Die uitwerking van Regstellende Aksiewetgewing op Afrikaners

Afrikaners ondergaan nie net ‘n georkestreerde aftakeling van hul kultuur nie, maar is ook die slagoffers van ekonomiese ontmagtiging wat deur allerlei diskriminerende wetgewing in die RSA veroorsaak word. Regstellende Aksie-wetgewing is waarskynlik die grootste enkele oorsaak van hierdie ekonomiese ontmagtigingsproses. So lank terug soos in Februarie 2009 vra Scott Johnson die vraag in News Week: Hoekom verlaat van die beste en briljantste werkers Suid-Afrika 14 jaar nadat apartheid beëindig is?1 Die Suid-Afrikaanse Insitituut vir Rasseverhoudinge bereken dat ten minste 800 000 witmense Suid-Afrika sedert 2005 verlaat het.2

Dit is die Reuters-fotograaf Finbarr O’Reilly wat die uitwerking van regstellende aksie op blanke armoede in SA onder die wêreld se aandag gebring het. Volgens die fotograaf leef nagenoeg 450 000 witmense uit ’n totale wit bevolking van 4,5 miljoen onder die armoedevlak.3 Hierdie syfer is waarskynlik nader aan 600 000. Dit is nie polities korrek in Suid-Afrika om die aangeleentheid van wit armoede op te haal nie en dit is nog minder aanvaarbaar om kritiek uit te spreek teen regstellende aksie. Die realiteit is egter dat armoede onder witmense, vernaamlik onder Afrikaners ‘n stygende tendens toon en dat die effek van omgekeerde diskriminasie nie meer weggeredeneer kan word nie.

Regstellende aksie is nie net ‘n politieke onderwerp nie; die etiese en morele impak daarvan moet ook ondersoek word. Die vraag moet dringend gevra word of ‘n stelsel van omgekeerde diskriminasie, waar ‘n groep mense uit die formele werksektor uitgedwing word en gevolglik ekonomiese ellende in die gesig staar, op morele gronde aanvaarbaar is. Regstellende aksie bevoordeel hoofsaaklik die swart elite; dit slaag nie daarin om ‘n ware middelklas te vestig nie en dit institusionaliseer die ongelyke hantering van verskillende rasse in die werkplek.

Die wortels van regstellende aksie kan gevind word in die “Civil Rights Movement” van die VSA in die 1960’s. Crosby4 definieer regstellende aksie as vrywillige en verpligte aksies deur die regering, privaat werkgewers en opvoedkundige instellings om diskriminasie aan te pak en om gelyke geleenthede vir almal te waarborg. Die verskil tussen gelyke geleenthede en regstellende aksie verdien ook aandag. Gelyke geleenthede beteken ‘n stelsel waar elke individu geregtig is op gelyke behandeling in die werkplek. Gelyke geleenthede is ‘n passiewe strategie waar gelyke geleenthede vir almal gewaarborg word. Regstellende aksie daarenteen word ook positiewe regstellende aksie genoem waar dit doelgerigte stappe insluit om die ras- en geslagsamestelling binne ‘n organisasie te verander. Dit is ‘n soort sosiale ingenieurswese. Robert Grice dui twee probleme aan ten opsigte van regstellende aksie, naamlik:

Met die implementering van hierdie strategieë word daar uiteindelik gebruik gemaak van kwotas. Dit beteken dat ‘n individu slegs bevoordeel word omdat hy/sy deel van ‘n sekere rassegroep is en nie omdat hy voorheen benadeel is nie.

Die vereistes waaraan sekere rassegroepe moet voldoen om ‘n sekere voordeel te ontvang word verslap, wat deur baie gesien word as omgekeerde diskriminasie.

Die onlangse saak van Renate Barnard in die Arbeidshof dui op die omvang van omgekeerde diskriminasie in Suid-Afrika. Renate Barnard en haar vakbond, Solidariteit, het die SAPD na die Arbeidshof geneem omdat sy twee keer nie bevorder is nie slegs omdat sy wit is. Die beoordelingskomitee het haar beide kere aanbeveel as die suksesvolle kandidaat, aangesien sy die hoogste punte toegeken is in die onderhoud. Die SAPD het in beide gevalle besluit om eerder die poste vakant te hou as om ‘n wit vrou te bevorder wat nie die organisasie se rasse- verteenwoordiging gaan verbeter nie. Volgens John Grogan, een van Suid-Afrika se top Arbeidsregkenners wat Barnard verteenwoordig het, is hierdie ’n geval van omgekeerde diskriminasie omdat sy uitsluitlik op grond van ras nie bevorder is nie, sonder om enige ander faktore wat ook ‘n rol speel in ag te neem.5

