Die bevryding van die konsep van eksterne selfbeskikking vir Afrikaners

Die strewe na selfbeskikking deur volke en groepe word in toenemende mate deur die internasionale gemeenskap gesien as ‘n reg wat alle volke toekom wat as minderheidsgroepe binne eenheidstate leef. Hierdie reg van volke of groepe om oor hulleself te regeer word lankal nie meer gesien as ‘n konserwatiewe ideologie nie, en neem selfs die status aan van ’n nuwe bevrydingsideologie. Die reg op selfbeskikking van volke het in die internasionale reg ‘n erga omnes-karakter ontwikkel wat daarop neerkom dat dit ‘n onvervreembare reg is. Waar minderhede in multikulturele samelewings nie selfbeskikking binne die eenheidstaat gegun word nie, word hulle aanspraak op eksterne selfbeskikking in soewereine staatsverband steeds wyer erken in die internasionale reg.

Enige neiging om te probeer terugkeer na die verlede gaan pogings tot die verkryging van Afrikaner-selfbeskikking kortwiek omdat die meerderheid Afrikaners hulself nie daarmee wil assosieer nie. Diskriminasie op grond van geloof, ras of geslag druis teen alle begrippe van basiese menseregte in, soos wat ook bepaal word deur die VN se Handves vir Menseregte. Duisende Afrikaners het hulleself lankal van hierdie konserwatiewe juk bevry, maar streef steeds na ‘n Afrikanerstaat waar hulle hul eiesoortige kultuur en waardestelsels sal kan uitleef sonder dat hulle noodwendig deur ‘n staat of grondwet op diskriminerende wyse voorgeskryf word oor hoe om dit te doen. Dit is daarom belangrik om die konsepte van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit te bevry van die retoriek en simbole van die verlede, sodat hierdie konsepte veel meer inklusief kan wees en sodat die meerderheid Afrikaners hulle daarmee kan vereenselwig. Deur die gedagte van Afrikaner-selfbeskikking met territoriale soewereiniteit as haalbare konsepte vir oorlewing oop te gooi vir alle Afrikaners, ongeag individuele voorkeure of godsdienstige en morele oortuigings, kan die meerderheid Afrikaners eensgesind streef na ‘n Afrikanerstaat waarin Afrikaners weer oor hul eie lot kan besluit en waar hulle nie uitgelewer is aan ‘n eenheidstaat waarin die oorgrote meerderheid Afrikane se kultuur en waardestelsels in aard en omvang diepliggend verskil van Afrikaners s’n nie.

Enige poging deur regse politieke groeperinge om die gedagte van ‘n onafhanklike Afrikanerstaat vir hulleself op te eis en die proses daarvan te beperk tot ‘n regse of verregse poging vir die verkryging van Afrikaner-selfbeskikking sal uiteindelik nie volhoubaar wees nie. Die toekoms van enige volk lê immers by die jeug, en die oorgrote meerderheid van Afrikaner-jongmense wat nie herinner wil word aan die apartheidsverlede nie het in vele opsigte totaal vervreemd geraak van regse en veral verregse Afrikaner-politiek. Kuberkommunikasie en globalisering plaas moderne Afrikaners in ‘n nuwe dimensie waarin hulle blootstelling aan die internasionale wêreld dikwels lei tot eietydse insigte en vervreemding van konserwatiewe waardes. Sommige jong Afrikaners wat ontnugter is oor hul situasie binne die huidige RSA-konteks verkwalik boonop dikwels ouer en konserwatiewer generasies vir die dilemma waarin hulle hulself tans bevind, terwyl hulle nie deel van die apartheidsverlede gevorm het nie.

Duisende Afrikaners bevind hulleself in die buiteland as gevolg van die onhoudbare situasie vir Afrikaners as minderheidsgroep in die RSA. Groot getalle van hierdie ontnugterdes is bereid om terug te keer na Suid-Afrika, mits dit onder ‘n simpatieke regering kan plaasvind en mits daar vir hulle werksgeleenthede is. Die huidige RSA-regering se volharding wat betref regstellende aksie en soortgelyke beleidsrigtings wat Afrikaners vervreem van hul eie land, bied geen toekomssekerheid vir Afrikaners nie. Afrikaners in die buiteland se blootstelling aan die internasionale wêreld veroorsaak dat die meerderheid van hulle ook nie hunker na ‘n regse of verregse Afrikanerstaat nie. Ten spyte van groot getalle Afrikaners wat reeds die land verlaat het om hul kundigheid elders in die wêreld te gaan aanwend, gaan die huidige RSA-regering voort om spesifiek Afrikanerboere op verskeie fronte te vervreem waarvan die dreigende veranderinge in arbeids- en verblyfregwetgewing vir swart plaaswerkers die ergste vorm van aantasting van boere se reg op privaat grondbesit tot op hede is.

