FW de Klerk se regverdiging van sy brousel

FW oor regsoewereiniteit

In ‘n toespraak voor die Londense Prokureurslitigasievereeniging op 25 Oktober het FW de Klerk gepraat oor regsoewereiniteit en grondwette in vinnig-veranderende gemeenskappe.

Hy het gesê dat die nuwe Suid-Afrika gegrond is op die beginsel dat geeneen – geen meerderheid, geen minderheid, geen individu – ooit weer instaat gestel behoort te word om enigeen – of dit nou ‘n meerderheid, minderheid of individu is, onregverdig van enige fundamentele reg te ontneem nie. “Die grondslag van ons historiese nasionale akkoord was dat verhoudings tussen die staat en sy burgers voortaan nooit weer beheer sal word deur die arbitrêre besluite van hierdie of daardie groep of party nie, maar deur die sorgvuldig saamgestelde en nasionaal aanvaarde voorskrifte van die Grondwet.”

Die stigters van die Grondwet het ‘n historiese handves opgestel wat die basis voorsien vir ‘n werklike demokrasie; regsoewereiniteit en die ervaring van basiese regte. Dit was egter ook ‘n transformerende dokument. Dit het die gedagte dat die status quo gehandhaaf moet word, verwerp. Dit het Suid-Afrikaners ingeskerp om hulle vir ‘n gemeenskap te beywer wat gegrond is op menswaardigheid, gelykheid en basiese regte vir almal. Dit het die regering bemagtig om stappe te neem om gelykheid te bevorder deur mense te bevoordeel wat benadeel is deur onregverdige diskriminasie. Dit het die konsep van grondhervorming onderskryf. “Derhalwe voorsien dit ‘n raamwerk vir vinnige verandering, gegrond op regsoewereinitiet en grondwetlike beginsels.”

Terselfdertyd het dit die redelike regte van alle Suid-Afrikaners beskerm deur die soms botsende aspirasies en vrese van ons merkwaardig diverse bevolking te versoen.

Volgens mnr. De Klerk was die Suid-Afrikaanse grondwet meer as net ‘n regsdokument. “In werklikheid verskaf dit die grondslag van ons nuwe nasie. Dit was nie op enige iemand afgedwing nie – maar is deur die partye wat ‘n oorweldige meerderheid van ons bevolking en die gemeenskappe wat dit saamstel onderskryf. Dit stel die doelwitte waarna ons almal moet streef en die waardes wat ons gedrag bepaal.”

Mnr. De Klerk het uitgewys dat regsoewereiniteit ook uiters belangrik is om die sukses en stabiliteit van Suid-Afrika se vinnig-veranderende gemeenskap te verseker.

Die oorsprong van ‘n groot gedeelte van die onreg wat Suid-Afrika voor 1994 geteister het, het dikwels in die afwatering van regsoewereiniteit gelê. Die blanke parlement was soewerein en kon – en het – enige wet instel wat dit wou. Daar was geen Verklaring van Menseregte om die swakkeres en diegene wat geen stemreg gehad het nie, te beskerm en standaarde en waardes te stel wat die mag van die regering kon inkort en reguleer nie. Die regbank het slegs beperkte vermoë gehad om die regte van burgers te beskerm en af te dwing. Die rol van die howe is inderdaad dikwels beperk tot die bepaling of optrede deur die staat bona fides was, en in ooreenstemming was met die onbeheerbare wetgewing soos deur die soewereine parlement gepromulgeer.

Mnr. De Klerk het daarop gewys dat daar ‘n algemene wanopvatting bestaan oor Suid-Afrika se vreedsame oorgang, naamlik dat dit wesenlik die oordrag van mag vanaf die ou Nasionale Party regering na die nuwe ANC regering van Nelson Mandela behels het. “Dit het nie. Wat eerder betrokke was, was die oorgang vanaf die ou Suid-Afrikaanse grondwet waar die parlement soewerein was, na ‘n bedeling waar die Grondwet self – en nie hierdie of daardie politieke meerderheid in die parlement – die oppergesag is.”