Karen de Hauwere6 van die Departement Kulturele Antropologie en Ontwikkeling- studies van die Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland het reeds in 2007 navorsing gedoen oor die toekomsverwagting van jong wit volwassenes in Suid- Afrika. Sy het ook aandag gegee aan hulle sekuriteit-hanteringsmeganismes as teenvoeter vir armoede. Die navorsing dui daarop dat jong wit volwassenes baie onseker voel oor hul toekoms. Jong wit volwassenes is uiters kwesbaar in die ekonomiese, sosiale en politieke domein as gevolg van ANC-beleid en -wetgewing. Die navorsing dui daarop dat regstellende aksie ‘n tweeledige invloed het op jong wit volwassenes, naamlik beperkte werkgeleenthede wat studiebeurse insluit en tweedens, aangesien hul ouers en ander familielede ook deur regstellende aksie geraak word, is die familie minder daartoe in staat om jong volwassenes finansieel te ondersteun. Die negatiewe impak op gesinsgeluk as ‘n familielid werkloos raak weens regstellende aksie-maatreëls word duidelik in die navorsing uitgelig.

Op ‘n mikrovlak is regstellende aksie verantwoordelik vir die onsekerhede van jong wit volwassenes en op ‘n makrovlak is daar aanduidings dat die dalende vlakke van dienslewering van plaaslike owerhede en die stygende misdaadsyfers ook ‘n invloed het. Die dalende vlakke van dienslewering van plaaslike owerhede en die stygende vlak van misdaad het tot gevolg dat die wit jongmense na duurder woonbuurtes moet trek en gebruik moet maak van privaat gesondheidsorg. Dit spreek vanself dat alle wit burgers in ‘n bose kringloop ingetrek word as hulle nie toegang het tot basiese dienste, veiligheid en sekuriteit nie en dit ook nie privaat kan finansier nie omdat regstellende aksie toegang tot werksgeleenthede beperk. Op ‘n makrovlak word gerapporteer dat jong wit volwassenes, en dit geld waarskynlik vir alle wit Suid- Afrikaners, hulleself as gevolg van regstellende aksie beskou as tweedeklas burgers. Jong volwassenes is van mening dat hulle nie tuis voel of werklik deel kan wees van ‘n gemeenskap waar daar teen hulle gediskrimineer word op die basis van ras nie.

De Hauwere7 huldig die opinie dat die geestelike welsyn van behoeftige mense net so belangrik is as om slegs na hul fisiese behoeftes om te sien. Die geestelike welsyn van behoeftige wit mense sal net verbeter as hulle weer toegang verkry tot werkgeleenthede. Regstellende aksie vergroot die waarskynlikheid dat wit mense in armoede kan verval. Die navorsing dui ook daarop dat die ANC-regering nie funksioneer as ‘n vangnet vir behoeftige wit mense nie. Aangesien die behoeftige wit mense weinig hulp ontvang van die Staat se kant af, kan daar hoofsaaklik op hul familie en in mindere mate op hul sosiale netwerke en kerke vertrou word vir ondersteuning. Die realiteit is dat familie nie die rol van die staat kan vervul as dit kom by die aanspreek van wyer maatskaplike probleme nie. Die maatskaplike probleme sluit in: huishoudelike geweld, alkoholisme, dwelmmisbruik, swak opleiding en ‘n armoedespiraal. Die korrekte opleiding van jongmense is ‘n suksesvolle teenvoeter vir armoede. Regstellende aksie het ook ‘n negatiewe invloed op die toeganklikheid van opleiding vir wit jong volwassenes, eerstens omdat hul ouers hulle nie finansieel kan ondersteun nie, en tweedens omdat hulle uitgesluit word van studiebeurse.

De Hauwere maak dus die gevolgtrekking dat die ANC se beheptheid met rassekwotas die rede is vir wit armoede. Professor Alan Goldman van die Universiteit van Miami8 kom in sy navorsing in die VSA ook tot die gevolgtrekking dat geen sosiale sisteem, wat die gevolg het dat ‘n groep (in Suid-Afrika ‘n wit minderheidsgroep) onderwerp word aan ‘n “enforced circle” van armoede, billik kan wees of geregverdig kan word in die naam van vryheid nie. Tydens pres. Jacob Zuma se besoek aan ‘n Afrikaner-informele nedersetting in Maart 2010 is die stelling deur Dirk Hermann van Solidariteit-beweging gemaak dat regstellende aksie-wetgewing teen wit jongmense diskrimineer op grond van ras en dat daar geen morele gronde bestaan om ‘n spesifieke groep uit te sluit van ekonomiese opheffing nie.9

Regstellende aksie beteken dat Afrikaners gemarginaliseer word in Suid-Afrika en die realiteit is dat Afrikaners die gevaar loop van algehele uitwissing deurdat hulle uitgesluit word van ekonomiese bemagtiging.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s