‘n Politieke Oorsig sedert 1910 – van gedifferensieerde ontwikkeling tot klassesisteem

Christo Landman, Ph.D.

Daar is ‘n wisselwerking tussen menswees en die omgewing waarbinne die mens leef. Derhalwe moet daar ook ‘n wisselwerking wees tussen menswees en die politieke orde. Hierdie verskynsel is nêrens beter waarneembaar as in Oos-Duitsland (die sg. Duitse Demokratiese Republiek voor die afbraak van die muur) en Wes-Duitsland (die Bondsrepubliek) nie. Die Duitsers het ‘n gemeenskaplike geskiedenis van meer as ‘n duisend jaar gehad en toe kom die oorlog. Veertig jaar van skeiding tussen Oos en Wes, deur die skandmuur, het twee verskillende Duitsers laat ontstaan.

Die groot vraag is hoe die sosiaal-maatskaplike orde sedert 1652 daar uitgesien het, hoe dit van 1910 tot 1993 gelyk het en weer ná 1993 verander het.

In 1652 het die Nederlandse private handelsmaatskappy, die sg. Here Sewentien, ‘n staatlose Kaap die Goeie Hoop aangedoen, om ‘n handelsvesting daar te stig. In terme van die internasionale reg van daardie tyd het die Kaap aan niemand behoort nie. Derhalwe kon die Hollanders gewoon die Kaap as ‘n gebied sonder eienaar vir hulleself neem. Sedert 1652 was die Kaap dus Hollands, totdat die Britse eerste en tweede besetting eers ná 1795 plaasgevind het. Daar was wel van tyd tot tyd nomadiese Koi- en Sanmense met wie die Hollanders handel gedryf het.

Die Vryburgerboere het permanensie aan die Kaapse tydelike teenwoordigheid gegee deur hulleself in die binneland te vestig. Eers toe was daar by die Keirivier kontak en ook konflik met die Xhosas.

Kultureel was die Kaapse bewoners dus Hollanders totdat die Engelse ‘n tweede wit beskawing daar gevestig het. Verskillende swart volkere (bv. die Nguni’s en die Sotho’s) het in verskillende gebiede gewoon, maar was ook in onderlinge bloedige konflik met mekaar en met ander betrokke.

Die aggressiewe teenwoordigheid van imperiale Brittanje met hulle verengelsingsbeleid het direk aanleiding gegee tot die Groot Trek en uiteindelik tot die volgende vrye Republieke, onder meer: die Vrystaat en Transvaal. Sosiaal-kultureel was die Kaap dus Hollands en Engels maar die Boererepublieke Afrikaans. In die Boererepublieke was daar wel konflik met omliggende swart volkere. Die Vrystaatse Republiek het las van die Sotho’s (nou Lesotho) ervaar en die Transvaalse Republiek met Nguni-groeperinge.

Kortom, die Afrikaners van vandag beskik oor ‘n eerste okkupasiereg in die Kaap en in die Vrystaatse en Transvaalse Republieke.

Twee oorloë van Brittanje met die Boererepublieke het ‘n einde aan die onafhanklikheid van die Boererepublieke gemaak. Hierdie ingreep van buite het die sosiaal-kulturele orde in die Boererepublieke ingrypend verander.

Uniewording in 1910 het ‘n nuwe dimensie na vore gebring. Daar was ‘n toevloei van buitelanders (oorwegend Engelse) na die goud- en diamantvelde, maar ook ‘n toe- en instroming van swartes uit hulle tradisionele tuistes na die Boererepublieke. Wat Britse imperialisme aan SA gedoen het, is om ‘n aantal swart en wit gemeenskappe, elk met sy eie kultuur en tradisies, kunsmatig saam in een land te snoer, die Unie van Suid-Afrika. SA het ‘n roereier geword. Tog het die Britte ‘n aantal etniese gemeenskappe, bekend as die LBS-lande, binne die geografiese gebied wat bekend is as Suider-Afrika buite die Unie te hou. Hulle is Lesotho, Botswana en Swaziland.

Tussen 1910 en 1948 het die beleid as segregasie bekendgestaan. Die negatiewe konnotasie van segregasie is dat dit ‘n skeidingsbeleid tussen wit en swart was. In 1913 is grondverdeling tussen wit en swart vasgelê.

