Die aftakeling van Afrikanerkultuur sedert 1994

Sedert 1994 is Afrikaners se onvervreembare reg op selfbeskikking drasties ingeperk en hul basiese menseregte skreiend aangetas. OASE se navorsing van die afgelope sewe maande het die onderstaande feite aan die lig gebring. Alhoewel ons navorsing nie afgehandel is nie, het ons besluit dat dit nou tyd geword het om sekere van ons bevindinge te publiseer. Hierdie navorsing is deeglik en met die hulp van professionele mense gedoen waarvan die oorspronklike dokumentasie en bewyse bewaar word ter wille van ‘n toekomstige regsaak wat Afrikaners dalk in die Internasionale Geregshof in Den Haag sal moet voer ter verkryging van eksterne selfbeskikking op basis van territoriale soewereiniteit.

1. Plaaslike owerheidsvlak

1.1 Afrikaans as een van die elf amptelike landstale word lankal nie meer gebruik in munisipale kantore en ander owerheidsinstellings nie. As gevolg van regstellende aksie is Afrikaans ook besig om te verdwyn in die privaat sektor en is daar dikwels niemand in banke en soortgelyke instellings wat Afrikaans kan of wil praat nie.

1.2 Afrikaners se monumente, museums en ander kultuurerfenisse word nie meer deur plaaslike owerhede onderhou nie. In sommige gevalle vind daar selfs provokasie plaas deurdat ANC-monumente en gedenktekens bo-op Afrikanerhelde se gedenkpleine, waar Afrikanerhelde begrawe is geplaas word. Arikanermonumente word vernietig deur die ANC plaaslike owerheid; dorps- en stadspleine met Afrikanermonumente word oorstroom deur Afrikane waar Afrika-kultuurfeeste gehou word met gepaardgaande vervuiling en drankmisbruik, en openbare parke van dorpe en stede waar Afrikaners voorheen selfbeskikking geniet het, is as gevolg van misdaad en vandalisme ontoeganklik vir Afrikaners. In baie gevalle is waardevolle historiese artefakte van Afrikaners uit museums verwyder en lê dit iewers en stof vergaar indien dit nie reeds vernietig is of verlore gegaan het nie.

1.3 In baie lande oor die wêreld en vóór 1994 in die RSA is begraafplase gekenmerk deur skeiding tussen grafte van mense van verskillende nasionaliteite (byvoorbeeld Afrikaners en Engelse) en geloofsoortuigings (byvoorbeeld Katolieke, Jode, Moslems). Sedert 1994 word hierdie gebruik doelbewus deur plaaslike owerhede geïgnoreer. Ook word munisipale begraafplase, veral in plattelandse gebiede, nie meer onderhou en beveilig nie en word dit gekenmerk deur ernstige vandalisme. Sommige begraafplase het so onveilig geword dat Afrikaners nie meer die grafte van hul geliefdes kan besoek nie. In baie gevalle is omheinings van munisipale begraafplase gesteel, verwyder en/of sodanig beskadig dat dit geen doel meer dien nie. Sedert 1994 laat ANC-beheerdemunisipaliteite toe dat vee op groot skaal onwettig aangehou word deur Afrikane op munisipale grond en sulke rondlopervee beskadig nie net munisipale eiendom nie maar ook in baie gevalle Afrikanergrafte en privaat eiendom. Hierteenoor word Afrikane se tradisionele begraafplase by sogenaamde voormalige swart woonbuurte teen geweldige koste omhein en word dit nie blootgestel aan dieselfde risiko’s soos hierbo uiteengesit nie. Afrikaners het tot in 1994 nie eintlik die gebruik van verassing as deel van hul begrafniskultuur geken nie, maar wel teraardebestelling soos in baie ander Christen-gemeenskappe dwarsoor die wêreld. Bogenoemde verwikkelinge het veroorsaak dat Afrikaners met geen keuse gelaat word as om hul afgestorwe geliefdes te
veras nie en om dan van die as op ander wyses ontslae te raak as om dit in plaaslike begraafplase te gaan begrawe of in te messel in ’n gedenkmuur. Grafversierings soos marmerblompotte en metaalhouers word van grafte gesteel. Toegemesselde kissies met oorledenes se as word oopgebreek en uit die nisse van gedenkmure gesteel. Daar is selfs aangemelde gevalle waar vars grafte weer
oopgegrawe is om die kiste te steel.

