Clive Derby-Lewis is ‘n tweede Jopie Fourie

Geskryf deur Dan Roodt

Die voortslepende verhaal van die voormalige KP-parlementslid, mnr. Clive Derby-Lewis, wat wel vir mediese parool in aanmerking kom, maar nie vrygelaat word nie, werp nog ‘n skadu oor die aard van Suid-Afrikaanse “demokrasie”.

Derby-Lewis ly aan kanker en is reeds in die gevangenis verwaarloos wat sy mediese behandeling betref. Sy geval kan met twee ander vergelyk word: dié van Schabir Shaik en die terroris van die Lockerbie-bomaanval, Abdelbaset Ali al-Megrahi. Shaik, wat “dodelik siek” sou gewees het, is deur die owerheid vrygelaat en het agterna op gholfbane rondgekuier en verkeer steeds in die land van die lewendes. In sy geval is hy duidelik ‘n guns gedoen vanweë sy goeie verhouding met president Jacob Zuma.

In die geval van Megrahi, wat op 20 Augustus 2009 deur die Skotse regering vrygelaat is, het Brittanje se toenemende belang om sake met Moeammar Gaddafi te doen, ‘n rol in sy vrylating gespeel. Megrahi het wel prostaatkanker gehad, wat as gronde vir sy vrylating gegeld het. Die Libiese burger was besig om lewenslange gevangenisstraf op 270 aanklagte van moord uit te dien ná die ontploffing aan boord van Pan Am-vlug 103 in 1988 toe daardie aantal slagoffers die lewe gelaat het. Omdat die meeste slagoffers van die terreurvoorval Amerikaners was, was daar in die VSA groot ontsteltenis oor Megrahi se vrylating. Megrahi is ook soos ‘n held deur Gaddafi in Tripoli ná sy vrylating ontvang.

Op die oog af geniet Clive Derby-Lewis veel meer meriete om op parool vrygelaat te word. Anders as in die Shabir Shaik-geval, kan daar geen twyfel oor sy mediese toestand bestaan nie. Hy is immers nie besig om toneel te speel nie. Daarby was hy tot dusver ‘n modelgevangene met ‘n skoon rekord in die gevangenis.

Derby-Lewis se betrokkenheid by die moord op die SAKP-leier, Chris Hani, was nie ‘n blote terreurdaad soos Megrahi s’n nie, maar het geskied binne die konteks van die ANC-oorname in die vroeé negentigerjare. Hani was ook geen onskuldige individu nie, maar was self verantwoordelik vir verskeie terreurdade. Volgens genl. Chris Thirion is Hani reeds in die tagtigerjare as ‘n teiken vir die destydse Spesmagte geïdentifiseer en slegs die onsekerheid en verdeeldheid van die NP-regering het voorkom dat hy nie reeds op daardie stadium aangeval en gedood is nie. Indien enigiets, het Derby-Lewis en Janus Walusz gesorg dat Hani vir sy dade van geweld teen onskuldige burgerlikes boet.

Biskop Tutu se Waarheids- en versoeningskommissie het aan allerlei terroriste en geweldenaars kwytskelding verleen solank daar maar een of ander vorm van “politieke motief” agter hul misdade geskuil het. Vir seker het Clive Derby-Lewis se daad insgelyks ‘n politieke motief gehad en moes hy saam met die duisende ANC-moordenaars en -terroriste amnestie ontvang het.

Derby-Lewis is geen gewone misdadiger soos vele aan ANC-kant wat ook hul toegang tot wapens gebruik het om gewone rooftogte en ander misdade te pleeg nie. Hy was ‘n parlementslid en openbare figuur. Waarom so ‘n mens langer en onnodig in die tronk aanhou?

Die redes is egter nie ver te soek nie. In die eerste plek gaan dit daaroor dat daar onder die ANC-bewind geen ewewigtigheid aan owerheidsbesluite is nie. Die ANC se vriende, soos Shabir Shaik, word nie gelykwaardig behandel met diegene soos Derby-Lewis wat die ANC as hul vyand beskou nie.

Hoewel Derby-Lewis ‘n Engelssprekende is, het hy hom met die Afrikanerpolitiek bemoei en is vir alle praktiese doeleindes ‘n “genaturaliseerde” Afrikaner. Omdat Afrikaners die mees magtelose groep in Suid-Afrika is, kan die ANC dit bekostig om humanitêre versoeke om Clive se vrylating te ignoreer.

Daar is dus ‘n etniese element by die nie-vrylating van Derby-Lewis, dié van Afrikanervervolging soos ons dit ook by plaasmoorde en die diskriminaie teen ons mense en ons taal ervaar. In dié opsig is Derby-Lewis se aanhouding ook ‘n simbool van Afrikanerverdrukking en die dubbele standaarde wat die ANC op ons toepas.

Omat die grootste persgroep in die land, Naspers, ook hul eie mense vervolg, het Naspers tot dusver insgelyks Clive Derby-Lewis se vrylating teengestaan en propaganda daarteen gemaak. Op 1 Maart vanjaar het die Nasperskoerant, Beeld, leedvermakerig in ‘n hoofartikel geskryf dat Derby-Lewis “elke dag in die tronk verdien”.

Al wat Derby-Lewis gaan bevry, gaan ‘n internasionale veldtog vir sy vrylating wees. Daar moet gehamer word op die feit dat hy as Afrikaner nie dieselfde behandeling as swart moordenaars, verkragters en natuurlik die ANC se eie terroriste wat lankal deur mnr. FW de Klerk se amnestiewet of die Waarheids- en versoeningskommissie kwytgeskeld is.

Soos Jopie Fourie, is Clive Derby-Lewis reeds ‘n martelaar vir die Afrikanersaak en die stryd teen kommunisme in Suider-Afrika. Wêreldwyd behoort gematigde en konserwatiewe mense sy vrylating te steun.

Tydens die 1994-verkiesing het 1000 mense gesterf, iets wat mnr. Thabo Mbeki, as “nie te veel nie” beskryf het. Daar was Boipatong en die Shell House-skietery op Inkatha-ondersteuners waartydens tientalle mense gesterf het. Binne die ANC se eie gevoellose logika, kan die dood van Chris Hani dus as een van die ongevalle van “die oorgang na demokrasie” gesien word.

Dit het sedertdien aan die lig gekom dat die ANC se “Operasie Vula”, oftewel die gewelddadige omverwerping van die destydse bewind, steeds tydens die onderhandelinge in die vroeë negentigerjare beplan is. Die onderhandelinge is deur ‘n deel van die ANC bloot gesien as ‘n gulde geleentheid om verdere wapens die land in te smokkel en terreur te saai. Dat daar ‘n vorm van oorlog in die land aan die gang was met mense soos Hani wat op die voorpunt van die geweld en aanhitsing daartoe verkeer het, kan nie ontken word nie. Dat Derby-Lewis die besluit geneem het om onder sulke omstandighede in terme van sy politieke beginsels op te tree, kan hom nie vandag meer verkwalik word nie.

Mnr. Clive Derby-Lewis is ‘n eerbare man wat op menslikheids- én morele gronde verdien om onmiddellik vrygelaat te word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s