Volkstaat of volksrepubliek?

Geskryf deur Dan Roodt   

Dinsdag, 02 Augustus 2011 12:04

Hierdie is so ‘n mooi titel, ek voel amper nie opgewasse om iets daaroor te skryf nie. Dit som egter die dilemma van die Afrikaner in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika of NSA op. Óf ons moet aanhou om Suid-Afrika “te maak werk” soos party sê, óf ons moet onsself losmaak van hierdie bestel en ‘n sekere deel van die land vir onsself opeis.

Afrikaners weet dikwels nie veel van linkse denke en terminologie nie. Hulle is bekend met die term “volkstaat”, ons woord vir nasiestaat of ‘n staat met ‘n herkenbare nasionale identiteit soos die meeste Europese of Westerse state. “Volksrepubliek” (Eng. “people’s republic”, Frans “république populaire”) is ‘n begrip wat die regeringsvorm van kommunistiese of links-revolusionêre state tipeer. In die eertydse Oos-Europa was daar allerlei state wat hulself as “volksrepublieke” beskryf het. Tans bly daar nog oor die Volksrepubliek van China of die Volksrepubliek van (Noord-) Korea.

Hoewel Suid-Afrika in 1994 nie die naam “volksrepubliek” aangeneem het nie, neig ons al hoe meer in die rigting van ‘n totalitêre, kommunistiese staat waarin die owerheid grond of nywerhede nasionaliseer en bepaalde klasse of rasse uit die samelewing probeer weer. In die Marxistiese literatuur van Suid-Afrika is daar ‘n ou debat rondom ras en klas. Dekades lank het kommunistiese intellektuele, veral aan die land se Engelse universiteite, geargumenteer of alle swartes in Suid-Afrika tot die werkersklas behoort en of ‘n blanke werker ook tot daardie uitverkore status mag aspireer. Thabo Mbeki het insgelyks na ons land se “kolonialisme van ‘n spesiale tipe” verwys, wat insgelyks ‘n begrip uit die Marxistiese of kommunistiese literatuur is. Met die ANC-oorname het die neo-Marxistiese denke en ideologie ook aan die voorheen Afrikaanse universiteite getriomfeer, wat deur Kader Asmal met Engelstalige instellings saamgesmelt is om finaal hul Afrikaanse karakter te vernietig.

Persoonlik was ek nog altyd konsekent in my teenstand teen kommunisme, vanaf my studentedae toe die Marxistiese studente aan die Universiteit van die Witwatersrand my geostraseer het tot nou toe waar linkse Afrikanerjoernaliste wat hulself tot soortgelyke idees bekeer het my insgelyks as “openbare vyand nommer een” sien en afkraak.

Min mense twyfel seker nog daaraan dat Suid-Afrika besig is om stelselmatig deur grondhervorming en nasionalisering in ‘n kwasi-kommunistiese land verander te word. Deur die massamedia en aanhoudende propaganda is mense daaraan gewoond gemaak. Niemand vind dit meer snaaks om die hamer en sekel op televisie te sien of Blade Nzimande, die leier van die SA Kommunisteparty wat, soos ‘n dag of twee gelede, sy Kubaanse en Chinese kollegas op ‘n verhoog verwelkom nie.

Wat die toekoms ook al vir Suid-Afrika inhou en of ons soos Zimbabwe of Kuba ekonomies gaan misluk of soos China suksesvol gaan wees, ons sal verlief moet neem met die regeringsvorm en -styl van ‘n volksrepubliek waarin die invidu min vryheid het en grootliks deur die staat beheer word. Nog voor grondhervorming en nasionalisering op ‘n groot skaal deurgevoer is, is ons reeds onderworpe gemaak aan radikale regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en ander wetgewing waarvan die oogmerk is om ons en as ‘n klas en as ‘n ras te vernietig.

Dit ly geen twyfel dat mnr. Julius Malema, wat homself tydens ‘n onderhoud met Debra Patta van etv as ‘n “Marxis-Leninis” beskryf het, die volgende president van Suid-Afrika gaan word nie. Sy statuur in die media is reeds so goed gevestig en sy posisie in die ANC en veral die magtige Jeugliga so onaantasbaar, dat hy vroeër of later by mnr. Jacob Zuma sal oorneem. Onlangs het ek verneem dat Malema selfs ministers uittrap wat nie hul werk doen nie en dat hy in ‘n hoë mate reeds gesag binne die kabinet geniet. In Afrika setel mag in die persoon en nie in die formele posisie of aanstelling nie.