1.4 Natuurlike waterbronne in munisipale gebiede het sedert 1994 sodanig besoedel geraak deur rommelstrooiing en menslike riool dat dit nie meer bruikbaar is vir mens of dier nie. Munisipale afvalterreine word nie behoorlik bestuur nie en rioolaanlegte het in baie gevalle so agteruitgegaan dat dit miljoene rande sal kos om dit weer te laat herstel.

1.5 Strate en sypaadjies in munisipale gebied wat in puik staat van onderhoud was vóór 1994, het sodanig verval dat dit reeds die oorsaak van verskeie beserings en padongelukke was. Selfs gevalle waar jong kinders in rioolputte en in stormwatergate beland is al aangemeld. Dit sal miljoene rande kos om weer herstel te word.

1.6 Geboue waar basiese en/of openbare dienste verskaf word, het sienderoë agteruit gegaan sedert 1994 en in die meeste gevalle ook die vlak van dienslewering, soos byvoorbeeld in biblioteke, munisipale kantore, poskantore en museums. Die meeste dorps- en stadsparke asook openbare toilette het ontoeganklik geraak vir Afrikaners, selfs in tradisionele Afrikanerwoonbuurte as gevolg van
misdaad, vandalisme en swak of hoegenaamd geen onderhoud van sulke parke nie.

1.7 Munisipale nooddienste soos ambulans- en brandweerdienste het in sommige plattelandse gemeenskappe tot niet gegaan; waar dit wel funksioneer, geskied dit lankal nie meer op dieselfde standaard as wat vóór 1994 die geval was nie en hoegenaamd nie doeltreffend nie. Afrikanerboere word jaarliks blootgestel aan ernstige veldbrande en op die hoëveldse grasvlaktes veral gedurende die wintermaande, en kan selde indien ooit staat maak op brandweerhulp van plaaslike munisipaliteite. Sedert 1994 het veld- en bosbrande geweldig toegeneem en daar bestaan geen twyfel dat dit alles deel van ‘n georkestreerde poging is om Afrikanerboere van hul grond af te dryf nie. Antropoloë erken dat daar ‘n duidelike terugkeer na tradisionele waardes onder die meerderheid Afrikane in Suid-Afrika is en die toename in jaarlikse inisiasieskole (veldskole) en deelname hieraan getuig ook hiervan. Deelnemers aan hierdie veldskole is dikwels brandstigters en veediewe wat Afrikanerboere teister, maar die SAPD tree selde teen sulke ooortreders op laat staan nog om hulle te vervolg vir sulke misdade.

1.8 Die vlakke van wanadministrasie en korrupsie in plaaslike owerhede is so erg dat die sentrale regering in sommige gevalle sekere munisipaliteite onder administrasie moes plaas. Baie munisipaliteite staar bankrotskap in die gesig.

2. Provinsiale owerheidsvlak

2.1 Die standaard van onderrig in staatskole het drasties versleg sedert 1994. Afrikaanse enkelmedium skole het waar dit nagenoeg 1600 in 1993 was, verminder na 640 in 2009 en hierdie tendens word voortgesit as gevolg van Afrikane wat Afrikaners se skole oorstroom en dan aandring op Engels as onderrigmedium asook die regering se beleid dat Engels as voertaal gebruik moet word waar die hoeveelheid kinders in sulke skole dit vereis. Van die vier universiteite wat vóór 1994 bestaan het waar Afrikaans die enigste voertaal was, is daar nie een oor waar Afrikaans eksklusief as onderrigtaal behoue gebly het nie. Dieselfde geld vir technikons en tegniese kolleges waar Afrikaans voorheen as voertaal gebruik is. Daar word openlik teen Afrikaners gediskrimineer wat betref toelating tot universiteite en die verkryging van studiebeurse,veral in rigtings soos mediese studie waar daar ‘n keuring van voornemende studente plaasvind.

