Die nuwe Afrikanervrees vir politiek

Sondag, 02 Oktober 2011 04:47 Dan Roodt

In vandag se Rapport skryf Tim du Plessis dat ek op “die B-veld speel”, teenoor Kallie Kriel en Adriaan Basson wat die toon aangee in ‘n “lekker ou Afrikanerdebat – die een ding van ons ou volkie wat nog niks verander het nie”.

Rugbymetafore steek my natuurlik dwars in die krop – ‘n mens kan nie alles met behulp van rugby verduidelik nie. Maar Du Plessis water ook my argument heeltemal af as hy sê:

“Op die B-veld (Business Day), woed gister se debat. Daar stry Dan Roodt met ’n paar Engelse liberale en een of twee Afrikaners oor die vraag of Afrikaners hoegenaamd tuishoort en geïntegreerd kan leef in ’n multikulturele Suid-Afrika. Dan sê nee. Nooit nie.

Maar daardie debat is verby. Ons het geen keuse nie. Ons moet en ons kan.”

Terloops, die enigste rede waarom ek op die “B-veld speel” en in Engelse koerante skryf, is omdat Naspers met sy monopolie op gedrukte media in Afrikaans al jare lank ‘n Sowjet-tipe sensuur op my toepas. Ek “verkeer in onguns” by Naspers. Tans lees ek ‘n baie interessante Russiese roman deur Mikhail Boelgakof, Die meester en Margarita, wat in die dertigerjare in die Sowjetunie geskryf is, maar eers jare later postuum gepubliseer kon word, aangesien Boelgakof – soos vele ander skrywers –  destyds “in onguns verkeer” het. Ek troos my egter daaraan dat die Naspersmonopolie, soos die ou Sowjet-empaaier, nie vir altyd sal duur nie en intussen teister ons die Afrikaner-meelopers met die huidige bestel hier op praag.co.za.

‘n Ander vraag is: indien my mening so onbelangrik is en tot die “B-span” behoort, waarom lees Afrikaners geesdriftig my internetskrywes en het geen Engelse koerant nog ooit versuim om ‘n brief of artikel van my te plaas nie? Terwyl Naspers homself vir “liberaal” uitgee, het sy redakteurs nog nooit die mees basiese beginsel van die liberalisme gesnap – om meer as een mening of standpunt te verdra – nie. Tewens, hoe op aarde kan daar van “debat” sprake wees as slegs een standpunt verdra word, naamlik dat die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” met al sy gebreke ‘n fait accompli is wat ons nie durf bevraagteken nie?

Vandaar dus Tim du Plessis se vooroordeel, dat ons geen ander keuse het as om ons eie vryheid af te sweer en “te integreer by multikulturele Suid-Afrika nie”. Maar my briewe in Business Day het nie oor integrasie gehandel nie; eerder het ek oor die taboe-onderwerp, Afrikanerselfbeskikking, geskryf. Onder andere het ek gevra waarom Lesotho en Swaziland onafhanklik mag wees terwyl hulle geensins oor die finansiële middele daartoe beskik nie, terwyl die Afrikaner wat 30% van die RSA se belastings bydra, se soewereiniteit en selfbeskikkingsreg ontken word. Ons belastings word aan Swaziland geskenk om sy bankrot staat te onderskraag, soos die onlangse R2,5 miljard wat Suid-Afrika aan die Swazi’s oorbetaal het, terwyl ons eie vryheid en soewereiniteit van ons weerhou word.

Onderliggend aan Tim du Plessis, maar ook Kallie Kriel en Adriaan Basson se taamlik onbenullige argumente oor watter “houding” Afrikaners teenoor die ANC-bewind moet inslaan, is egter ‘n vrees vir die politiek. Tewens, so ‘n vrees vir die politiek het reeds die Nasionale Party in sy terminale stuiptrekkinge vanaf die tagtigerjare gekenmerk. Net soos die NP-bewind nie meer die moed gehad het om destyds sy standpunt teenoor die internasionale gemeenskap te stel nie, beskik vele Afrikaanse organisasies vandag nie meer oor genoegsame testosteroon om Afrikanervryheid en -selfbeskikking te verdedig nie. Selfs die Vryheidsfront Plus, wat oorspronklik gestig is om Afrikanerselfbeskikking by die stembus te verwesenlik, het vir ‘n lang tyd bloedweinig in die openbaar daaroor te sê gehad.