Vir alle praktiese doeleindes kan hierdie land se naam dus môre na die “Volksrepubliek van Azanië” verander word en niemand sou die verskil agterkom nie. Die ergste voorspellings wat vóór 1994 gemaak is oor ‘n moontlike distopiese, kommunistiese toekoms is besig om bewaarheid te word. ‘n Mens lees dit selfs in die gedrukte koerante wat die werklikheid van ons weerhou en die onderbroekvlag en Nkosi Sikelel’iAfrika as simbole van ons “bevryding” aan ons opdring.

Die Afrikaner het nou voor ‘n veel meer onverbiddelike keuse te staan gekom as om “ja” of “nee” in die ’92-referendum te stem. Toe kon hy nog illusies oor sy toekoms koester. Nou is die skrif so groot aan die muur, selfs die blindes kan dit lees. Slegs twee keuses bly oor: aanvaarding van die status quo, die volksrepubliek, of selfbeskikking en een of ander vorm van ‘n volkstaat. Daar is seker nog ‘n derde keuse wat vele mense uitoefen, dié van emigrasie, maar terwyl daar nog hoop op vryheid in ons eie land is, gaan ek dit nie hier bespreek nie.

Die woorde “volkstaat” en “selfbeskikking” het al amper in Afrikaans clichés geword. Nietemin sou dit dom wees om ons hierdeur te laat ontmoedig. Die liberale propagandiste wat aan ons die veelrassige samesyn soos op SA Brouerye se bieradvertensies of in Sewendelaan voorhou, durf nie erken dat hulle stelsel misluk het nie. Die DA en die mediagroepe soos Naspers wat dit ondersteun, gaan aanhou om hierdie onwerkbare, onrealistiese stelsel te propageer totdat alles soos in Zimbabwe in duie stort. Die direksie van Naspers besit reeds almal huise in die suide van Frankryk en ander gerieflike plekke en sal dus kwalik omgee as die massa middelklas-Afrikaners uiteindelik hier weens ‘n gebrek aan politieke alternatiewe moet vergaan.

Ongelukkig het die voorstanders van die volkstaatgedagte tot dusver ook nie hul plan op ‘n nugtere, realistiese wyse aan die publiek verduidelik nie. Heelwat swaar, teoretiese stof oor die volkereg en die geskiedenis is voortgebring, maar dit kan kwalik die gemiddelde Afrikaner inspireer wat spook om kop bo water te hou. ‘n Volkstaat word ook geassosieer met ‘n plek soos Orania iewers in ‘n onherbergsame gebied waarheen ‘n mens moet trek om daar handearbeid te gaan verrig. Vir die gemiddelde stedeling is dit nie ‘n aantreklike opsie nie. Almal is ook nie pioniers nie.

Alvorens ek PRAAG se visie oor ‘n volkstaat hier bekendstel, noem ek graag die bestaande volkstaatgroeperinge onder Afrikaners op, tesame met die uitdagings wat elkeen in die gesig staar.

Die Oraniabeweging wil die Noord-Kaap vir die Afrikaner koloniseer. Ná twintig jaar vertoon die dorpie Orania redelike sukses. Maar dis nog geen Afrikanermeerderheidsgebied nie en boonop beskik die Afrikaner nie oor enige historiese of volkeregtelike aansprake op die gebied nie. Die tyd en reusebedrae aan kapitaal om die Noord-Kaap vir die Afrikaner te ontwikkel, is net eenvoudig nie daar nie.

Die Vryheidsfront Plus, wat in sy grondwet tot selfbeskikking vir die Afrikaner verbind is, het ná sewentien jaar nog geen sentimeter nader daaraan gekom sedert die selfbeskikkingsooreenkoms tussen Constand Viljoen, Thabo Mbeki en Roelf Meyer op 23 April 1994 geteken is nie. Op 1 Augustus 2011 het die VF Plus in Pretoria ‘n verklaring uitgereik waarin hy meen selfbeskikking “is die enigste uitweg vir die Afrikaner om in die huidige politieke bestel in Suid-Afrika te oorleef”. Die Vryheidsfront Plus het ook by UNPO (die Unrepresented Peoples’ Organisation) aangesluit, ‘n soort VN vir volkere wat nie by die VN verteenwoordig is nie of wat nog nie volle soewereiniteit geniet nie.