2.2 Die standaard van mediese versorging in provinsiale en staatshospitale en sielsieke-inrigtings het geweldig verswak sedert 1994. Babasterftes in RSA-hospitale is van die hoogste in die wêreld en word hoofsaaklik aan infeksies toegeskryf.

2.3 Die paaie- en goederetreinnetwerk en gehalte daarvan in 1994 was gelykwaardig aan verskeie ontwikkelde lande elders in die wêreld. Sedert 1994 het hierdie infrastruktuur geweldig agteruitgegaan en is die toestand van paaie in baie provinsies lewensgevaarlik. Verskeie treindienste is opgeskort en vervoer van vee en goedere per trein het so riskant geword as gevolg van die hoë vlakke van misdaad dat dit in baie gevalle glad nie meer funksioneer nie. Veral Afrikanerboere word baie erg benadeel as gevolg van die swak toestand van paaie en goederetreindienste.

2.4 Provinsiale veediefstaleenhede van die SAPD funksioneer hoegenaamd nie doeltreffend nie, met die gevolg dat die voorkoms van veediefstal sedert 1994 die hoogte ingeskiet het. Verskeie skutfasiliteite het ná 1994 tot niet gegaan met die gevolg dat rondlopervee nie meer geskut kan word nie. Duisende stuks vee wat deur Afrikane in munisipale gebied aangehou word,
veroorsaak ernstige probleme op plase van Afrikanerboere in dieselfde omgewing en weinig word hieromtrent deur die staat gedoen. Die meeste van hierdie vee word nie kragtens wetgewing gebrandmerk nie en swak bestuur deur die eienaars veroorsaak groot risiko’s in die vorm van veesiektes vir nabygeleë klein en kommersiële boere waarvan Afrikanerboere steeds die meerderheid vorm. Onwettige jag met honde deur Afrikane vanuit dieselfde munisipale gebiede op plase veroorsaak net sulke groot probleme vir Afrikanerboere, en die SAPD tree ook nie op in sulke gevalle nie.

2.5 Die vlakke van wanadminstrasie en korrupsie op provinsiale owerheidsvlak is buitensporig hoog en die bestryding daarvan laat veel te wense oor.

2.6 Dit is opmerklik hoedat spesifiek Afrikanerdorpe en -stede se name reeds deur die ANC-regering verander is sedert 1994 en steeds besig is om te verander. Dieselfde geld nie vir Engelse plekname nie.

3. Sentrale regeringsvlak

3.1 Die RSA-polisie se onvermoë en dikwels onwilligheid om misdaad te voorkom en/of te ondersoek, het sedert 1994 veroorsaak dat Suid-Afrika tans op een land na (Colombië) die hoogste moordsyfer in die wêreld het. Reeds meer as 3700 witmense, hoofsaaklik Afrikaners, is sedert 1994 op plase en landbouhoewes deur Afrikane vermoor. Baie boere het as gevolg van die misdaadsituasie hulle plase ontruim en sommige boere is reeds besig om so ver soos Georgië in Oos-Europa te gaan hervestig. Bogenoemde syfer sluit nie moorde op Afrikaners in stedelike gebiede in nie. Hierdie aanvalle op Afrikaners gaan dikwels gepaard met erge marteling en uiterste wreedheid. Die internasionale organisasie Genocide Watch het onlangs die moorde op Afrikanerboere opgegradeer na vlak 6 van 8 moontlike vlakke. Verskeie vertoë en protesaksies is al geloods, sowel in Suid-Afrika as oorsee, maar die situasie word steeds erger. Afrikaners is sedert 1994 in toenemende mate daagliks blootgestel aan ander vorms van ernstige misdaad soos verkragting, aanranding, huisbrake, gewapende rooftogte, bedrog en ongemagtigde betreding van privaat eiendom. Klagtes by die SAPD het dikwels geen resultate nie, en waar sulke klagtes in howe opeindig, is die vlak van korrupsie veral in landdroshowe van so ‘n aard dat skuldigbevindings en doeltreffende strawwe uiters selde opgelê word. Voorts is die ANC-regering besig om wetgewing by die
parlement in te dien wat Afrikanerboere se privaat regte ten opsigte van grondbesit drasties sal inperk deur verblyfregte van swart werkers op plase dusdanig uit te brei dat dit teen alle redelike definisies van privaat grondbesit indruis.

