Jý’s ‘n rassis!

Deur: Johan Swarts

“Ek is nie ‘n rassis nie!”

Dít is die woorde van menigte ‘n “liberaal” wanneer hulle beskuldig word van die Suid-Afrikaanse doodsonde van vooroordeling.

Verontwaardig wil hulle gewoonlik by die aanklaers weet hoe hulle so iets verskriklik kan sê. Hulle wat liberaal is gebruik dan nooit die “k-woord” nie en hulle glo in gelykheid en regverdigheid vir alle mense. Hulle veroordeel al daai rassistiese mense wat kommentaar lewer op koerantberigte. Hel, van hulle beste vriende is swart! Of bruin! (of wit!)

Rassiste? Hulle? Nooit nie!

Dit is wel waar dat baie van die sogenaamde “regses” wat hul monde anoniem onderaan koerantberigte uitspoel, rassistiese gedrag ten toon stel. Die soort mens wat graag neerhalend oor “die ape” se wel en weë bespiegel en homself verlekker in Malema se houtwerkpunt, is inderdaad ‘n rassis.

Dis egter nie al wat rassisme behels nie.

Om rassisties te wees is nie bloot om “die lelike woorde” te gebruik of luid in die openbaar slegte dinge van ander mense te sê nie. Rassisme is (om die HAT aan te haal) “die veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras”. Om rassisties te wees is om jou interaksie met diegene wat nie soos jy lyk nie suiwer op hul voorkoms te baseer; om allereers deur ‘n “ras-bril” na die wêreld te kyk. Selfs al doen jy dit onbewustelik.

Hoe gereeld lees ‘n mens nie “liberale” skrywers se aanmanings dat ‘n mens nie rassistiese grappies om braaivleisvure moet duld nie? Verlaat die geselskap! pleit hulle. Moenie hul verkrampte idees met jou stilte goedkeur nie! Laat hoor van jou! Vertel hulle dis tyd dat hulle ophou met hierdie soort gedrag!

Boo-frikkin-hoo. (Of in die woorde van die filosoof De Vries: “nou hoe nou wat nou?”)

Rassisme is nie net om taboe-woorde te gebruik nie. Dis dikwels iets veel meer subtiel.

Loop jy ‘n wye draai of stap jy oor die pad as iemand met ‘n donker velkleur jou op die sypaadjie nader? Jy’s ‘n rassis.

Gee jy R25 kleingeld in munte vir die passasier in jou taxi wat anders as jy lyk al vra hy vir ‘n R20-noot? Jy’s ‘n rassis.

Koop jy eiendom in ‘n gebied met min melanien omdat dit jou “veilig laat voel”? Jy’s ‘n rassis.

Weier jy om te aanvaar dat iemand met ‘n ligte vel wat jou goedgunstelik probeer help geen agenda het nie? Jy’s ‘n rassis.

Dink jy Kaapse Afrikaans het “darem sulke mooi, unieke uitdrukkings!” of “swart mense het darem net daai natuurlike aanvoeling vir ritme”? Jy’s ‘n rassis.

Dink jy wit mense kan nie dans nie? Jy’s ‘n rassis.

Lucifer is in die detail.

Skelwoorde is allermins die lakmoestoets vir rassisme. (As jy jou blaas kan beheer, kan jy waarskynlik ook jou larinks beheer. Dis nie ‘n prestasie nie.) As velkleur die hoofsaaklike bril is waardeur jy daagliks na jouself en die mense om jou kyk – al is hierdie blik onbewustelik en nie kwaadaardig nie – is jy ‘n rassis.

Ek is een. Jy ook. Almal van ons is. Ek dink nie daar is ‘n Suid-Afrikaner wat nie is nie. Daar’s nog baie werk om te doen.

Dis goed en wel om nie skelwoorde te wil gebruik nie, maar hoe langer ons gaan volstaan met hierdie naarmakende, polities korrekte verontwaardiging oor ‘n paar onheilige woorde sonder om werklik moeite te maak met die onuitgesproke paradigma agter die res van ons aksies, hoe langer sal ons mekaar bly te na kom.

Stry?

Kyk gerus wat doen jou hand met jou kardeurknoppie as jy weer by die verkeerslig stop

Camelfilters (Bennie de Klerk) : “Ek plaas hierdie skrywe meerendeel om reaksie te ontketting, my reaksie is : “Ek is wit, ‘n rassis en trots daarop. Ek sal my nie meng met ander rasse nie, hetsy deur huwelik of vriendskap, ek het my kultuur en hy het syne. Ek leer my kinders so, en hoop en vertrou hulle sal hul kinders ook so leer. Ek dink om as rassis ge-etikeer te word is ‘n veer in die hoed, aangesien mense dan weet jy bepaal jou by jou mense en jou kultuur. Rassisme is myns insiens ‘n poging deur swart inhaligheid om die wit-man te infiltreer en hom soos ‘n sprinkaan finaal van alles te ontneem, sy trots, sy volk, sy kultuur en uiteindelik sy ras. As swart en wit integreer gaan daar later glad nie meer wit oorbly nie.

2 thoughts on “Jý’s ‘n rassis!

  1. Die “Wit Suid Afrikaanse” rassiste geniet vreeslik baie die intieme geselskap van ander rasse wanneer hulle veral in Mozambiek verkeer. Sodra hulle weer aan RSA grond aanland dan is ander rasse alweer vuil dom en ongeletterd. Julle laat my lag

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s