Die Volksraadverkiesingskommissie, wat daarin volhard om hul naam onafrikaans as drie woorde te skryf, gaan blykbaar einde September verkiesing hou om ‘n Volksraad van sewe aan te wys. Ook hulle staan selfbeskikking voor, maar het nog geen aanduiding gegee van watter deel van die land hulle opeis nie. Omdat die kandidate van die VVK hoofsaaklik uit die HNP-dampkring kom, gaan die VVK waarskynlik nie as werklik verteenwoordigend van die Afrikaner gesien word nie, in weerwil van hul oënskynlik demokratiese prosedure.

Kleinfontein is ‘n selfbeskikkingsgebied naby Pretoria wat volgens dieselfde beginsels as Orania met volkseie arbeid bedryf word.

‘n Nuweling wat oor die afgelope paar weke tot die selfbeskikkingsdebat toegetree het, is mnr. Cor Ehlers. Die gebied wat hy wil opeis vir ‘n Afrikanervolkstaat is vaagweg gegrond op SABRA-navorsing, asook die gebiede wat deur dr. Willem van Heerden in “Hartland vir die Afrikaner” geïdentifiseer is. Mnr. Ehlers beweer dat daar reeds ‘n Afrikanermeerderheid in sy gebied bestaan, iets wat deur mnr. Anton Barnard van PRAAG, ‘n statistikus en demograaf, bevraagteken word. Tot dusver het mnr. Ehlers nog nie sy kaart gepubliseer nie.

Die Boerevryheidstigting onder leiding van dr. Lets Pretorius wat hom vir die herstel van die Boererepublieke beywer. Groot dele van die ou Boererepublieke is egter deur vreemdes beset en dit sou histerie en selfs militêre ingryping deur die internasionale gemeenskap veroorsaak indien daar gepoog word om miljoene der miljoene swartmense te verskuif.

PRAAG se siening van ‘n volkstaat

Oor die redes waarom die volkstaatgedagte nog nie deur Afrikaners in hul massas aangegryp is nie, kan lank gespekuleer word. Opsommenderwys kan ons die volgende sê:

‘n beeldprobleem; die toekomstige volkstaat word as ‘n toevlugsoord vir aartskonserwatiewes en fundamentaliste gesien;

‘n gebrek aan besonderhede oor die waar en die hoe;

bestaande volkstaatgebiede, met die uitsondering van Kleinfontein, is ver van die ekonomiese hartland van Suid-Afrika geleë;

die volkstaat is bloot ‘n “Afrikaneroplossing” en pas nie in by Suid-Afrika se aspirasies of die buiteland se siening van ‘n suksesvolle Suid-Afrika nie;

geldmaakskemas deur individue wat poog om mense op lappies grond as “volkstate-in-wording” te vestig;

die eis vir ‘n volkstaat kan tot geweld lei, aangesien die ANC deur mnr. De Klerk se oorgawe daarvan oortuig is dat hy nou die alleenbesitter van alle Suid-Afrikaanse grondgebied is, ook die Afrikaner s’n.

Myns insiens behoort ‘n redelike volkstaatplan al hierdie besware aan te spreek om deur sowel Afrikaners as die internasionale gemeenskap aanvaar te word.

Daarom:

Die volkstaat waarvoor PRAAG en die hoofstroom van Afrikaner-intellektuele en -aktiviste hul beywer, gaan ‘n voortsetting van die Boererepublieke wees wat reeds in die negentiende eeu die Westerse beginsels van godsdiensvryheid, verdraagsaamheid, demokrasie en individuele vryheid erken het. ‘n Toekomstige Afrikaanse Republiek moet ‘n OESO-land (Organisie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling) wees, dus ‘n eerstewêreldland wat geredelik by ons Westerse en Europese stamlande kan inskakel.

Hoewel ons ook die aartskonserwatiewe in ons midde sal hê en hulle volkome vry sal wees om nie Sondagsport te beoefen nie, skole by te woon waar sekere wetenskaplike teorieë soos dié van evolusie verbied word, ens., sal sulke kwessies nie in die grondwet ingeskryf word nie. Afrikaners met uiteenlopende menings en lewenstyle sal in die nuwe republiek welkom wees.