3.2 Ten spyte van bogenoemde feite verkondig die ANC-jeugleier Julius Malema openlik dat alle grond in die RSA slegs aan Afrikane toekom en dat hy sal voortgaan om as politieke aktivis hierdie doelwit te bereik deur middel van ‘n rewolusionêre stryd. Hiervoor het Malema in sy eie woorde gaan kers opsteek by Robert Mugabe van Zimbabwe waar grondvergrype tot die verdrywing van feitlik alle wit boere uit daardie land gelei het. Malema word nooit deur die ANC-bestuur gerepudieer nie. Terselfdertyd is Malema bekend vir sy haatspraak teen Afrikaners wanneer hy sing “skiet die Boer”. Hiervoor is ‘n hofbevel teen Malema uitgereik om die sing van sy haatspraakliedjie te staak, maar die ANC steun Malema finansieel en in terme van regshulp deur die saak na ‘n hoër hof te verwys het waar uitspraak afgewag word. In ‘n ander geval, waar Malema deur regter Halgryn skuldig bevind is aan haatspraak, het die ANC se skeretaris-generaal, Gwede Mantashe, dieselfde aand van die uitspraak dit in die openbaar duidelik gestel dat die ANC nie van sulke hofuitsprake hou nie en dat dit die rede is waarom hulle transformasie in die howe sal aanhou deurvoer. Vele ander Afrikane sing steeds sogenaamde “struggle songs” wat uiters rassisties is en wat teen Afrikaners gemik is, byvoorbeeld tydens Afrika-kultuurbyeenkomste, stakings en selfs tydens protesaksies wat teen die RSA-regering self gemik is, omdat grondhervorming nie na wense van die Afrika-massas verloop nie sonder dat daar hoegenaamd teen sulke mense deur die staat opgetree word. Dit is duidelik dat die ANC-regering alles in hul vermoë probeer doen om te sorg dat Afrikaners nie grondbesitters bly in groot dele van die RSA nie.

3.3 Die ANC-regering poog om geweldsmisdaad te beperk deur wetgewing op die besit van vuurwapens te verander, maar hierdie wetgewing het slegs tot resultaat dat wetsgehoorsame Afrikaners se reg om vuurwapens te besit ingeperk word terwyl misdadigers steeds met onwettige vuurwapens hul misdaad- en terreurveldtogte voortsit.

3.4 Honderdduisende Afrikaners het werkloos geraak as gevolg van die ANC-regering se beleid van regstellende aksie wat selfs 17 jaar na demokrasie steeds streng toegepas word en na verneem word selfs strenger toegepas gaan word in die toekoms. Nagenoeg 600 000 Afrikaners het grootliks as gevolg van hierdie ANC-beleid in armoede verval en baie van hierdie mense bly in haglike omstandighede in plakkerskampe rondom dorpe en stede. Honderdduisende Afrikaners het sedert 1994 die land verlaat, hoofsaaklik as gevolg van werksverslies, gebrek aan bevorderingsgeleenthede en die hoë vlakke van misdaad in die RSA.