Die jaar I948 was ‘n waterskeidingsdatum toe die Nasionale Party aan die bewind gekom het. Aan Afrikanerkant is die Republikeinse ideaal, in weerwil van die Britse gemenebes van nasies, as grondwetlike strewe voorgehou. Dit is eers in 1961 dat hierdie ideaal verwesenlik is. Sedert 1948 het opeenvolgende regerings in SA probeer om ‘n ontstrengelingsbeleid deur te voer. Dit was om die TBVC-state op die pad van toenemende selfbestuur te plaas, ten einde hierdie gebiede, soos die geval met die LBS-lande, tot onafhanklikheid te lei.

Onder die leiding van Hendrik Verwoerd is aanvaar dat die begrip “apartheid” nie die essensie van sy beleid omskryf nie. Derhalwe is besluit dat dit ‘n beleid van afsonderlike maar gelyke ontwikkeling sou wees. Drie Berlynse eerstegenerasiesendelingseuns sou inhoud aan hierdie beleid gee:

Dr. Hendrik Frensch Verwoerd het eers die Departement van Bantoe-administrasie en ontwikkeling bedryf en toe later eerste minister geword.

Prof. Eiselen word beskou as die vader van Bantoe-onderwys.

Prof. Tomlinson het met sy omvattende Tomlinsonverslag die geografiese grense van die afsonderlike etniese swart state van die vier “blanke” provinsies afgegrens.

‘n Bantoe-beleggingskorporasie is gestig om die ekonomiese ontwikkeling van die tuislande te onderneem Grensnywerheidsontwikkeling was daarop ingestel om die nywerhede na die grense van die tuislande te neem. Nywerheidsontwikkeling in die tuislande is op ‘n agentskapsbasis bedryf. Dit het beteken dat ‘n blanke entrepreneur ‘n projek binne ‘n tuisland kon begin, maar dat ‘n swartman die projek stelselmatig oorgeneem het sodra die kundigheid gevestig was.

Die bekende konflik tussen Verwoerd en Anton Rupert verdien vermelding. Rupert het met Verwoerd oor die ekonomiese opheffing van die tuislande verskil. Rupert het geredeneer dat as blankes nie toegelaat word om tot die ekonomie in die tuislande toe te tree nie, die ekonomieë aldaar nie van die grond af sou kom nie. Na bewering van wyle staatspresident Swart het Rupert aan Verwoerd gesê: “Jy ken nie ‘n k…. soos ek hom ken nie. Jy moet alles met ‘n lepel in sy mond prop.” Hierop sou Verwoerd verklaar het dat hy nie sal toelaat dat blankes die swart tuislande ekonomies oorheers en uitbuit nie.

As sosioloog het Verwoerd geglo dat as die regte voorwaardes bestaan en die speelveld gelyk gemaak word, swartes gelyk aan blankes polities en ekonomies sou presteer.

Omdat dit voorgekom het asof die swartes in die vier “blank”-gedomineerde provinsies nie na die tuislande wou uitwyk nie, is tussentyds op korttermyn- diskriminerende sg. “kleinapartheids”maatreëls besluit. Die bedoeling daarvan was om die swart intellektuele elite en vakmense te oorreed om eerder hulle heil tussen hulle eie mense in hulle eie tuislande te soek. Volgens die historikus Hermann Giliomee, is Suid-Afrika hierin ook deur die VSA se “afsonderlik maar gelyk”-beleid beïnvloed. Dit het ingesluit aspekte soos:

Gesegregeerde openbare geriewe en fasiliteite (restaurante, woonbuurtes, toonbanke, ens.).

Instromingsbeheer.

“Affirmative action” of beroepsbeskerming van blankes in die vier provinsies en van ‘n bepaalde etniese groep se mense (bv. Xhosas in die Transkei) in hulle tuislande.

Daar is sedert die sestigerjare ‘n lewendige debat in Afrikanergeledere gevoer oor die etiese grondslae van ‘n beleid van afsonderlike maar gelyke ontwikkeling in eie nasiestate.

Die groot fout wat eerste minister Hendrik Verwoerd egter gemaak het, was om te aanvaar:

dat die swart etniese gemeenskappe, soortgelyk aan die Afrikaner, die inherente trots en behoefte het, om hulleself te regeer;

dat die swart etniese volkere die wil het om hulle lande ekonomies selfversorgend te maak; en

dat die geskoolde swartes in die vier “wit provinsies” na hulle heimatte sou terug gaan, om die leiding op hulle te neem.

Dit was klaarblyklik nie die geval nie. Desondanks het sekere lande uit die TBVC-gebiede wel tot staatkundige wasdom ontwikkel, soos: die Republieke van Bophuthatswana, van die Transkei en Ciskei en ander tot interne selfregerende status gevorder. Hardnekkig was hoofman Gatsha Buthelezi wat ná die ANC-oorname desondanks gemarginaliseer is.