Dele van Gauteng, die ekonomiese sentrum van Suid-Afrika, móét by die volkstaat ingesluit word. Die meerderheid Afrikaners woon in Gauteng of die ou PWV-gebied, dikwels in groot homogene konsentrasies. Daarom is enige nuwe republiek wat hierdie Afrikanermeerderheidsgebiede uitsluit gedoem. Waar moontlik moet Pretoria, dele van die Oosrand en selfs die Wesrand deel van die volkstaatgebied vorm. Sodoende sal meer as die helfte van Afrikaners glad nie hoef te trek om ‘n volkstaat te bekom nie. Op die duur sal hulle egter toenemend van eie arbeid gebruik moet maak, ten einde vreemdes uit die gebied te hou en te verhoed dat die laaste Afrikanergebiede insgelyks deur vreemdes beset word. In dié opsig is ons problematiek en dié van Wes-Europa of Noord-Amerika identies. Dit gaan daaroor om onwettige immigrasie te verhoed.

Van meet af aan moet Afrikanerleiers die volkstaatplan as oplossing vir Suider-Afrika se politieke probleme aanbied. Die huidige stelsel, vanweë die magsmonopolie wat dit aan radikale swart populiste toeken, verdryf kundige minderhede uit Suider-Afrika en lei reguit na verval en ‘n Zimbabwe-scenario. Om die eerstewêreldse ekonomiese aktiwiteit en organisasie in die streek te behou, is ‘n Afrikanervolkstaat onontbeerlik. Hierdie boodskap moet wyd en syd aan buitelandse ambassades en internasionale organisasies soos die VN en EU oorgedra word. Die moontlikheid van ‘n Suider-Afrikaanse konfederasie van state moet ook as deel van die volkstaatpakket voorgehou word. Botswana, Lesotho, Swaziland en Namibië sou beslis in so ‘n konfederasie belangstel aangesien hulle netto ontvangers van belastings is wat deur die Doeanie-unie na hul staatskaste toe vloei. Toenemend wil die ANC ook sy mag op die kleiner etniese state in en rondom Suid-Afrika afdwing. ‘n Afrikanervolkstaat sou dus ook stabiliteit vir dié kleiner state waarborg.

Die ANC sal net tot geweld oorgaan indien Afrikanerswakheid voortduur. Selfs in aanloop tot die volkstaat sal ons beter georganiseerd wees en daarom ‘n minder “sagte teiken” vir ANC-grypsug, wat deesdae veral in die jeugliga manifesteer. Ook kan plaasmoorde en geweldsmisdaad van meet af aan deur ‘n Afrikanerowerheid onder bedwang gebring word, in samewerking met privaatsekuriteitsmaatskappye. Ons is reeds slagoffers van intense geweld en daarom sal die totstandkoming van ‘n volkstaat feitlik onmiddellik ‘n skerp afname in die huidige trauma en lewensverlies tot gevolg hê.

‘n Kantonstelsel moet tot ‘n meer homogene Afrikaanse Republiek lei

Volgens my skattings bestaan daar tans ‘n redelike groot Afrikanermeerderheidsgebied wat vanaf Pretoria ooswaarts en suidwaarts strek wat uitgesny kan word om die kern van ‘n nuwe Afrikaanse Republiek te vorm. Hierdie gebied moet egter bloot as die “hoofkanton” van die nuwe stelsel beskou word.

Die ANC sal oorreed moet word om sy regering elders as in Pretoria te vestig, aangesien die Afrikaner die hoofstad aangelê het en dit ook die hoofstad van die eertydse ZAR was. As ons kyk na die Kosovo-uitspraak van die Internasionale Geregshof, die konvensies en ander elemente van die volkereg, kan die Afro-Saksiese Suid-Afrika wat in 1994 ontstaan het geensins op Pretoria en die omliggende gebied as hoofstad aanspraak maak nie. Die drie ANC-leiers wat tot dusver regeer het, Mandela, Mbeki en Zuma, behoort al drie tot die Nguni-groepe wie se bevolkings honderde kilometers van Pretoria af woon en wat tot hul onlangse “verowering” geen historiese teenwoordigheid in Pretoria gehad het nie. Hoeveel Xhosa- of Zoeloe-monumente, -kerke, -regeringsgeboue of ander tekens van historiese besetting is daar in Pretoria? Feitlik geen, daarom het ons die reg om hulle in Pretoria met internasionale steun die uitsettingsbevel te gee, indien onderhandelings oor die hoofstad sou misluk. Myns insiens moet daar ook met die ANC onderhandel word om hul hoofstad verder weg van Pretoria en buite Gauteng te vestig, soos in die Transkei of Zoeloeland waar dit veel meer gepas sou wees. Nigerië het sy Abuja en Brasilië sy Brasilia gebou. Iewers in die Transkei of Zoeloeland moet daar plek vir ‘n Mandela City of ‘n Luthuliville wees.