As ‘n mens van selfbeskikking praat, is dit Politiek met ‘n hoofletter-P. Dit veronderstel ‘n verandering in die huidige bestel wat met soveel fanfare in 1994 deur die buiteland en hul lakei, FW de Klerk, op ons afgelaai is. En daarvoor sien min Afrikanerleiers en -organisasies kans. As enigiemand dié stelling sou bevraagteken, herinner ek hom maar net aan die metodes en beleid van die meeste bestaande Afrikanerorganisasies en politieke partye, wat ek hier kortliks opnoem:

Afriforum/Solidariteit. Die meeste ampsdraers van dié organisasies was op een of ander stadium met die Vryheidsfront gemoeid (Kallie Kriel, Willie Spies, Cornelius Janse van Rensburg), maar het nie meer kans gesien vir die politieke “verloorstryd” by die stembus teen die DA nie. Daarom wend Afriforum hom nou tot die howe as die politieke arena waar die Afrikanersaak verdedig moet word. Gaan die howe iets aan die huidige bestel verander, vra ek myself af? Binnekort gaan die howe in elk geval so getransformeer wees dat daar slegs ANC-gesinde regters op die bank gaan wees. Juis omdat Afriforum se “strategie” – indien daar hoegenaamd enige langtermyndoelwit daaragter steek – so ontdaan is van enige politieke gevolge, ondersteun Naspers en selfs die SAUK geesdriftig elke hofgeding van Afriforum met gunstige publisiteit. Dis ‘n geval van “die dekstoele op die Titanic reg te skuif” en skadeloos. Dit hou die Afrikaners besig met interpretasies en stryery oor die ANC se wetgewing en sodoende laat hulle die politiek aan swartmense en Engelse (soos Helen Zille) oor. Intussen emigreer ons moedelose mense in hul hordes na Australië, Nieu-Seeland en elders en raak ons kanse om waaragtige politieke verandering te bewerkstellig al hoe skraler.

Orania. Ek is al moeg om oor Orania te redekawel en gun die Oraniërs alle sukses. Maar enigeen wat ‘n “ontwikkelingsdorp” of “groeipunt” van ongeveer 1 000 siele in die Noord-Kaap as ‘n staatkundige oplossing vir die Afrikaner sien, moet sy kop laat lees. Die meeste Afrikaners woon in die PWV-gebied, oftewel teenswoordige “Gauteng” en vir hulle bied Orania geen politieke toekoms nie, want om die PWV se infrastruktuur, ekonomie, skole, universiteite en wat nog op Orania te gaan oorbou, gaan iets soos ‘n Marshallplan verg. Nóg Amerika, nóg die EU of selfs Rusland of China gaan so ‘n plan aan die Afrikaner beskikbaar stel.

Die Vryheidsfront Plus. Onlangs sê ‘n ampsdraer van die VF Plus vir my: “Ons party het politieke selfmoord gepleeg. Hy is verby.” Blykbaar het die studente van Tukkies, wat jare lank getrou die VF-jeug ondersteun het, hul rûens op die party gedraai en eerder vir Afriforumjeug tydens die studenteraadsverkiesing gestem. Onder dr. Pieter Mulder het die Vryheidsfront ook die weg van “nie-konfrontasie” met die ANC ingeslaan, wat insgelyks daarop neerkom dat dié party enige vorm van risikopolitiek vermy het. Die Vryheidsfront se grondwet vereis risikopolitiek omdat die party tot selfbeskikking verbind is, maar in die praktyk het dr. Mulder allerlei “veilige keuses” gemaak, so veilig dat die ANC hom uiteindelik as adjunkminister aangestel het.

As iemand wat binne die Vryheidsfront Plus gepoog het om nuwe geesdrif rondom die party te skep, is dit vir my ‘n hartseer saak. Maar as die doodsberig van die Vryheidsfront binnekort geskryf word, gaan iemand die vraag moet vra: “Waarom het ‘n politieke party wat tot Afrikanerselfbeskikking verbind was, die politiek vermy?”

Die HNP en sy splintergroepe. Jare lank het die HNP homself bemark as ‘n party uit die ou bedeling wat “suiwer en getrou aan sy beginsels gebly het”. Intussen het dr. Sydney Gregan en ander van die HNP afgestig en die Afrikanervolksparty opgerig, juis omdat die party volgens hulle begin het om die Verwoerdiaanse leer te oortree. Maar die HNP en sy geesgenote soos die AVP bied ook aan die Afrikaner politieke ontvlugting, die illusie dat ‘n mens as’t ware kan voorgee dat die ANC nie die land regeer nie en dat sy bewind eendag weens onbekwaamheid “vanself in duie gaan stort”. Intussen betaal ons almal getrou ons belastings en sorg sodoende dat die huidige bewind juis níé in duie stort nie. Ook die HNP en AVP skram van die politiek weg.

ATKV en verwante kultuurorganisasies. Blykbaar verwag die ATKV se lede van hom dat hy sterk standpunt ten gunste van die behoud van die Afrikanerkultuur, maar ook politieke kwessies soos Afrikanerarmoede en regstellende aksie, moet inneem. Hiervoor is die bestuur van die ATKV egter banger as die spreekwoordelike duiwel vir ‘n slypsteen. Daarom het dié ou en gevestigde kultuurorganisasie hom “geherposisioneer” as ‘n “getransformeerde” organisasie onder ‘n bruin leier. dr. Danny Titus, wat in die sleurstroom van die ANC en politieke korrektheid Afrikanervryheid tot ‘n taboe-onderwerp verklaar het. Dieselfde geld die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) wat so pas dr. Christo van der Rheede as sy uitvoerende beampte aangestel het.

