Verraai u volk – stem gerus DA!

Dan Roodt

Afrikaners beskik oor ‘n heroïese geskiedenis – of níé. Want vir elke volksheld tydens die Groot Trek of Vryheidsoorloë was daar dalk ‘n papbroek en volksverraaier wat wou weghardloop of lustig met die vyand saamgewerk het, dikwels vir eie gewin. In ANC-Suid-Afrika word Afrikanerverraaiers as’t ware op die hande gedra. Hulle is die nuwe helde waaroor ons monopolistiese media swymel en wat medaljes by bekroningsgeleenthede ontvang.

Maar ook die gewone man op straat wat nooit die orde van Mapungubwe – of watter ander naam die ANC se medaljes ook al dra – gaan ontvang nie, kan baie doen om Afrikanerverraad te bevorder. Hy of sy kan byvoorbeeld vir die DA stem, soos vele Afrikaners reeds doen.

U kan ‘n vriend of kollega in die rug steek, elkeen om u bedrieg. Maar ‘n stem vir die DA is eintlik die grootste bydrae wat u kan lewer om die Afrikaner se gewisse ondergang te bewerkstellig.

Op sy eenvoudigste ontneem elke stem vir die DA die Vryheidsfront van befondsing deur die staat en die parlementêre stelsel. Die Vryheidsfront is die laaste oorblywende Afrikaner- politieke party wat aan die formele politiek deelneem. As u dus ‘n goeie hensopper wil wees, moet u sorg dat dié party in die 2014-verkiesing geheel en al verdwyn en met oorgawe DA stem.

Luister vir die propagandameesters van die Nasperskoerante soos Beeld, Die Burger en Rapport en beskou die uitwissing van die laaste bietjie Afrikanerinvloed in die politiek as ‘n nasionale prioriteit. Die Vryheidsfront is die laaste politieke party wat die Afrikanersaak in die parlement stel. Daarom behoort hy te verdwyn en slegs die DA en enkele swart partye in die opposisie oor te bly.

Elke goeie Afrikanerverraaier in die tradisie van Piet de Wet, Kortbroek van Schalkwyk, Beyers Naudé, Braam Fischer en wie nog behoort die Black Sash-vrou, mev. Helen Zille, met oorgawe te steun. Sy het reeds Afrikanername van die Kaapse strate verwyder en kan nog baie meer doen om ons erfenis uit Suid-Afrika te laat verdwyn. Haar swart protégé, Lindiwe Mazibuko, verdien insgelyks u steun en dis verblydend dat ‘n lesersopname op een van die Nasperswebwerwe onlangs bevind het dat meer as die helfte van lesers meen sy “is ‘n goeie idee”!

Lindiwe Mazibuko is ‘n natuurlike leier vir Afrikaners. Sy is jonk, swart en vroulik, alles dinge wat in haar guns tel. Sy ondersteun ook radikale grondhervorming en die ANC se Freedom Charter. Met haar as die DA se parlementêre leier, gaan dit amper beter wees om vir die DA te stem as om ANC te stem.

Kom ons wees eerlik, liewe Afrikanerverraaier. Hoe gouer die Afrikaner die doodskoot in Suid-Afrika kan kry, hoe beter. Terwyl die Vryheidsfront kliphard teen grondhervorming baklei en luidkeels teen plaasmoorde en ander geweld beswaar maak, wil die DA ons mense van hul grond verdwyder en bly die party tjoepstil oor plaasmoorde. U stem vir die DA kan die Vryheidsfront permanent uit die parlement verwyder en sodoende ‘n groot bydrae tot nasiebou lewer.

Die Vryheidsfront is boonop die enigste politieke party wat mediaverklarings in Afrikaans uitreik. Is dit nie ‘n onding wat uitgeroei moet word nie? Elke politieke party in die land behoort slegs verklarings in Engels uit te reik en in Engels met die publiek te kommunikeer. Soos die ANC byvoorbeeld. Of die DA. Of Cope.

Elke stoere DA-ondersteuner behoort te weet dat die voortbestaan van die Vryheidsfront ‘n bedreiging vir die soomlose transformasie van Suid-Afrika tot ‘n Engelstalige Afrikaland soos Zambië, Zimbabwe of Kenia inhou. Die staat finansier die politieke partye en solank as wat daar enkele miljoen rand per jaar aan ‘n groepie Afrikaner-politici en -aktiviste in die Vryheidsfront vloei, mag die Afrikaner dalk weer opstaan om sy voortbestaan en sy regte in die land en internasionaal op te eis. Dit mag nie gebeur nie. Die meesterplan van Lord Milner en mev. Helen Zille to eradicate the last vestiges of Afrikanerism from South Africa moet verwesenlik word.

Die Vryheidsfront is die enigste party in die parlement wat beswaar maak wanneer die afskaffing van Afrikaans op skool en op universiteit ter sprake kom. Al die voortreflike Engelsgesinde Afrikanerverraaiers daar buite kan nie toelaat dat so iets langer geduld word nie. Al stem soveel Afrikaners reeds DA, is dit nog nie honderd persent nie!

As u dus regtig ‘n groot bydrae tot Afrikanerondergang wil maak, praat gerus met u vriende om die braaivleisvuur. Oorreed hulle om DA te stem en te sorg dat die laaste Afrikanerstemmetjie in die parlement finaal stilgemaak word.

Nie net sal dit ‘n goeie ding wees as Afrikaners uit die politiek verdwyn nie, maar ons volk verdien om deur jong, swart radikale en ‘n paar bejaarde Engelse liberale gelei te word. Ons land moet net soos elke ander Afrikaland word, sonder Afrikanerlandbouers, -ingenieurs, -wetenskaplikes, -administrateurs, -onderwysers, ens.

Korrupsie? Misdaad? Hoë belastings? Tolpaaie? Watwou! Trek net u kruisie by die DA-blokkie, soos die meeste mense reeds maak.

Sonder Afrikaners en veral Afrikaners in die politiek, kan die land net verbeter

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s