Antiblanke rassisme en ‘Durban III’

Donderdag, 18 Augustus 2011 16:48
Dan Roodt

Aanstaande maand vind daar weereens ‘n opvolgkonferensie in New York plaas ná die sogenaamde Wêreldkonferensie teen rassisme wat in 2001 in Durban gehou is. Vandaar dan ook die benaming van die New Yorkse konferensie teen rassisme wat as “Durban III” bekendstaan.

‘n Vorige opvolgkonferensie, “Durban II” is vanaf 20 tot 24 April 2009 in Genève gehou. Dit wil dus voorkom asof die opvolgkonferensies nou meer gereeld gaan plaasvind.

Gisteraand het adjunkpresident Kgalema Motlanthe tydens die Ruth First-gedenklesing aan die universiteit van die Witwatersrand verklaar dat korrupsie ‘n groot probleem in Suid-Afrika verteenwoodig, maar dat “rassisme” die nommer-eenprobleem is. Met ander woorde, groter nog as korrupsie, die endemiese geweld, riool in die strate en die riviere, gate in die paaie en verval van infrastruktuur, toring die gevaar van rassisme bo alle ander kwessies uit!

Die rassisme wat Motlanthe in gedagte het, is ook nie die soort etniese antipatie wat plaasmoordenaars daartoe dryf om hul slagoffers ure lank op allerlei sadistiese en gruwelike maniere te martel nie, maar rassistiese gevoelens wat blankes teenoor swartes sou koester. Eintlik gaan dit ook oor ‘n bedekte eis op blanke bates, want vanuit die perspektief van “rassisme” het geen blanke in dié land nog ooit gewerk vir wat hy bekom het nie, maar is sy besittings van swartes “afgeneem”.

Vir baie blankes doen die swart beheptheid met “rassisme” vreemd aan omdat hulle nie besef dat soveel maatskaplike en politieke kwessies deesdae na ras te herlei is nie. Vele van ons land se probleme kan regstreeks aan swart rasseoorheersing toegeskryf word. Nie net heers daar ‘n ongekende graad van maatskaplike wanorde en verval nie, maar die grypsug van die heersersklas is besig om Suid-Afrika finansieel en andersins te laat doodbloei. Onlangs het ek die bekende film oor Idi Amin, The last king of Scotland, bekyk en ‘n mens neem eintlik al die simptome van Oeganda onder Idi Amin in die huidige Suid-Afrika waar.

“Rassisme” het egter ‘n politieke slagkreet geword wat oor die aardbol weerklink. Dit beskik oor die potensiaal om die diverse groepe mense in die Derde Wêreld, tesame met China, Brasilië en ander teen die Weste en alle blankes te verenig. Karl Marx en Friedrich Engels se beroemde slagspreuk uit die Kommunistiese Manifes, “werkers van alle lande, verenig u!”, het in ons tyd geword: “Anti-rassiste van alle lande, verenig u teen die blankes!”

Ek en my vrou Karin was van die min Afrikaners en blankes wat die oorspronklike Durbanse konferensie teen rassisme bygewoon het. Uiteindelik het die konferensie baie min met antirassisme te make gehad en veel meer met die Palestynse en Arabiese veldtog teen Israel. Die woord “apartheid” wat Trevor Huddleston van die Anglikaanse Kerk en sy vriende by Britse koerante ‘n internasionale vloekwoord gemaak het, is ook op Israel van toepassing gemaak. Eers was daar net “Apartheid-Suid-Afrika”. Nou is daar ook: “Apartheid-Israel”.

Alles dui daarop dat die New Yorkse “Durban III” aanstaande maand insgelyks op ‘n anti-Israelveldtog sal uitloop. Daarom het die Westerse lande wat redelike noue bande met Israel handhaaf reeds die Verenigde Nasies in kennis gestel dat hulle nie die tweede opvolgkonferensie oor antirassisme gaan bywoon nie. Die Verenigde State, Kanada, Israel, die Tsjeggiese Republiek, Italië en Nederland boikot die konferensie.

Wat het hierdie lys lande met mekaar in gemeen, benewens goeie bande met Israel? Op die oog af, en benewens Kanada, is dit almal ook lande waar daar ‘n beduidende “regse” of konserwatiewe beweging bestaan, soos die Amerikaanse Tea Party, die Italiaanse Liga Nord en Nederlandse PVV. Dit wil dus voorkom asof hierdie konserwatiewe bewegings ook die hoofstroom- buitelandse beleid van lande begin beïnvloed. Logies sou ‘n mens ook kon verwag dat Afrikaners, wat aan die ontvangkant van antiblanke rassisme verkeer, by die publiek in daardie lande ‘n mate van simpatie sou geniet.

Omdat ons al keelvol vir die slagkreet van “rassisme” is, is ons geneig om dit te ontken of te wil ignoreer. Boonop word dit deur gure individue, joernaliste en organisasies misbruik om ander se regte en veral spraakvryheid te ondermyn. In die jongste uitgawe van die tydskrif American Renaissance verskyn ‘n artikel deur die briljante mnr. Jared Taylor waarin hy die skynheilige en haatdraende metodes van die Southern Law Poverty Centre (SPLC) in die VSA bespreek. Die Southern Law Poverty Centre maak groot geld uit die sogenaamde stryd teen rassisme en voer ‘n heksejag teen enigeen in Amerika wat kritiek teen antiblanke beleid soos regstellende aksie of oop grense uitspreek. Sulke mense en organisasies word deur die SPLC as “haters” geklassifiseer en by hul werkplekke en elders vervolg.