Die vetrek van die swart middelklas wat deur regeringsposte geskep is, sal die Pretoria-omgewing onmiddellik weer na dié van ‘n min of meer homogene Afrikanerstad laat terugkeer. Buitelandse swartes wat die middestad van Pretoria en Sunnyside beset, sal in oorleg met hul tuisregerings gehanteer en gereguleer word deur die uitreking van tydelike visums en werkspermitte, waar nodig. Onwettiges sal binne internasionale norme na hul lande van oorsprong teruggestuur word.

Ander gebiede kan by die hoofstad “aanhaak”. Outonome Afrikanerkantons moet regoor die land gevestig word, oral waar Afrikaners ‘n behoefte aan selfbeskikking en beheer oor hul eie onderwys, veiligheid en finansies voel. Dit is ons reg, wat deur sowel artikel 235 van die SA grondwet as die internasionale reg gewaarborg word. Myns insiens behoort plattelandse dorpe en omliggende boere bymekaar te kom en kantonrade te stig wat vreemde woongebiede uitsluit en ten minste oor 10 000 inwoners beskik. Twee of drie plattelandse dorpe wat saamkom, kan maklik sulke kantons vorm. Binne die kanton kan daar natuurlik meer as een munisipaliteit wees, net soos in die ou dae.

Waar Afrikanerkantons nie fisiek by die hoofkanton in Pretoria kan aansluit nie en dus ‘n “landeiland” binne ANC-Suid-Afrika verteenwoordig, kan hulle hulself steeds ten volle deel van die Afrikaanse Republiek ag. Alaska, een van die vyftig deelstate van die VSA, grens aan Kanada, maar nie aan Amerika nie. In Europa bestaan daar vele sulke gebiede. Daar is byvoorbeeld die Russiese “oblast” in Pole rondom Kaliningrad, asook die dorpie Büsingen in Switserland wat aan Duitsland behoort. ‘n Ander dorpie binne die grense van Switserland, Campione d’Italia, behoort weer aan Italië. Blykbaar ry die Italiaanse polisie aldaar motors met Switserse registrasienommers en die posseëls is van die Italiaanse posdiens maar betaalbaar in Switserse frank. Sulke “eksklawes” soos landeilande in vreemde state genoem word, skep allerlei moontlikhede vir die plaaslike burgers om te kies waar hulle hulself van die staat rondom hulle wil afskei en waar hulle wil saamwerk. Teoreties is dit dus moontlik vir kantons binne Suid-Afrika om steeds elemente van die huidige stelsel te behou waar dit hulle pas. Waar dit hulle egter nie pas nie, kan hulle hul onafhanklikheid bevestig deur die norme en wetgewing van die Afrikaanse Republiek toe te pas.

Ons moet aanvaar dat die verstrengelingsproses onder blanke oorheersing in Suid-Afrika langer as honderd jaar geduur het. Daarom mag die ontstrengelingsproses om uiteindelik ‘n groot, homogene Afrikanerrepubliek te hervestig ook dekades lank duur. Soos ek voorheen al geargumenteer het, sal die vreemde bevolkings wat hulself naby Afrikanerdorpe gevestig het, uiteindelik daarvandaan wegtrek indien ons nie meer van sulke “gasarbeiders” gebruik maak nie en sulke vreemde inwoners ook nie toegelaat word om deur roof en diefstal op ons te teer nie. In sy boek “Hartland vir die Afrikaner” argumenteer dr. Willem van Heerden dat groot dele van Suid-Afrika sodoende vir die Afrikaner “herwin” kan word.

Van meet af aan sal daar egter een of twee “hoofkantons” ten minste so groot soos Israel of Slowenië (20 000 vk. km.) in die Afrikanerrepubliek wees wat reeds alle staatkundige funksies namens Afrikaners sal uitoefen. Daar sal Afrikaanse universiteite en hoërskole wees, asook ‘n openbare radio- en TV-diens wat die ruggraat van ons kultuur en identiteit sal verteenwoordig. Nadat die ANC se personeel die Reserwebankgebou verlaat het, kan ‘n Pretoriase aandelebeurs in die omgewing gevestig word wat met die JSE en ander beurse elders ter wêreld sal meeding. Hierdie aandelebeurs kan ook ‘n afdeling vir kleiner maatskappye bevat wat kapitaal vir Afrikanerondernemings beskikbaar sal maak ten einde al ons mense, hetsy in die hoofkanton, hetsy in eksklawes in Suid-Afrika, weer werk te gee.

