Tutu se aflaat vir wittes

Leon Lemmer

Desmond Tutu, gesteun deur politiek-korrektes, wil nou die welvaart van wittes verdun deur hulle op ‘n rassegrondslag ekstra te belas. Daar word voorgestel dat teen wit presteerders gediskrimineer word deur hulle materieel af te skaal, selfs tot op die vlak van nie-presterende nie-wittes. Pleks van welvaart breed te versprei, kan die uiteindelike resultaat die herverdeling van armoede wees.

Wat my in die huidige stadium van die debat hinder, is dat daar nog nie die moeite gedoen is om deeglik na te gaan uit watter oord die voorstel kom nie. Die aangewese plek om te begin, is om die omvattendste (en skynbaar grootliks betroubare) inligtingsbron te raadpleeg, naamlik John Allen se boek, Rabble-rouser for peace: the authorized biography of Desmond Tutu (London: Rider, 2006, 483p).

Van jongs af was Tutu ‘n betreklik bevoordeelde. Hy was die enigste kind in sy woonbuurt wat ‘n fiets gehad het (p 23) en as jongmens het hy ‘n pak klere en ‘n das gedra (p 50). Hy het studeer om onderwyser te word, maar wou nie geskiedenis en Engels (wat sy geliefkoosde vakke was en waarin hy onderwys gegee het) as hoofvakke aanbied nie omdat hulle te veel leeswerk vereis het (p 50). Hy het in politiek belanggestel en glad nie in teologie nie, maar hy het besef dat hy teologie as ‘n voertuig vir sy politiek kon gebruik (p 53).

Wittes soos Harry Oppenheimer (p 62) en John Rockefeller (p 81) het hom finansieel ondersteun. “Tutu had … little hesitation … in asking people for money … Leah [sy vrou] often joked that he was a professional beggar” (p 241). Hy wou in Engeland teologie studeer en het vir paspoortdoeleindes skaamteloos gelieg dat daar nie sodanige onderrig plaaslik vir swartes aangebied word nie en dat sy vrou ‘n opgeleide verpleegster is wat oorsee kon werk terwyl hy studeer (p 80). In Engeland het die Tutus (man, vrou en mettertyd vier kinders) huurvrye, gemeubileerde huisvesting gekry (p 84). Die kinders het ‘n kleuterskool bygewoon (p 84, 94) en daar was vir die gesin tyd en geld om te reis en vakansie te hou (p 88, 89, 93, 98).

Na voltooiing van ‘n graad in die teologie het Tutu ‘n pos in ‘n gemeente gekry. Van hom is werk op Sondag en op twee weeksdae verwag. Naas gemeubileerde huisvesting en vergoeding het hy ook ‘n bromponie ontvang(p 93-94). Ná jare in die buiteland was die hoogste kwalifikasie wat hy verwerf het ‘n eenjarige magistergraad (p 92). Daarvoor is nie ‘n volwaardige verhandeling vereis nie, maar ‘n essay van 10 000 woorde (sowat 50 bladsye). Sy onderwerp was Islam, al was sy kennis van Arabies baie beperk (p 95, 145).

Terug in Suid-Afrika het hy teologie doseer; veral die Ou Testament (p 104, 116), al het sy kennis van Hebreeus veel te wense oorgelaat (p 92-93). Voor en tydens sy studie in Engeland en daarna was hy geneig om bo sy inkomste en weelderig te leef (p 62, 63, 82, 90-91). Wanneer hy daarna plaaslik (en ook in Lesotho) ‘n kerklike pos gekry het, het hy vereis dat die woonplek volgens sy voorskrifte verbeter word (p 146, 160, 269). Op Fort Hare is ‘n huis spesiaal vir die Tutus gebou (p 104). Tydens die rukkie wat hy in Lesotho was, is ‘n viertrekvoertuig vir hom aangekoop (p 235). In Johannesburg het hy die gebruik van die amptelike biskopswoning gehad, asook ‘n huis in Orlando-Wes (p 222), wat hy danksy ‘n twyfelagtige kerklike lening ter waarde van R14 000 gekoop het (p 169, 194).

Tutu wou nie sy kinders aan Bantoe-onderwys blootstel nie. Hulle het skole en universiteite in buurlande (Swaziland, Botswana) en in Engeland en Amerika bygewoon (p 105, 146, 170, 222, 232, 272). Tutu vlieg graag eersteklas (p 232) en het die Atlantiese Oseaan in die peperduur Concorde oorgesteek (p 212). Hy was die voorsitter van die Waarheids- en versoeningskommissie (WVK). Daar is geen onkoste ontsien nie. Meer as 300 persone is in diens geneem (p 346). Die buitensporige vergoeding wat hom as voorsitter toegeval het, het hom in staat gestel om sedertdien blykbaar sonder verdere persoonlike finansiële probleme sy weelderige lewenstyl vol te hou. Hy het ‘n huis in Milnerton gekoop en dié in Orlando-Wes verbeter (p 371). Vandat hy as jeugdige vir studie na Engeland vertrek het, kan hy ongetwyfeld as ‘n bevoordeelde beskou word, danksy die rojale finansiële ondersteuning van hoofsaaklik wittes. Maar Tutu “railed against those who lived in privilege” (p 135).