Dus het die stryd teen sogenaamde “rassisme” die aanskyn van ‘n godsdiensoorlog aangeneem. Diegene wat die skynheiligheid, teenstrydighede en onregverdigheid van antiblanke maatreëls insien en hul daaroor uitspreek, word as ketters beskou. Soos Jode in Nazi-Duitsland of dissidente in Stalin se Rusland word hulle met ostrasering en die skandpaal gedreig. Hier by ons voer dr. Leopold Scholtz en ander rubriekskrywers van Nasperskoerante soos Die Burger ‘n soortgelyke veldtog teen vryheidsgesinde Afrikaners wat nie langer met plaasmoorde, korrupsie, taaldiskriminasie en verval gediend is nie. Die stryders teen rassisme, ook hier by ons, verteenwoordig ‘n nuwe Spaanse Inkwisisie wat afvalliges wil uitsnuffel en bestraf.

Op geen manier gaan ons egter ontkom aan ‘n debat oor ras en rassisme nie, hoe onsmaaklik en riskant so iets dikwels mag wees. Wat tans in ons guns begin tel, is die dikwels gewelddadige en irrasionele gedrag van gekleurdes. Terwyl die gedrag van swartes in Suid-Afrika met hul halssnoermoorde, brandstigting en onluste jare lank oor die hoof gesien is omdat hulle kwansuis “slagoffers van apartheid” sou wees, ervaar die meeste Westerlinge vandag sulke gedrag aan eie bas.

Die onlangse onluste in hoofsaaklik swart buurte in Londen was in dié opsig vir ons ‘n godgegewe geskenk. Vir die eerste keer in baie jare is die verborge setels van blanke logika geprikkel deur die barbaarse gedrag van swart jeugdiges met enkele blanke meelopers. Selfs in polities korrekte Brittanje het die BBC begin om dissidente nuus en menings uit te saai. Op die program Newsnight het die historikus David Starkey die bewering gemaak dat “die blanke jeug in Brittanje swart geword het”, te oordeel aan hul gedrag. Hy het ook na die historiese dog omstrede “Rivers of blood”-toespraak deur die voormalige Konserwatiewe parlementslid Enoch Powell verwys en veral die gedagte dat “die swartman oor 15 of 20 jaar die oorhand (whip hand) oor die witman sal verkry”. [YouTube-video hier] Starkey se uitlatings het vir hewige kritiek vanaf die voormalige en erg linkse Arbeiderminister van buitelandse sake, David Miliband, gesorg. In die Guardian en elders is Starkey op stereotipe wyse as ‘n rassis uitgekryt. Maar vanaf die breë publiek in Brittanje het Starkey heelwat steun vir sy uitgesproke eerlikheid en besorgdheid oor die stand van rasseverhoudinge in sy land ontvang.

Meer onlangs het onluste in Göteborg, Swede, uitgebreek waar Moslemjeugdiges die Sweedse polisie aangeval en selfs hul oë met groen lasers bestook het wat tot oogskade kan lei. In Berlyn, Duitsland, is motors insgelyks aan die brand gesteek in voorvalle van openbare geweldpleging.

Dwarsdeur die Westerse wêreld, is dit asof die profetiese roman deur die Franse skrywer, Jean Raspail, Omsingel die laer van die heiliges bewaarheid word. In dié boek gaan Frankryk en die hele Westerse wêreld ten gronde omdat mense nie meer bereid is om hul beskawing en grondgebied teen ongewapende immigrante uit die derde wêreld te verdedig nie. Die boek is ook in die vroeë negentigerjare in Afrikaanse vertaling deur die Oranjewerkers uitgegee.

Daarom is ‘n mens dalk geneig om met adjunkpresident Kgalema Motlanthe saam te stem dat ras en rassisme die belangrikste politieke kwessies van ons tyd geword het. Vir die nie-blanke bied die diskoers en aanklag van rassisme die morele grondslag vir sy aanslag teen die Westerse beskawing en die oorblywende blanke magststrukture in Europa en die VSA. Terwyl blankes en Afrikaners in Suid-Afrika uiteraard slagoffers van antiblanke rassisme is, sukkel ons om ‘n samehangende reaksie daarteen te monster, juis vanweë ons onsekerheid en probleme met ons eie rasseidentiteit.

Vir swartes en kleurlinge is rassetrots en ‘n sterk rasseidentiteit byna verpligtend en iets wat skaamteloos uitgelewe word. Vir blankes egter word die geringste identifikasie met ander blankes of mense van hul eie kultuurgroep soos die Afrikaners as gruwelike “rassisme” gesien wat deur wetgewing of ander maatreëls verbied of bestry moet word.

Toenemend konvergeer die wêreld se probleme egter na een kwessie toe: ras en etnisiteit. In dié opsig was Afrikanerdenkers uit die verlede hul tyd vooruit omdat hulle reeds in die vyftiger- en sestigerjare ingesien het dat ras die spil gaan wees waarom alle toekomstige konflik gaan draai. Vandag ervaar ons en Westerlinge elders ter wêreld, ook die Iraeli’s, dit aan eie bas.

Miskien moet ons oorweeg om ‘n PRAAG-afvaardiging na “Durban III” te stuur om daar die saak teen antiblanke rassisme te gaan stel, iets waarvoor ons Westerse en Europese eweknieë, nog nie kans sien nie want hulle beskik nog oor politieke mag in hul eie lande en onderskat steeds die omvang van die probleem.

Soos die vorige ideologiese konflik tussen kommunisme en kapitalisme tydens die twintigste eeu, gaan die stryd rondom ras en tussen rasse die aard van die een-en-twintigste-eeuse politiek bepaal.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s