OASE. Vir diegene wat nie weet nie, staan dit vir “Onafhanklike Afrikanerselfbeskikkingsekspedisie”. Mnr. Cor Ehlers en sy dogter Marieke maak reeds maande lank daarop aanspraak dat hulle oor die “enigste haalbare oplossing” vir Afrikanerselfbeskikking beskik en het intussen hul kaart van die toekomstige volkstaat gepubliseer. Afgesien daarvan dat OASE oor geen bewese lidmaatskap of steunbasis onder Afrikaners beskik nie, berus die OASE-plan ook op ‘n volkome ontkenning van politiek. Soos Afriforum, plaas mnr. Ehlers sy hoop op die howe en dan veral die internasionale geregshof (IG) in Den Haag waar Afrikaneronafhanklikheid en ‘n eie grondgebied as’t ware op ‘n skinkbord aan ons oorhandig gaan word. Weliswaar is die Kosovo-mening van die IG potensieel vir ons gunstig. Maar wat OASE in sy lekkergeloof rondom die “Kosovo-presedent” verswyg, is juis die politiek rondom Kosovo! Lank voordat die IG sy mening ten gunste van Kosovaarse selfbeskikking uitgespreek het, het sowel die VSA as NAVO militêr aan die kant van Kosovo ingemeng. Ook die aanstellings van regters by die IG is onderhewig aan die skommelinge van die internasionale politiek en die magsprojeksies van die groot moondhede soos Amerika, China, Rusland en Japan. Die kanse dat die IG die Afrikanervolk onafhanklik gaan verklaar, buite die politiek om en sonder dat Afrikaners hulleself onlangs ten gunste van onafhanklikheid uitgespreek het, is so te sê nul.

Die NBU (nasionale belastingbetalersunie). Die hardwerkende mnr. Jaap Kelder van die NBU het reeds ‘n reusetaak verrig om inwoners van dorpe regoor Suid-Afrika te oortuig dat hulle op plaaslike vlak hul rug op die ANC-munisipaliteite kan keer en hul belastinggeld in trustrekenings kan inbetaal. Maar ook mnr. Jaap Kelder glo dat dit ‘n “nie-politieke” oplossing is en dat ons saam met Engelse, Indiërs en swartes buite die ANC kan werk om plaaslike bestuur weer reg te ruk sodat munisipaliteite weer behoorlike dienste kan lewer. Gaan die ANC toelaat dat ons beheer oor munisipale finansies neem terwyl hy die politieke mag en wetgewing aan sy kant het? Ek twyfel sterk.

Ons sal moet besef dat daar geen “maklike” uitweg vir ons is nie. Ons toekoms gaan nie in die howe, hetsy plaaslik, hetsy internasionaal, beslis word nie. Danksy die swak Afrikanerleierskap en -mislukkings van die afgelope paar dekades, lê daar ‘n harde stryd vir ons voor. Elke politieke stryd begin egter met ‘n idee. Ons voorouers het oor jare en eeue heen die idee van Afrikanervryheid gevestig. Dis waaroor Afrikanerpolitiek nog altyd gegaan het, van die Patriotbeweging van die 1790s, verby die Groot Trek en Vryheidsoorloë tot vandag toe.

Soms kompliseer ons dinge ook te veel. Daar is slegs twee struikelblokke op die pad na Afrikanervryheid: die ANC en Naspers. Solank as wat die ANC ons regeer en ons mense die tydskrifte en koerante van Naspers soos Die Huisgenoot, Die Burger, Beeld en Rapport lees, sal ons nie vry wees nie.

Jare lank het ek my teen Naspers se sensuur, smalende aanmerkings en selfs lasterlike bewerings vasgeloop. Totdat ek besef het: daar is ander media ook, soos die internet, sosiale media of die Engelse koerante en radiostasies, die sogenaamde “B-veld” waarna Tim du Plessis neerhalend verwys. Die voordeel van die “B-veld” is egter dat die buitelandse ambassades en korrespondente almal eerder Engels as Afrikaans lees.

Oor die volgende paar maande sal PRAAG ‘n kommunikasiestrategie in werking stel wat op elke moontlike gebied die saak vir Afrikanerselfbeskikking sal stel. Dit moet ‘n golf word wat die openbare mening onder Afrikaners oorspoel, ongeag die kritikastery van Naspers se sikofante en napraters. Van daar af moet die toekoms van Afrikaners die hoof- politieke debatspunt in die land word. Die propaganda-oorlog wat die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse ambassades in die tagtigerjare in die internasionale media verloor het, sal ons dié keer moet wen. Ons beskik oor die wil, die kennis en talent, asook die internasionale bondgenote, om dit te kan doen.

Dit gaan ‘n politieke stryd soos min wees en ons vyande gaan aan ons geen genade betoon nie. Ons gaan aanmekaar geëtiketteer, beswadder en verguis word. Dat ons egter kan en móét slaag, ly geen twyfel nie.

En soos ‘n ou-Griekse filosoof gesê het: “Om goed te doen en daarvoor verguis te word, is die koninklike weg.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s