Die populêre beeld wat van Tutu geskep word, is dié van ‘n vredemaker of versoener. Tydens die sogenaamde bevrydingstryd het hy beweer dat hy teen geweld gekant is, maar in werklikheid het hy geweld aangestook en nie veroordeel nie. “When people pick up arms … I would not condemn them” (p 212). “Do not abandon us even when, perhaps particularly when, [the] struggle for various reasons becomes violent” (p 174). “Unlike Mahatma Gandhi and Martin Luther King, Jr, he did not on principle reject the use of force under all circumstances” (p 184).

Nêrens word melding gemaak van ‘n enkele siel wat hy religieus bekeer het nie. Sy bevrydingsteologie word gemotiveer deur politiek. Tutu het bv aangekondig “his primary objective as archbishop, overriding all others, was the fight against apartheid … liberation would be the major priority on the church agenda” (p 281). Ten spyte van besware het hy as voorsitter van die WVK daarop aangedring om sy kerklike purper rok en ‘n kruis om sy nek te dra (p 351). Hoewel hy donkiejare gelede en daarby net enkele jare ‘n aartsbiskop was, wil hy steeds so genoem en aangespreek word. Ongelukkig het mense in sowel die ou as die nuwe Suid-Afrika en wêreldwyd hulle deur die orator Tutu laat mislei; onder andere weens hulle religieuse geloof. Tutu gee voor en wil die indruk wek dat hy die buikspreker van God is.

Plaaslik was Tutu se hoofbydrae tot die sogenaamde bevrydingstryd die aanstoking van onrus, insluitende geweld. In die buiteland was sy hoofoogmerk om sanksies teen die sogenaamde apartheidsregime ingestel te kry. As staatshoofde soos Ronald Reagan, Margaret Thatcher en Helmut Kohl nie dadelik gedoen het wat hy wou hê nie, het hy hulle rassiste genoem en hulle en die Weste tot die hel verdoem (p 255, 257, 261, 265). Helen Suzman en Alan Paton het sterk met die sanksiedrywer Tutu verskil (p 203). Paton: “I do not understand how your Christian conscience allows you to advocate disinvestment” (p 214). Tutu het egter nie omgegee hoeveel skade hy Suid-Afrika aandoen nie. Hy is die land sekerlik meer skadevergoeding verskuldig as enige witte wat by apartheid gebaat het.

In die Rooms-Katolieke Kerk het aflaat ‘n groot rol gespeel. Teen betaling kon ‘n lid kwytskelding van straf, dus vergewing van sondes, kry. Selfs al sou wittes buitensporige bedrae aan sogenaamde regstellende belasting betaal, sal dit myns insiens nooit as genoeg aanvaar word nie en sal daar steeds met die veldtog teen wittes voortgegaan word. Daarteenoor pleit Tutu dat al die buitelandse skuld van Afrika-lande afgeskryf moet word (p 377).

As daar wittes is wat in so ‘n mate skuldig voel dat hulle nog meer as tans belas wil word, behoort hulle dit op ‘n vrywillige grondslag te doen. Daar is wittes vir wie dit prestigewaarde het om hulle bevoordeling te bely en om verskoning te vra. Maar Tutu weier om sy veel groter skuld te bely en verskoning te vra. Volgens hom was sy gedrag die voorbeeldige vervulling van sy profetiese roeping (p 180). Afhangende van die geleentheid, skuil hy alternatiewelik agter religie of politiek. In werklikheid is daar by hom geen onderskeid nie. Dit gaan om net een ding en dit is politiek.

Alles in ag genome kan Tutu se jongste oproep neerkom op haat vir wittes: “It will be extremely difficult to love the white man” (p 101). Hy is blykbaar besig met ‘n voortsetting van sy geesgenoot Trevor Huddleston se “virtues of hatred” (p 331). Jare gelede al is beweer dat Tutu “soundness of judgement” kortkom (p 73). Wat ek hom nie kan vergewe nie is die subtiele of slinkse manier waarop hy wenke vir misdadige optrede teen wittes aan sy mede-vryheidstryders gegee het: Tutu “raised the prospect of attacks on white South African schoolchildren and of black servants poisoning their employers’ morning coffee” (p 263). Myns insiens is dit Tutu wat ‘n selektiewe gewete of geheue het, maar hy beweer dat wittes teen sy voorgestelde regstellende belasting gekant is omdat hulle skuldige gewetes het.

One thought on “Tutu se aflaat vir wittes

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s