Afrikaners wat vasklou aan patriargale besluitnemingstrukture waarin vroue en jongmense se rol ondergeskik geag word en wat diskrimineer op grond van geslag, kerkverband, ouderdom of seksuele oriëntasie vorm nie meer ‘n meerderheid in Afrikanergeledere nie. Terselfdertyd bied ook eietydse denke helaas nie oplossings vir die diskriminasie waaraan Afrikaners daagliks op grondvlak in die RSA blootgestel word nie. Die aard en omvang van diversiteit onder Afrikaners verskil weinig van dié van ander Westerse volke, maar net soos by hierdie volke beteken dit nie dat daar nie steeds ‘n minimum eenderse geladenheid onder Afrikaners bestaan wat hulle duidelik identifiseerbaar maak as ‘n volk nie. Individue se verskillende persoonlike beginsels en morele oortuigings is onder alle Westerse volke wyduiteenlopend, maar daar is altyd ‘n meerderheid van mense binne hierdie volke wat dieselfde taal praat, ekonomiese stelsel ondersteun, basiese morele oortuigings het, politieke stelsels in stand hou, bepaalde kulturele gebruike handhaaf, spesifieke voorkeure het vir sport, musiek, kuns en vermaak en wat dieselfde sosiale gewoontes uitleef. Onderlinge politieke verskille tussen Afrikaners as relatief homogene groep sal veel beter geakkommodeer kan word in ‘n veelpartypolitieke demokrasie binne ’n soewereine Afrikanerstaat as wat tans die geval is waar Afrikaners ‘n klein minderheidsgroep vorm teenoor ‘n groot meerderheid van Afrikane binne die RSA-eenheidstaat.

Die konsepte van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit vir Afrikaners sit ook vasgevang in verkeerde persepsies wat deur die ANC, die media en Afrikaners self geskep en aangewakker word. Die gevolg hiervan is dat Afrikaners in toenemende mate begin glo dat hulle geen keuse het as om aan ‘n multikulturele samelewing te behoort waarbinne hul eiesoortige kultuur en waardestelsels as minderheidsgroep nie werklik bestaansreg gegun word nie. Hierdie persepsie word versterk deurdat die poging tot Afrikaner-selfbeskikking in Orania dikwels voorgehou word as die enigste haalbare opsie, terwyl dit egter deur die meerderheid Afrikaners as ‘n onaanvaarbare en onhaalbare opsie vir territoriale soewereiniteit beskou word. Hoe gouer die konsepte van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit vir Afrikaners bevry word van hierdie kokon waarin dit vasgevang sit, hoe gouer sal Afrikaners besef dat eksterne selfbeskikking in ‘n soewereine Afrikanerstaat wel prakties haalbaar en internasionaal aanvaarbaar is.

Die onenigheid wat daar onder Afrikaners in die algemeen bestaan oor die kwessie van selfbeskikking binne ‘n soewereine staat is alombekend. Hierdie onenigheid word veroorsaak deur verskeie redes waarvan onkunde of ‘n gebrek aan begrip vir Afrikaners se regsposisie binne die nasionale en internasionale reg maar net een voorbeeld is. Die paar mense wat hulle met hierdie saak besighou, huldig verskeie standpunte hieroor sonder dat daar werklik diepgaande navorsing gedoen word om al die nuutste regsverwikkelinge in hierdie verband te bepaal. Geen poging tot afskeiding van die RSA-eenheidstaat kan suksesvol wees as die proses nie bestuur en gemonitor word deur ‘n span regsgeleerdes en kundiges op alle tersaaklike terreine wat Afrikaner-selfbeskikking nastreef nie.

Die voortdurende struwelinge oor die kwessie van potensiële grondgebied vir territoriale soewereiniteit tussen Afrikaners onderling, hoofsaaklik in konserwatiewe kringe, veroorsaak geweldige onsekerheid en selfs apatie onder duisende Afrikaners. Tot dusver wou geen beweging die gewaagde stap neem nie om ‘n ekonomies haalbare grondgebied te identifiseer waar Afrikaners in aansienlike getalle reeds geslagte lank woon en werk. Die identifisering van so ‘n gebied wat dan gepropageer sou moes word as ‘n werkbare oplossing vir die grondgebiedkwessie stuit op teenstand onder Afrikaners, onder andere omdat hulle bang is vir vervreemding en weerstand onder daardie Afrikaners wat nie tans woonagtig is in die voorgestelde grondgebied nie. Die fokus word dan telkens verplaas na Orania en die woestynagtige en ylbevolkte Noord-Kaap, wat dan as virtuele heimat troos moet bied vir Afrikaners se vryheidstrewe. Die Orania-opsie word dan verhef tot die enigste haalbare opsie vir Afrikaner-selfbeskikking met die vroom hoop dat Afrikaners hulle in groot getalle daar sal gaan hervestig, terwyl dit selfs na twintig jaar se volgehoue pogings nie gebeur nie.

Die aard en omvang van die aftakeling van Afrikaners se kultuur en die aantasting van hul minderheidsregte deur die RSA-regering noop Afrikaners om eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit as oplossings en waarborge vir hul kulturele en fisiese voortbestaan te ondersoek. Dit is hierdie winde van verandering wat in Afrikaner-geledere begin waai wat daartoe gelei het dat OASE ontstaan het as ‘n debatsforum waaraan alle Afrikaners kan deelneem, ongeag hul persoonlike en morele oortuigings. Die liberalisering of bevryding van eksterne selfbeskikking en territoriale soewereiniteit as haalbare konsepte vir Afrikaners verg vindingrykheid en daadkragtige optrede wat Afrikaners weer hoop sal gee op die toekoms. Die hoop word gekoester dat hierdie debatsforum daartoe sal lei dat Afrikaners in groot getalle betrokke sal raak by die ondersoekingsproses of ekspidisie wat uiteindelik sal uitloop op ons volk se vryheid in ‘n soewereine Afrikanerstaat.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s