‘n Nuwe Grensoorlog?

Praag

In ‘n hoofartikel vandag mor Beeld oor die ANC-regering se gebrek aan politieke wil om meer geld aan die Suid-Afrikaanse vloot te bewillig om Mosambiek se kuslyn, waar reuse gasreserwes ontdek is, te beveilig.

Soos dit ‘n DA-mondstuk betaam, is die taal in melodrama gehul: “Suid-Afrika staan voor ‘n nuwe ‘grensoorlog'”. Natuurlik weer eens nie dié keer aan sy eie kuslyn nie, maar in die Mosambiek-kanaal.

Die skielike inspirasie om Mosambiek te gaan red van wat ookal, kom waarskynlik deels van sekere Amerikaanse en Italiaanse oliemaatskappye wat nie lastig geval wil word deur Somaliese, of enige ander, buiters nie.

En soos die toeval dit nou wil hê, het die Britse premier, David Cameron, net gister presies dieselfde kopseer ontdek: Seerowery. Dié sameloop is ongetwyfeld toe te skryf daaraan dat Gemenebeslande oor akute telepatie beskik.

“Internasionale kenners, asook opperbevelhebbers van die Suid-Afrikaanse vloot, is dit eens dat Somaliese seerowery ‘n groeiende bedreiging vir Suider-Afrika word”, lui die roerende betoog in die grootste Afrikaanse dagblad.

Cameron, die nuwe Nelson, wil glo selfs sien dat Britse handelsvlote voortaan met wapens toegerus word. 

Selfs al sou die Suid-Afrikaanse vloot hul hele mag ontplooi, gaan dit geen duit verskil aan die Somaliërs maak nie, aangesien ruim 30% in hul pogings omkom en daar nog vele aspirante is wat wag op ‘n geleentheid om met bloed te betaal vir ‘n deel van die aksie. ‘n Doodse vrees vir ‘n gewapende handels- of oorlogsvaartuig is dus geen afskrikmiddel nie.

Trouens, nie eens ‘n kernwapen aan boord gaan die magsbalans ter see verander nie en die koste daaraan verbonde moet ook vir lesers wat Wiskundige geletterdheid op skool gehad het, duidelik raak.

Dwelmhandelaars, die ander rede waarom Suid-Afrika ‘n vloot behoort te hê volgens Beeld, se voorliefde vir gunstige werksomstandighede vir hul werknemers is byna so groot soos seerowers s’n.

Gewapende handelsvlote gaan eerder internasionale vaarwaters in ‘n nagmerrie laat ontaard, want sulke skepe het uiteraard toestemming nodig van die kusgebied waarom hulle reis.

Die ANC is seker lugtig vir nog ‘n wapenskandaal waar Britte met miljarde in fooie wegstap vir nuwe vloottoerusting wat hulle aan Suid-Afrika gesmous het om ‘n “grensoorlog” te voer, ekskuus, seerowery te bekamp.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s