Voorwaarts na vryheid?

Dan Roodt

Oor die afgelope paar dae, na aanleiding van vele poltieke gesprekke en uitgeruilde e-posse met allerlei mense, is ‘n plan besig om in my kop vorm aan te neem oor hoe ons ‘n eie staat of republiek binne ‘n kort tyd kan verwerf. Voor ek daaroor uitbrei, net enkele inleidende opmerkings, as ‘n soort bestekopname van Afrikanerdenke op die oomblik.

Sedert ons Afrikanervergadering op 3 September in Centurion, het verdere informele gesprekke tussen die deelnemers plaasgevind. Die algemene gevoel is dat ons tyd besig is om uit te loop, met ‘n dreigende nuwe golf van Afrikaneremigrasie en buitelandse swartes wat steeds onverpoosd oor ons grense stroom om middestede en -dorpe te beset.

Demografies verkeer ons steeds in vryval en hoewel dit op geen wetenskaplike ontleding gegrond is nie, voel ek dat die blankes binne die volgende tien jaar vanaf die huidige tien persent van die bevolking tot net vyf persent kan daal. Dit sal al heelwat laer wees as wat die pesentasie blankes in Zimbabwe in 1980 was toe Mugabe die ou Rhodesië oorgeneem het. Diegene, soos Helen ZIlle, wat groot drome droom van hoe daar deur politiekery en die stembus weer invloed teruggewen kan word, sal dan die sin van die Fransman Auguste Comte se woorde besef: “Demografie is die noodlot.” As ‘n persentasie van die totale bevolking gaan Afrikaners tot twee of drie persent daal, ‘n weglaatbare groepie bleekgesigte wat op alle gebiede demografies oorweldig gaan word. Afrikaanse skole of kerke sal nie meer gered kan word nie en daardie kosbare gebiede waar ons steeds in die meerderheid verkeer, sal aanstons verlore wees.

Steeds in ‘n pessimistiese trant, het ek enkele dae gelede ‘n uur of wat saam met prof. Danie Goosen van die FAK in ‘n Pretoriase kafee deurgebring. Hy bekla die feit dat Afrikaners blykbaar “onmobiliseerbaar” is. Soos slaapwandelaars stap hulle pylreguit op ‘n afgrond af waar ons een vir een gaan afstort. Die enigste kwessie wat nog vir die meerderheid Afrikaners saak maak, is rugby. Maar ná Mandela se manipulasie van rugby in 1995, het die ANC, die SAUK en die groot maatskappye Springbokrugby reeds tot ‘n lewende advertensie vir multikulturalisme en die ANC-nasie onder swart oorheersing omvorm. In allerlei beelde verskyn dansende swartes met donkerbrille in Springbokrugbytruie of hardloop swart kinders met rugbyballe rond om hul toekomstige besit van rugby te simboliseer.

Ook tydens my gesprek met Goosen, het ons oor Afriforum se hofsaak teen Malema gesels. Tim du Plessis skryf insgelyks vandag in Rapport daaroor en verwoord die dilemma van diegene wat nog “binne die stelsel” teen ANC-mag wil agiteer: Met verwysing na Malema se anit-Afrikaanse en anti-blanke diskoers, meen Du Plessis:

“Dis die taal wat volksmoord laat ontkiem. Jy kan nie níks doen nie. Want as jy dit sonder reaksie laat verbygaan, beteken dit geïmpliseerde aanvaarding van die grotesk verwronge, lewensgevaarlike nuwe werklikheid wat Malema probeer skep. Jy kan luidkeels protesteer en ‘amptelik’ beswaar maak. Maar wat as dié protes niks oplewer nie?”

Ná die Malema-haatspraaksaak het ons waarskynlik die perke van politieke agitasie deur die howe bereik. Solidariteit/Afriforum veg al jare ewe hard teen die Vryheidsfront as teen Malema en noudat die Vryheidsfront tot minder as ‘n halwe persent van die kiesers gereduseer is, kan die manne in leerbaadjies vanuit Lyttelton ons ook nie enige politieke oplossings bied behalwe skermutselings in die howe nie. Ek tel onder diegene wat dink dat Malema méér daarby baat as die Afrikaner. Benewens die ongekende publisiteit wat dit Malema besorg en hom binnekort ewe wêreldberoemd as Mandela gaan maak, verkry hy ook ‘n martelaarstatus by sy volgelinge en ondersteuners binne die ANC.

Soos Tim du Plessis dit vandag in Rapport stel: “Het enigiemand ’n gesiene swart stem gehoor wat die uitspraak gesteun het? Ek het nie.” Swartes staan bankvas agter Malema. Trouens, ek kry die gevoel Afriforum is besig om ons in ‘n konfrontasie met Malema en die 8 000 troepe van die ANC-jeugliga in te lei wat tans in weermagkampe opleiding ontvang. As ek hul veiligheidshoof, Nantes Kelder, sien, weet ek nie hoeveel troepe hy tans oplei nie en sien ek hom ook nie in die rol van ‘n Afrikaner-Napoleon wat ons met militêre genie teen gewelddadige aanvalle of die komende plaasbesettings van Malema se milisie gaan beskerm nie.