Daar bestaan ‘n definisie van nie-aaneenlopende gebiede wat óf ten minste deur 100 km water óf deur grond van ‘n vreemde staat van hul tuisstaat geskei word. Sulke nie-aaneenlopende gebiede kan egter heeltemal funksioneel wees. Omdat hulle buite die grense van die moederstaat verkeer, is hulle egter in tye van oorlog kwesbaar. Maar indien sulke eksterne kantons hulself paraat hou en met goeie kommunikasiemiddele toegerus is, hoef hulle nie te vrees dat hulle uiteindelik deur Suid-Afrika met geweld “teruggeneem” sal word nie. Die regering van die Afrikaanse Republiek sal ook waak oor die kwesbare eksterne kantons en op allerlei maniere aan hulle hulp verleen om hulself sonder vrees of angs binne ANC-Suid-Afrika te kan handhaaf.

Soos Nederland, Engeland en Frankryk in die vroeë VSA, verkeer verskeie volkere en moondhede tans in mededinging vir beheer oor groot dele van Suider-Afrika. Selfs China is ‘n vername rolspeler en mag uiteindelik kolonies in Afrika en veral Suider-Afrika vestig wat direk vanuit Beijing beheer sal word. Weens swak Afrikanerleierskap in die verlede, het ons feitlik al ons grondgebied aan die Nguni-volkere van Natal en die Oos-Kaap moes afstaan wat ons vandag uit Pretoria, ons voormalige republikeinse hoofstad, regeer. Fisiek beset ons egter steeds genoeg grondgebied om, soos Kosovo, Suid-Soedan en vele ander state, onsself onafhanklik te verklaar.

Onderhandeling oor grense en grondgebied sal, soos in ander wêrelddele, dekades lank duur en uiteindelik sal ons vermoë om onsself ekonomies en polities te handhaaf die deurslag gee as dit kom by die persentasie grondgebied van Suid-Afrika wat ons uiteindelik by ‘n aaneenlopende Afrikaanse Republiek kan inlyf. Op die duur mag ons selfs die hele Suid-Afrika terugkry, tesame met Namibië en sy pas ontdekte olierykdom. Wie weet? Frankryk het op ‘n stadium ‘n groot deel van die VSA besit, toe ruil Napoleon dit vir ‘n ryk suikerproduserende eiland met ‘n klomp slawe uit Afrika wat vandag as Haïti bekendstaan. Pleks dat Frankryk hul grondgebied in Amerika behou het, dan was die land dalk vandag veel magtiger en ‘n supermoondheid soos die VSA. Wat die toekoms vir ons inhou, kan nie aldag voorspel word nie.

Gegewe alles wat ons in die verlede vermag het, moet ons nie huiwer om vir onsself hoë ideale te stel of om soms gróót drome te droom nie.

Wat nou egter prakties haalbaar is, is ‘n hoofkanton die grootte van Israel of Slowenië met ‘n miljoen tot anderhalfmiljoen Afrikaners wat reeds in en om Pretoria en ‘n aaneenlopende plattelandse gebied oos- en suidwaarts woon. Tesame met ander kantons wat dwarsoor die land versprei is en uit dorpe en omliggende plaasgrond bestaan, kan die Afrikaanse Republiek van meet af aan beheer terugneem van ‘n aansienlike deel van Suid-Afrika, met die uitsondering van gebiede wat reeds deur groot getalle vreemdes beset word.

Natuurlik sal die ANC, asook die DA, nie van ons voorstelle hou nie, want dit gaan die finale spyker in die doodskis van hul Afrikanervernietingsplan beteken. Deur geweld en assimilasie moes die Afrikaner uitgewis word, soos wat Lord Milner en ander Britse magsbelustes reeds in die negentiende eeu wou regkry.