Volgens die voormalige president het Suid-Afrikaners in die afgelope jare ‘n tydperk van onsekerheid begin beleef. “Miskien is hierdie senuweeagtigheid net deel van die ongerustheid wat met alle ontluikende demokrasieë gepaard gaan. Desnieteenstaande hou sommige van die bekommernisse oor die toekoms direk verband met die integriteit van ons grondwetlike stelsel en die voortbestaan van regsoewereiniteit. Hierdie bekommernisse sluit in:
• Die erosie van die onafhanklikheid van sleutelinstansies soos die Nasionale Vervolgingsgesag en die Regterlike Dienste Kommissie;
• Toenemende aanvalle op die regbank en die grondwet as hindernisse vir die wil van die meerderheid;
• Indiening van wetgewing – soos die Wet op die Beskerming van Inligting – wat die regte van Suid-Afrikaners op toegang tot inligting oor regeringsaksies ernstig ondermyn; en
• Die versuim van die regering om rassisties uitdagende verklarings van senior ampsdraers aan bande te lê.

Mnr. De Klerk glo dat die volgende faktore ‘n belangrike rol sal speel om te bepaal of Suid-Afrika op die hoofweg van grondwetlikheid en regsoewereiniteit sal bly – of sal afdwaal in die mynveld van onbeheersde uitvoerende mag.
• Die eerste is die mate waarin die pragmatiste of die ideoloë die ANC se agenda gedurende die volgende paar jaar sal beïnvloed. “gelukkig het die ANC ‘n skerp bewustheid van die belangrikheid van praktiese sukses asook navolging van wêreldkonsensus getoon – selfs al het dit noemenswaardige afwykings van sy ideologiese program beteken.”
• Die tweede faktor in die handhawing van regsoewereinitiet sal die mate wees waarin ons toenemend verteenwoordigende regbank sal voortgaan om sy kernrol onafhanklik, onpartydig en in streng ooreenstemming met die Grondwet en wetgewing uit te voer.
• Die derde faktor in die handhawing van die Grondwet en regsoewereiniteit is die rol van die burgerlike gemeenskap. Die FW de Klerk Stigting en sy Sentrum vir Grondwetlike Regte werk onophoudelik om die Grondwet te beskerm. Mnr. De Klerk verklaar dat hy persoonlik 100% daartoe verbind is om die historiese nasionale akkoord, wat hy gehelp het om te onderhandel tussen 1990 en 1996, te verdedig.
• ‘n Vierde faktor is die rol van die internasionale gemeenskap. “Ons vertrou dat ons vriende in Brittanje en elders sal voortgaan om ‘n goedgunstige belangstelling in ons land te toon. Ons het hul hulp nodig om regsoewereiniteit in Suid-Afrika te handhaaf met dieselfde lewenskragtigheid waarmee hulle in die verlede die gebrek daaraan gekritiseer het”.

Mnr. De Klerk het afgesluit deur op te merk dat die Grondwet volle voorsiening maak vir spoedige verandering gegrond op regsoewereiniteit. “Die uitdaging wat Suid-Afrikaners konfronteer is om te verseker dat ons almal by die beginsels, waardes en visie hou wat dit artikuleer.”

One thought on “FW de Klerk se regverdiging van sy brousel

  1. Wat jy hier skryf klink baie mooi op die oog af, maar as ons begin dieper kyk dan hang daar ‘n donker wolk oor die Grondwet.

    Kom ek gee vir jou ‘n voorbeeld:

    My inkomste per maand is R 5000.00 daarmee moet ek my hele gesin kos, klere en ‘n bed gee om in te slaap. Eendag gaan ry ek met my kar om inkopies te gaan doen en word afgetrek deur rassistiese verkeerskonstabels. Hierdie konstabels rand my aan en sluit my in die selle toe net omdat ek wit is.

    Nou wil ek graag ‘n klag by die hof indien maar ek het nie geld om die prokureers onkoste te betaal nie.

    Wat beteken die grondwet dan? In die geval absoluut niks.

    Nou wil ek ook by jou weet of die grondwet die 3000+ slagoffers van plaasmoorde beskerm het? Of die 18000+ slagoffers van plaasaanvalle? Of die man wat vermoor is in sy huis, of in sy motor?

    Op papier is die grondwet baie mooi, maar in werklikheid beteken dit nie veel nie, in ‘n wereld waar alles perfek is sal die grondwet iets beteken of dalk nog in ‘n land waar mense, mense is en waar hulle nie hulle gedra soos ‘n klomp barbare nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s