Net soos wat Afriforum/Solidariteit sy vertroue in die plaaslike howe stel om die Afrikaner se politieke probleem op te los, is daar ander Afrikanergroepe wat meen dat die buitelandse of internasionale howe ons te hulp gaan snel. Soortgelyk aan die Kosovo-geval, kan ‘n Afrikanervolkstaat deur middel van ‘n geding in die internasionale geregshof bekom word, “buite die politiek om”. Só word daar geredeneer. Die Afrikaner se goedgelowigheid en naïwiteit was dwarsdeurs sy geskiedenis nog altyd ‘n groot remskoen en tans is dit nie anders nie. Net soos wat Piet Retief wou gaan piekniek hou met Dingaan, dink sommige dat die buiteland en die internasionale geregshof ons te hulp gaan snel. Die internasionale geregshof staan self midde-in die politieke storms wat internasionaal woed, ook as dit by die aanstelling van sy regters kom.

In die Kosovo-geval, het die VSA en NAVO lank reeds die Serwiërs uit die lug gebombardeer en troepe gestuur alvorens die onafhanklikheid van Kosovo deur die internasionale hof in 2010 bekragtig is. Die VSA was vooraf beslis dat hy Kosovo se onafhanklikheid sou erken, selfs al was die uitspraak van die hof negatief. Wat is die kanse dat die VSA onder Obama en NAVO die ANC sal kom bombardeer om die weg te berei op ‘n uitspraak ten gunste van Afrikaneronafhanklikheid deur die internasionale geregshof? Ek sou sê nul, of minder as nul.

Die Afrikaner is op sy eie. Dit het ons lankal al besef. Natuurlik is daar hier en daar in die VSA of Nederland onder die meer regse groeperinge simpatie vir ons saak. Maar enige poging van Afrikaners om weer hul vryheid te verwerf, gaan op eie krag en inisiatief moet geskied. Hoogstens kan ons vriende in die buiteland ons help om ten minste te sorg dat die VSA en NAVO, ná hul avontuurtjie in Libië, nie die Afrikaners in Suid-Afrika kom borbardeer om ons terug in die reënboognasie en die eenheidstaat te dwing nie!

Dus is daar geen ander uitweg nie: die apatiese, materialistiese, rugbykykende, bierdrinkende, deur Naspes gebreinspoelde Afrikaner sal vir sy eie vryheid gemobiliseer móét word. Dit is die kruks van die saak. Ons weet reeds wát gedoen moet word, dat ons grondgebied en ‘n eie staat moet bekom. Dis dis die hóé waaroor daar meningsverskil bestaan.

Aan die einde van die week het ek ‘n baie interessante gesprek oor ‘n ete by die Palazzo-hotel in Fourways gehad, neffens die casino waar ek en Steve Hofmeyr ook onlangs oor selfbeskikking op video gesels het. Saterdag het ek insgelyks via die internet met ‘n Praaglid en -rubriekskrywer in Nieu-Seeland, JH du Toit, geklets.

Uit dié gesprekke kan ek die volgende rapporteer: die Afrikaner se apatie en koersloosheid – dít wat Danie Goosen sy “onmobiliseerbaarheid” noem – moet as ‘n probleem van veranderingsbestuur gesien word. Ons moet wetenskaplike en sielkundige metodes aanwend om die Afrikaner finaal van die rusbank voor die TV te laat opstaan waar die jongste rugby-uitsending aan die gang is.

Indien moontlik, moet al die Afrikanergroepe wat hulself vir selfbeskikking beywer, begin saamwerk, ondanks ons onderlinge verskille. Ons hoofdoel moet egter wees om die Afrikaner van die behoefte aan – nee, die nood vir – verandering te oortuig. Agterna sal die res vanself volg.

Dit kán gedoen word.

Persoonlik en namens PRAAG verbind ek my daartoe om binne die volgende drie maande die eerste fase van hierdie beweging na vryheid suksesvol te volvoer. Daar is min of meer vyf fases in enige individu, groep, maatskappy of volk se veranderingsiklus. Dis nie staatsgeheime nie, maar ek wil nie hier meer daaroor sê nie, aangesien ons vyande ook lees wat ek hier skryf en vir seker gaan poog om ons te kortwiek en te saboteer.

As ons binne drie maande verby die eerste stadium kan kom, is daar hoop vir ons.

Soos vele mense al onlangs opgemerk het: die Afrikaner beskik oor twee keuses: óf emigrasie óf ‘n eie staat/outonome grondgebied binne Suid-Afrika.

Elkeen sal hom of haar die vraag moet afvra: Waar staan ek as dit by ons vryheid kom?

As Angus Buchan, die aartappelboer, ‘n paar honderdduisend mans op sy plaas byeen kan bring, kan ons mos insgelyks ‘n paar honderdduisend Afrikaners kry om op te staan en soos een man te skree: Voorwaarts na vryheid!

Dat die berge antwoord gee.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s