om te eet nie.

Die era tussen 1820 en 1829 staan onder antropoloë, historici en ander bekend as die difaqane- of mfecane-era. Die mees omvattende literatuur hieroor is die boek van ‘n Amerikaanse antropoloog, Omer-Cooper: The Zulu Aftermath. Die koms van die Voortrekkers word allerweë beskou as die einde van die difaqane-era, veral omdat Dingane se Zoeloemag finaal by die Slag van Bloedrivier op 16 Desember1838 naby Dundee in KwaZulu-Natal gebreek is. Ongeag die feit dat die hoëveldgebied geen permanente vestiging van swart Afrikastamme geken het nie, aanvaar die internasionale reg en die internasionae gemeenskap dat grondgebied wat gedurende die 19de eeu deur middel van sowel verowering as per sessie (ooreenkoms) bekom is, grondgebied is wat wettiglik deur die nuwe besetters bekom is. Dit is die basis van mense van Westerse afkoms se aanspraak op grondgebied in Noord-Amerika en Australasië, waarom sou dit nie ook vir Afrikaners van Westerse afkoms in Afrika kon geld nie?

Daar het in die 1990’s onder links-liberale akademici allerlei terorieë ontstaan dat die difaqane ‘n mite is en dat dit geskiedenis is wat uit ‘n eurosentriese hoek geskryf is. Veral prof. Cobbing van die Universiteit van Rhodes het die bestaan van die difaqane basies ontken en ene Richner het hieroor ‘n MA-verhandeling geskryf wat so reg in Cobbing se kraal gepas het. Baie antropoloë, ook in die buiteland, sien Cobbing en ander se ontkenning van die difaqane as ongefundeerd. Dit is duidelik dat Max du Preez, wat bekend is vir sy links-liberale standpunte, ‘n dissipel van hierdie akademici en hul dwaalleringe is. Selfs die linkse prof. Peter Delius van Wits lewer in ‘n resente en baie interessante artikel ‘n pleidooi dat wetenskaplikes tog maar weer sal gaan kyk na wat die werklike oorspronklike bronne, vernaamlik van sendelinge, oor die betrokke era in ons land se geskiedenis te sê het.

Die feit van die saak is dat, ongeag die difaqane, swart stamme van Afrika nie oor die tegnologiese vlak van ontwikkeling beskik het teen 1835 toe die Voortrekkers oor die Oranjerivier vanuit die Kaapkolonie die binneland ingetrek het om in die strawwe wintermaande op die hoogland van Suid-Afrika te kon oorleef nie. Afrikaners se voorsate, die Voortrekkers, het duidelik wel oor hierdie vlak van ontwikkeing beskik en kon dus permanent op die hoëveld vestig wat hulle ook gedoen het. Daar word dikwels oormatig klem gelê op die waarde van swart inheemse volke se kragtige mondelinge oorlewering as ‘n vorm van betroubare geskiedenisbronne. In Afrikaners se geval bestaan daar onbetwisbare geskrewe bronne, maar ook sterk mondelinge oorlewering dat die grootste dele van die Transvaalse en Vrystaatse hoëveld ontvolk was toe die Voortrekkers hierdie gebied vir die eerste keer beset het.

Afrikanerboere is vandag groot voedselprodusente in hierdie hoëveldgebied en is al vir heelwat generasies – sedert die prioniersera van hul voorsate – die meerderheid wettige eienaars van die grondgebied. Kragtens die Konvensie van Montevideo (1933) is een van die kriteria vir die totstandbringing van ‘n nuwe staat juis dat die bevolking wat wil afskei moet kan aantoon dat hulle die permanente besetters van die gebied is. Afrikaners is die mees permanente besetters van die hoëveldgebied en wat OASE se afgebakende gebied betref, is Afrikaners die geregistreerde eienaars van meer as 85% van die grondoppervlakte – vir solank as wat dit nog nie deur die ANC onteien is nie.

Die meegaande foto getuig van een van die oudste klipstrukture in die Secunda-omgewing van die Mpumalanga-hoëveld. Daar is haas geen hoëveldplaas in die Vrystaat of ou Transvaal waar daar nie strukture of ruïnes van strukture bestaan wat deur Afrikaners se voorsate in die tydperk opgerig is wat direk op die Groot Trek gevolg het nie. Afrikanergrafte lê wyd oor die hoëveldstreek versprei wat getuig van Afrikanerpioniers se teenwoordigheid in hierdie deel van die land wat as eerste inheemse groep permanent hier gevestig het. Bowendien vorm die grondgebied wat OASE voorstel vir Afrikaners se eksterne selfbeskikking op basis van territoriale soewereiniteit alles deel van ’n veel groter gebied waar Afrikaners reeds vóór Britse kolonisasie soewereiniteit geniet het – ’n faktor wat deur die internasionale gemeenskap in aanmerking geneem word wanneer ’n minderheidsvolk grondgebied wil afskei van ’n eenheidstaat.

Dit is lankal tyd dat die linkses in Afrikanergeledere hulle gewig begin ingooi by die oorlewingstryd wat Afrikaners vir die soveelste keer in ons volk se bestaan in die gesig staar, en dat hulle begin erkenning gee aan Afrikaners se regmatige aanspraak op grondgebied. Die verdringing van Afrikaners in hul heimat deur die ANC en sy grondbesettingstaktiek, en die regering se beoogde grondonteiening sal tot eendragtigheid onder alle vryheidstrewende Afrikaners lei. Dit behoort veral teen die agtergrond van artikel 8 van die VN se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke geargumenteer word.

One thought on “Grondbesetting-‘n Kort geskiedenis

  1. Wil myself net kom voorstel. Ek het op aanbeveling en hulp van ‘n vriendin besluit om ons webwerf voortaan self te bestuur. Wat die bloggedeelte betref: Ek is nie ‘n skrywer van format, maar ek wil graag my ondervindinge van die wildplaas met almal deel. Dit is ‘n nuwe uitdaging vir my. Help gerus as jy sien ek trap klei. Ek sal soos die tyd dit toelaat by almal probeer uitkom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s