3.5 Die howe in Suid-Afrika het sedert 1994 tot op die rand van ineenstorting gekom, veral in plattelandse gebiede waar korrupsie boonop hoogty vier. Hofdossiere verdwyn dikwels en Afrikaans loop die gevaar om binnekort nie meer as ‘n regstaal aanvaar te word nie. Waar daar in die laat tagtigerjare nog 46% van gerapporteerde hofuitsprake in Afrikaans gelewer is, is die persentasie tans minder as 1 persent. Terwyl daar steeds meer as 600 regstudente by ’n universiteit soos Unisa is wat Afrikaans as verpligte regsvak neem, word dit sonder enige konsultasie of respek vir Afrikaans as een van die elf amptelike landstale by hierdie universiteit as taalkursus afgeskaf.

3.6 Die ANC-regering het alle privaat mineraalregte genasionaliseer sonder om enige vergoeding aan privaat grondeienaars te betaal. Groot getalle Afrikanerboere is hierdeur geraak. Die voortdurende verandering aan verblyfregwetgewing vir Afrikane op Afrikanerboere se plase veroorsaak dat plaaseiendom se waarde drasties aangetas word. Die ANC-jeugleier Julius Malema dreig
openlik dat Afrikanerboere se plase op die Zimbabwe-styl genasionaliseer sal word indien die ANC-regering nie sorg dat al hierdie grond in besit van Afrikane kom nie. Meer as 85 persent van alle plase wat sedert 1994 as grondeise en ter wille van restitusiedoeleindes aan Afrikane oorgedra is en wat vóór 1994 hoofsaaklik aan Afrikanerboere behoort het, het egter totaal verval en is volgens die ANC-regering se eie uitsprake nie meer enigsins produktief nie.

3.7 Duisende Afrikane is deel van die sogenaamde informele sektor van die ekonomie en betaal gevolglik geen inkomstebelasting nie; sulke informele bedrywe is ook nie geregistreer vir BTW nie. Hierteenoor is bykans alle Afrikaners wat aan die ekonomie deel neem belastingpligtig en lewer hulle proporsioneel ‘n veel groter bydrae tot die staatskas as wat die swart meerder­heid doen. Besteding aan maatskaplike en sosiale toelaes is sedert 1994 geweldig uitgebrei om Afrika-werkloses en andere te bevoordeel. Daar word tans toelaes betaal aan meer as 15 miljoen armes terwyl die belastingbasis beperk bly tot ongeveer 3,6 miljoen inkomste­belastingbetalers. Die aanwending van belastinggeld deur die regering is duidelik diskrimi­nerend van aard onder die voorwendsel dat dit die onreg van die apartheidsverlede regstel, maar in die praktyk is weining hiervan sigbaar. Miljoene rande
verdwyn jaarliks op alle owerheidsvlakke uit die staatskas as gevolg van korrupsie en ernstige wanadministrasie. Sedert 1994 is wetgewing vir grondbelasting op plaaseiendom ingestel waarvoor Afrikanerboere geen dienste terugontvang nie.

3.8 Duisende Afrikane betaal nie vir elektrisiteitsverbruik nie en in baie gevalle word krag onwettig bekom of afgetap van hoofkragdrade; Afrikaners subsidieer gevolglik hierdie kragverbruik veral in plattelandse gebiede.

3.9 In 1994 het Afrikaners ‘n eie TV-kanaal op die staatsgesubsidieerde televisiediens (SAUK) geniet, terwyl Afrikaans tans net sekere en uiters beperkte tydsgleuwe geniet op die SABC. Nuus- en weerberigte word dikwels deur nie-moedertaalsprekers in Afrikaaans voorgelees en in baie gevalle word ondersteunende kommentaar slegs in Engels gelewer of in ‘n aanleerdersvariëtiet van Afrikaans waarvan die uitspraak dikwels foutief is en waar die sinsintonasie daarop dui dat die betrokke kommentator nie Afrikaans werklik magtig is nie.