Hierdie plan is redelik en is in ooreenstemming met die demografiese en ander werklikhede. Dit sou myns insiens dwaas wees om nou al met groot ontwrigting almal in ‘n bepaalde gebied in te dwing, terwyl ons nog nie seker is in welke mate ons veroweraars in staat gaan wees om ons vorige gebied sonder ons belastings te kan beset en daar te kan oorleef nie. Daar is geen Afrikaland wat tans sonder buitelandse hulp, dikwels voedselhulp, oorleef nie en indien ANC-Suid-Afrika tot op daardie vlak verval, kan ons sekerlik ons stem dikmaak om te sorg dat ekonomiese vlugtelinge en hulpbehoewendes verder weg van ons grense en outonome kantons hervestig word. Die moontlikhede vir privaat ondernemers en -ontwikkelaars om in samewerking met die Afrikanerowerheid bepaalde strategiese gebiede in Suid-Afrika “terug te koop” vir latere inlywing by die hoofkanton, is ook legio.

Met hierdie plan hou ons ons opsies oop en erken ons die territoriale mededinging wat daar tans in Suid-Afrika bestaan tussen die Afrikaners, Zoeloes, Xhosas en ander groepe. Hierdie mededinging geskied tans ekonomies en demografies. Een van die eerste take van die Afrikanerregering gaan wees om die kwynende Afrikanerdemografie aan te spreek, onder meer deur ‘n groot aantal emigrante en vlugtelinge aan te moedig om uit Australië, Nieu-Seeland en ander lande terug te keer. Sonder Afrikanerbelastings sal die ANC-alliansie kwalik sy natalistiese beleid kan volhou waardeur veertienjarige skoolmeisies aangemoedig word om ter wille van toelaes swanger te raak. Die tydvak van “wonderbaarlike” demografiese groei deur die mededingende bevolking mag sodoende binnekort ten einde loop en aan ons ‘n beter kans op oorlewing in ons eie volkstaat bied.

Almal besef seker teen dié tyd dat, sónder ‘n volkstaat, ons oorlewingskanse op die lang duur besonder skraal is. Selfs die liberale kommentators wat in hul droomwêreld van “almal is dieselfde” leef, kan nie langer die groteske verval van hierdie sentralistiese, korrupte “Sowjet-Afrika” ontken nie.

Veral ná die Kosovo-uitspraak van 22 Julie 2010 wat die reg van elke volk erken om sy selfbeskikking en onafhanklikheid sonder toestemming van enige ander staat of instansie op te eis, is die vooruitsig op ‘n volkstaat vir Afrikaners besonder rooskleurig.

Indien die breë massa gebreinspoelde, rugbykykende Afrikanerslawe tans nog afsydig hierteenoor staan, maak dit ook nie saak nie. Soos Toynbee en baie ander historici en filosowe al opgemerk het, is dit die skeppende minderheid wat die geskiedenis maak. Die meerderheid val bloot by hul planne in.

Dit ly by my geen twyfel dat die meerderheid Afrikaners uiteindelik ewe hartstogtelik ‘n volkstaat sal begeer indien hulle ook die finansiële voordele daarvan besef nie. Tans betaal ons jaarliks ten minste 200 tot 300 miljard rand se belastings aan die ANC-staat oor wat hy na goeddunke aan sy ontplooide kaders en arm kiesers uitdeel. Daardeur finansier ons ons eie ondergang.

Dink net wat ons met R200 tot R300 miljard se belastings kan verrig wat uitsluitlik op die bevordering van ons eie veiligheid, werksgeleenthede, navorsing en ontwikkeling, asook die Afrikaanse taal en kultuur bestee sal word. Ons ekonomie sal jaarliks teen tien persent kan groei, danksy goeie ekonomiese bestuur en ‘n klein, korrupsievrye regering. In die eerste vyf jaar sal die regering egter sy hande vol hê om die styging in eiendoms- en grondpryse in toom te hou, soos wat ‘n miljoen terugkerende Afrikaners en nuwe immigrante vanuit Noord-Europa op ons sonnige, byna probleemvrye volkstaat sal toesak.

Ons sal in ‘n utopie sonder plaasmoorde of taaldiskriminasie leef, amper soos die Transvaal of die ZAR in die 1890s! Die Kaap sal weer Hollands wees. M.E.R., oftewel Maria Elizabeth Rothmann, was taamlik liberaal en ‘n vrydenker, maar ‘n vurige Afrikanerpatriot. Oor die 1890s toe sy in die ZAR gewoon het, het sy geskryf:

“In plaas van die geskiedenis van die eie volk as ‘n belaglike flenterjie in ‘n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as eervolle besitting bestudeer… En al jou vriende was mense wat net soos jy behae gehad het in die selfstandigheid en al sy uitinge, selfs ook die strikke en linte, die pluime en uniforms, die optogte en die staatskoetse, waarin die Presidente by groot geleenthede vervoer moes word… Ai, dit was dae! Dit was heerlik om toe nog jonk te wees, en in die Republieke!”

