Malemaïsme die gevolg van swak leierskap

Die ANC se besluit om op te tree teen mnr. Julius Malema, dié party se jeugleier, is wyd verwelkom.

Malema doen al te lank net wat hy wil. Wanneer hy sê myne en banke moet gena­sionaliseer word, sidder buitelandse beleggers. Verklaar hy dat alle wit mense misdadigers is, verbrokkel die verhouding tussen wit en swart.
Dat Malema nou aan ’n tugverhoor onderwerp gaan word, is egter tekenend van ’n ánder dinamika in die ANC.

In sy uitspraak waarin hy die politieke bestel in Botswana bevraagteken het, het Malema homself reëlreg opgestel teen pres. Jacob Zuma. Daarby het Malema, die eens geswore vyand van oudpres. Thabo Mbeki, in dieselfde tyd sy verlange na “die goeie ou dae” onder Mbeki besing.

Die Botswana-uitspraak het Zuma blykbaar genoeg skietgoed gegee om op te tree teen die jong Turk. Tog was Zuma sáám met Malema op die verhoog toe dié gesê het alle wit mense is misdadigers. Zuma het toe niks gesê of gedoen nie. Daarin lê die ANC se leierskap-tameletjie.

Dit is juis deur sy afwesige leierskapstyl dat Zuma die ruimte geskep het waarin Malema die “koning van die armes” kon word. Malema se populistiese idees – hoe onprakties en verspot ook al – het ’n teelaarde gevind by ’n groot groep mense wat oor die jare heen gewoond was aan sterk leierskap uit ANC-geledere.

As niemand lei nie, sal mense selfs die swakste leier volg. Die ANC se onvermoë om sosiaal-maatskaplike probleme in die land op te los het ’n werklose, arm en gefrustreerde segment in die ANC-kieserskorps geskep. Dit is húlle wat niks hoor van Zuma nie en daarom graag luister na Malema. Deur Malema te tug en hom selfs uit die ANC te skors kan Zuma dié interne opstootjie wen.

Ongelukkig het die ANC en Zuma reeds toegelaat dat ’n politieke kultuur geskep word waarin dit aanvaarbaar is om rassistiese uitsprake te lewer en die land se ekonomiese groei te ondermyn.

Die party moes vroeër teen Malema opgetree het. Omdat dit nie gedoen is nie, is die omstandighede reg vir ’n volgende Malema om na vore te tree.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s