Ingeligte bronne verklaar dat eerste minister Verwoerd die dag van sy dood in die parlement op die punt was om ‘n konfederale bedeling af te kondig, met die volgende elemente:

Inbinding van die vier provinsies en reeds onafhanklike TBVC-state asook die LBS-lande in ‘n Suider-Afrikaanse Konfederale Staat.

Roterende staatshoof in die konfederasie.

Ekonomiese handelsgemeenskap.

Hierdie mooi ideaal van ‘n Konfederasie van Suider-Afrikaanse state is deur die volgende faktore verydel:

Die moord en sterwe van dr. Verwoerd.

Die suksesvolle internasionalisering van sg. apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom deur die ANC, met die hulp van die USSR en lamlendige Westerse state.

Die ondermynende rol van oorwegend die Engelse geldmag en multinasionale maatskappye.

Onbehoorlike en onkeerbare toestroming van swartes uit die nasionale state.

In die periode ná Verwoerd was die regerende Nasionale Party moreel en beleidsmatig bankrot. Paranoïa is deur minister van buitelandse sake Pik Botha in die kabinet gesaai dat Suid-Afrika totaal geïsoleer kon word.

Die val van die Berlynse muur het by president F.W. de Klerk die persepsie laat ontstaan – wat ‘n stereotipe in sy denke geword het – dat die ineenstorting van die USSR die internasionale steunbasis van die ANC dermate ondermyn dat dit die regte klimaat vir ‘n politieke skikking geskep het. De Klerk het vir hom verdere internasionale steun verwerf deur die kernkragvermoë van die RSA af te takel, atoombomme te vernietig, die Weermag te demoraliseer en die Staatsveiligheidsbestuurstelsel tot niet te maak. Hy het die formele onderhandelinge aangeknoop met wat hy as ‘n redelike stel voorstelle beskou het. Met die gevolg dat hy te veel moes toegee om die ANC van hulle ekstreme standpunte te laat afsien – ekstreme standpunte wat weliswaar sedert 2011 stelselmatig weer op die politieke verhoog ingesmokkel is. Dit sluit in:

Die deurvoer van ekonomiese strafmaatreëls teen blankes,

Oordadige belastings.

Die vestiging van ‘n morele skuldgevoel by blankes.

Dreigende grondonteiening teen staatsbepaalde pryse.

Nasionalisering van myne.

Kortom: De Klerk sal onthou word vir sy kapitulasie en die algemene afkeer van die voormalige staatshoof het so intens onder Afrikaners geraak dat hy ‘n koeëlvaste voertuig moes verkry om hom teen sy eie mense te beskerm.

Op die formeel staatkundige terrein is op 33 grondwetlike beginsels besluit wat rigtinggewend vir die skryf van ‘n tussentydse grondwet sou wees. Insgelyks is ‘n akkoord in sake die reg op selfbeskikking vir die Afrikaner op 23 April 1994 deur die Vryheidsfront, die Nasionale Party en die ANC onderteken. Die tussentydse grondwet van 1993 het etlike “niksseggende” artikels bevat om die Afrikaner mee te troos:

Die insluiting van artikel 235 oor selfbeskikking buite die raamwerk van afdwingbare hoofstuk 2. Die sg. Menseregte-akte is afdwingbaar op beide die organe van die staat asook op regspersone, maar artikel 235 nie en is hoogstens ‘n artikel wat onderhandeling in die vooruitsig stel.

Die daarstelling van ‘n Volkstaatsraad, welke Raad honderde duisende rande bestee het aan studie en uiteindelik ‘n finale verslag, wat nooit deur die regerings ná 1994 ter tafel geneem is nie.

Die insluiting van ‘n “non-diminution”-klousule, wat die reeds verworwe status van Afrikaans sou beskerm – klousule wat in die 1996-grondwet om onverstaanbare redes weggelaat is.

Die 1996-grondwet is uiteindelik deur die Grondwetlike Hof aan die hand van die 33 beginsels as korrek gesertifiseer. In die sertifiseringsuitspraak het hoofregter Chaskelson egter beslis dat die 33 grondwetlike beginsels van onderlinge ooreenkoms nooit weer hierna deur die Grondwetlike Hof as normatief vir grondwetlike wysiginge geag sal word nie. Ander negatiewe aspekte verbonde aan die 1996-grondwet sluit in:

Die weglating van die “non-diminution”-klousule.