Wanneer vier ons weer 31 Mei onder Afrikanergesag, in ‘n eie staat of kantonale federasie? Opskud, Afrikaner, jy gaan die trein van die geskiedenis wat by jou stasie stilgehou het, verpas!

Aanhangsels

Grondwet van Suid-Afrika: Artikel 235: Selfbeskikking

Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ‘n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

Akkoord oor Afrikanerselfbeskikking van 23 April 1994

ACCORD ON AFRIKANER SELF-DETERMINATION BETWEEN THE FREEDOM FRONT, THE AFRICAN NATIONAL CONGRESS AND THE SOUTH AFRICAN GOVERNMENT/NATIONAL PARTY

23 APRIL 1994

TAKING NOTE

Of the Constitution of the Republic of South Africa, Act 200 of 1993 as amended;

And

TAKING NOTE

Of the unsigned Memorandum of Agreement between the African National Congress (ANC) and the Afrikaner Volksfront (AVF), dated December 21, 1993;

And

TAKING NOTE

Of Constitutional Principle XXXIV, dealing with the issue of self-determination;

And

SUBSEQUENT

To the discussions between the delegations of the ANC, the AVF, the South African

Government and eventually the Freedom Front (FF) –The parties represented by these delegations record the following agreement:

the consideration of these matters, they shall not exclude the possibility of local and/or regional and other forms of expression of such self-determination.

They agree that their negotiations shall be guided by the need to be consistent with and shall be governed by the The parties agree to address, through a process of negotiations, the idea of Afrikaner self-determination, including the concept of a Volkstaat.

The parties further agree that in requirement to pay due consideration to Constitutional Principle XXXIV, other provisions of the Constitution of the Republic of South Africa, Act 200 of 1993 as amended, and that the parties take note of the Memorandum of Agreement, as referred to above. {The Appendix to this Accord contains copies of these documents perused by the delegations.}

3.1.    Such consideration shall therefore include matters such as:

3.1.1. substantial proven support for the idea of self-determination including the concept of  a Volkstaat;

3.1.2. the principles of democracy, non-racialism and fundamental rights; and

3.1.3. the promotion of peace and national reconciliation.

The parties further agree that in pursuit of 3.1.1 above, the support for the idea of self-determination in a Volkstaat will be indicated by the electoral support which parties with a specific mandate to pursue the realisation of a Volkstaat, will gain in the forthcoming election.

4.1.    The parties also agree that, to facilitate the consideration of the idea of a Volkstaat after the elections, such electoral support should be measured not only nationally, but also by counting the provincial votes at the level of: Commission.

The parties agree that the task of the Volkstaatraad shall be to investigate and report to the Constitutional Assembly and the Commission on the Provincial Government on measures which can give effect to the idea of Afrikaner self-determination, including the concept of the Volkstaat.

The parties further agree that the Volkstaatraad shall form such advisory bodies as it may determine.

In addition to the issue of self-determination, the parties also undertake to discuss among themselves and reach agreement on matters relating to matters affecting stability in the agricultural sector and the impact of the process of transition on this sector, and also matters of stability including the issue of indemnity inasmuch as the matter has not been resolved.

The parties further agree that they will address all matters of concern to them through negotiations and that this shall not exclude the possibility of international mediation to help resolve such matters as may be in dispute and/or difficult to conclude.

8.1.    The parties also agree that paragraph 8.0 shall not be read to mean that any of the deliberations of the constitutional Assembly are subject to international mediation, unless the Constitutional Assembly duly amends the Constitution to enable this to happen.

8.2.    The parties also affirm that, where this Accord refers to the South Africa Government, it refers to the South African Government, which rule South Africa until the April 1994-elections.

SIGNED BY:

Gen. Constand Viljoen:                 Leader Freedom Front

Mr. Thabo Mbeki:                           National Chairman: African National Congress

Mr. Roelf Meyer:             Minister of Constitutional Development and of Communication of behalf of the Government and the National Party

WITNESSED BY:

Prof. Abraham Viljoen

Mr. Jurgen Kögl

APRIL 23, 1994

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s