Swak leiers dompel SA ál dieper in ‘n krisis

Deur: Jonathan Jansen

Wat gaan aan? Elke groot stad in Suid-Afrika word deur stakende werkers vervuil met rommel wat die strate vol lê. Daar is straathandelaars wat beroof word, motors wat beskadig word, en nie-stakende werkers wat aangerand word. Hierdie boefagtige gedrag spoel ook oor na ander openbare plekke soos kampusse.

Wat in die land veral ’n gevaar skep, is die afwesigheid van leierskap. Nie ’n enkele politieke leier het die afgelope week na vore getree en die oproerige gedrag in ons stede veroordeel nie, en nie ’n leier in die onderwys, die politiek of daarbuite het opgestaan en die inval van ’n universiteitskampus veroordeel nie. Sonder openbare leiers wat die boewery op openbare plekke veroordeel, sal die oproeriges voortgaan sonder vrees vir teregwysing of vergelding.

Dit is waarom ek geamuseerd was deur die oproep van adj.pres. Kgalema Motlanthe dat kinders etiek op skool geleer moet word. Die probleem is dat hulle reeds etiek geleer word – deur hul politieke leiers. Hulle leer etiek wanneer hulle in die nuusmedia die een berig ná die ander oor korrupsie lees. Hulle leer etiek wanneer hulle sien hoe hul ouers, broers en susters die strate van ons groot stede vervuil. Hulle leer beslis etiek wanneer hulle sien hoe jeugleiers die aansien van hierdie en ander lande se leiers aftakel.

So min soos ’n alkoholis ’n oplettende kind doeltreffend kan leer oor die gevare van die misbruik van middels, so min kan jy etiek inspuit in die bloed van kinders deur dit deur die skoolkurrikulum te predik. Die kragtigste kurrikulum is dit wat kinders deur alledaagse waarneming oor waardes leer.

Toe jeugdiges in Brittanje winkels geplunder en motorvoertuie vernietig het, het die Britse premier van sy vakansie teruggekeer en buite sy ampswoning die wandade veroordeel en aangekondig wat gedoen sal word om die maatskaplike misdadigheid te stuit. Toe dieselfde soort openbare geweld deur Samwu-stakers gepleeg is, het ons nie eens ’n piep gehoor van ons staatshoof of ander leiers nie.

Wat gaan die gevolge wees? Dit sal weer en weer gebeur. Dit maak nie saak watter ooreenkomste vanjaar tussen die onderhandelende partye bereik word nie. Ons voorland is dat hierdie plundery van ons stede jaar ná jaar sal voortduur, en net om een rede: die gebrek aan, of mislukking van, leierskap. Openbare geweld, geërf uit ons gevaarlike verlede, het die maatstaf geword, en dít behoort elke Suid-Afrikaner tot kommer te stem.

Daar is ’n goeie rede vir die onsigbaarheid van leierskap in hierdie openbare krisis: Mangaung 2012. Geen leier gaan geweld veroordeel wat gepleeg word deur die mense en organisasies wat in die leiersverkiesings van die regerende party aanstaande jaar oor hul lot gaan beslis nie.

Dit is wat ons ’n bose kringloop noem. Slegte mense maak hulle aan slegte gedrag skuldig, en swak leiers kan nie optree nie, omdat hulle van slegte mense afhanklik is om hulle aan die bewind te hou.

Dit is die blywende les van Polokwane in 2007: “As ons nie van jou as leier hou nie, kan ons van jou ontslae raak; bly dus stil oor ons slegte gedrag.”

’n Vooraanstaande Suid-Afrikaner het onlangs vir my gesê op ’n besoek aan Japan het sy gashere die volgende betekenisvolle opmerking gemaak: “Ons het geen probleem met jul pres. Jacob Zuma nie; ons probleem is dat julle hom verkies het.”

Met ander woorde: “Jul kieserskorps het die vermoë om keer op keer slegte leiers aan die bewind te stel.” Dit is die skrikwekkende waarheid.

Wat kan gedoen word? Ek glo nie die oplossing lê binne die huidige regering nie. Gewone mense moet opstaan en hul stem hoorbaar maak. Dit is wat gebeur het in die strate van onder meer Londen en Manchester. Burgers het besems geneem en hul stede begin opruim as ’n daad van weerstand teen boewe en hul plundery. Hulle het plakkate gedra ter veroordeling van die geweld. Hulle het protes aangeteken teen die verval in hul gemeenskap. Hulle het die nuusmedia oorval met briewe van weersin in die wangedrag.

Ons het ook burgerlike aksie nodig. Swart en wit burgers moet in solidariteit optree, anders kan dit maklik vertolk word as optrede van die blanke middelklasse teen verdrukte swart mense. Wat dit natuurlik nie is nie.

– Prof. Jansen is rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s