3.10 Afrikanerboere is allerweë bekend vir hulle vermoë om suksesvol voedsel te produseer in Afrika. Die Afrikaner se ontstaansgeskiedenis is gewortel in die landbou en sy voorgeslagte het ook bekend gestaan as die Boerevolk. Hierdie kundigheid het oor generasies ontstaan en is van die een na die volgende generasie oorgedra in Afrikanergeledere. Sedert 1994 het die ANC-regering alle landbousubsidies afgeskaf wat hoofsaaklik kommersiële Afrikanerboere in die land benadeel het. Dit het onder andere daartoe gelei dat die melkbedryf byna tot stilstand gekom het en dat melkprodukte ingevoer moet word. As gevolg van die staking van landbousubsidies, veranderde arbeids- en veral verblyfregwetgewing vir Afrikane op Afrikanerplase en die ontsettend hoë misdaadvlakke waaraan veral Afrikanerboere sedert 1994 blootgestel is, is die RSA sedert 2010 vir die eerste keer in die republiek se bestaan ‘n netto-invoerder van voedsel.

3.11 Suid-Afrika se waterbronne word sedert 1994 op voorheen ongekende wyse besoedel as gevolg van swak beheer oor die toekenning van nuwe mynlisensies en myn- en nywerheids­bedrywighede in die algemeen, rommelstrooiing asook die algemene verval van dienste soos vullis­verwydering en rioolverwerking. Baie spruite, riviere en damme se water is nie meer geskik vir menslike of dierlike gebruik nie en in baie gevalle vrek visse, diere en voëls as gevolg van die ernstige agteruitgang in die ekologie.

3.12 Afrikaners se verknogtheid en deelname aan rugby as sportsoort vanaf laerskoolvlak is wêreldbekend. Hierteenoor is Afrikane groot aanhangers van sokker as sportsoort. Die RSA-regering se gedwonge integrasie deur middel van kwotastelsels in sport, veral in rugby uur nou reeds 6 jaar voort en dit lei tot ernstige spanning tussen die twee groepe.

Bogenoemde voorbeelde van die ernstige aantasting van Afrikaners se basiese menseregte is hoegenaamd nie ‘n volledige prentjie van die RSA-regering, wat uit die ANC, Cosatu en die SA Kommunisteparty bestaan se volgehoue en baie goed georkestreede pogings om Afrikaners se kulturele en fisiese bestaan in Afrika tot ‘n einde te bring nie. Burgerregteakises soos dit wat die Solidariteitbeweging ondersteun is prysenswaardig, maar bied geen langtermynoplossing nie. Dit kos Afrikaners jaarliks miljoene rande om hofaksies te voer om hul basiese menseregte te beskerm. Intussen stel mnr. Zuma dit baie duidelik dat die regbank in SA moet ophou om ANC-beleid te ondermyn, wat beteken dat Solidariteit-beweging nie ad infinitum sal kan aangaan om Afrikaners se geld suksesvol aan te wend deur middel van duur litigasieprosesse nie.

Bogenoemde stand van sake kan slegs teruggedraai word indien ‘n ekonomies volhoubare en omgewingsvriendelike grondgebied opgeëis word vir eksterne Afrikaner-selfbeskikking op die basis van territoriale soewereiniteit. So ‘n grondgebied moet gekies word in streke waarin Afrikaners reeds in groot getalle woon en wat in alle opsigte voldoen aan internasionale regsvereistes en -riglyne.

Enige poging om so ‘n staat in woestynagtige gebiede te probeer vestig, soos in Orania, of in gebiede waar daar nie reeds infrastruktuur en werksgeleenthede bestaan nie, sal nooit suksesvol wees nie. Afrikaners sal eerder in groot getalle die land verlaat soos wat reeds gebeur het en steeds gebeur as wat hulle soos die Jode ‘n onafhanklike staat van nuuts af in ‘n woestynlandskap sal gaan ontwikkel

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s