Die insluiting van ‘n beperking-van-regte-klousule (artikel 36) wat dit gewoon moontlik maak dat enige party – vanaf die linkse Kommunistiese Party tot die regse nasionalistiese Herstigde Nasionale Party – artikel 36 kan aanwend om bepalinge van Hoofstuk 2 te herinterpreteer om so ‘n party se ideologiese raamwerk te pas as so ‘n party ingestem sou word.

Die voorsiening van artikel 185 in die 1996-grondwet – vir die bevordering en beskerming van die reg op taal, godsdiens en kultuur – maar wat eers by wyse van Wet 19 van 2002 met ‘n ANC-voorsitter geïmplementeer is – ‘n Kommissie, moet bygevoeg word, wat deur Kadar Asmal se ad hoc-verslag aan die Parlement (2009) as totaal ondoeltreffend en ontoereikend getipeer is.

Die herinterpretasie van die algemene plig in artikel 9 om voorrang aan sg. agtergeblewe gemeenskappe te gee, welke bepaling deur die ANC-regering as ‘n eksklusiewe verwysing na swartes gesien word.

Sedert 1999 is SA op die pad van ‘n mislukkende piesangrepubliek geplaas. Hoe langer, hoe meer is openbare fasiliteite – soos ‘n ouerwordende piesang – verswart. Trap jy op die skil van ‘n piesang, gly jy die afgrond af. Kenmerke van die mislukkende SA staat sluit in:

Verswakking van openbare dienslewering – veral op die derde vlak van regering.

Stelselmatige verhoging van ‘n belastingplig op die net 2,8 miljoen belastingbetalers in ‘n land van 49 miljoen.

Meer as 133 munisipaliteite uit 250 wat bankrotskap in die oë staar.

Skrikwekkende onvermoë van oorbetaalde amptenare om doeltreffende dienslewering te verseker.

Die stelselmatige verengelsing van openbare kommunikasiepraktyke.

Die ineenstorting van vervoerstelsels op sekondêre paaie en algemene verval in padnetwerke.

Die massale invloei van swartes uit ander Afrikalande wat bereid is om te werk en deur blankes verkies word, vanweë hul groter betroubaarheid en kundigheid.

Vloeibare grense wat SA reeds ‘n land van verenigde nasies maak.

Skokkende moorde op blanke boere en diefstal van hul eiendom.

Meer as 15 miljoen werklose swartes wat volledig van staatsfondse vir oorlewing afhanklik is.

Kortom: ANC-regerings sedert 1994 het daarin geslaag om ‘n voorheen etniese federasie te omskep in ‘n klassieke klassesisteem, ingevolge waarvan:

‘n Klein minderheid swart elite-kapitaliste saam met die tradisionele klein hoeveelheid ryk witmense die bourgeoisie van die nuwe SA vorm.

‘n Swaartrekkende middelklas wat ook ‘n groot deel van die 2,8 miljoen belastingbetalers in ‘n land van 49 miljoen uitmaak.

‘n Eksponensieel groeiende swart en wit werklose komponent wat die proletariaat van SA vorm.

Intussen het die buitelandse beleid van SA sigbaar in ‘n pro-Palestynse en pro-Chinese rigting teen Israel en Westerse belange gedraai wat – as ‘n internasionale krisis soos ‘n Derde Wêreldoorlog sou aanbreek – daartoe kan lei dat die strategiese minerale van SA nie tot die beskikking van die Weste nie, maar ten bate van Westerse vyande gestel sal word.

Op die gesondheidsterrein word bereken dat die MIV/VIGS-krisis wat sowat 26% van die bevolking raak die hoogste ter wêreld is en die swart elite teen ‘n skrikwekkende tempo afmaai. Wat oorbly, is nie goed vir ordelike en doeltreffende regering nie.

Die krisis van die nuwe SA is dat ‘n etniese federasie-in-wording voor 1994 omvorm is in ‘n stereotipe klassesisteem wat – as die fondse van die staat opraak – tot ‘n bloedige rewolusie en sosiale anargie kan lei. ‘n Voorwaarde vir die ANC om weer en weer verkies te kan word, is dat miljarde by wyse van skenkings en sosiale welsynsdienste aan die proletariaat uitgedeel sal word. Ekonome is dit egter eens dat 2,8 miljoen belastingbetalers nie ‘n bevolking van bykans 50 miljoen op die duur kan dra nie. Demografiese tendense dui daarop dat die bevolking van SA in 2050 tot soveel as 150 miljoen kan styg. Die implikasie hiervan vir die beperkte voedsel- en waterbronne is katastrofaal. Die politieke vooruitsig vir ordelike regering is ewe negatief.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s