Die Afrikanerrevolusie is hier – ‘n onderhoud met Dan Roodt

Maandag, 08 Augustus 2011 09:26

‘n Onderhoud met Dan Roodt deur Gustav Venter

‘Want moet ‘n mens nie self korrup wees om ‘n korrupte stelsel te ondersteun nie?’

In hierdie onderhoud met Gustav Venter, praat dr. Dan Roodt van PRAAG padlangs oor die revolusionêre gees wat hy tans onder Afrikaners bespeur en wat op selfbeskikking en onafhanklikheid moet uitloop. Hy verwys ook na die Akkoord oor Afrikanerselfbeskikking van 23 April 1994 en die Kosovo-uitspraak van die internasionale geregshof in Den Haag van 22 Julie 2010 wat dit vir Afrikaners moontlik maak om summier van Suid-Afrika af te stig.

GV: Dis nogal ‘n gewaagde stelling om te maak, om te sê dat die Afrikanerrevolusie hier is. Wat bedoel jy daarmee?

DR: Mense wat my ken, sal weet dat ek hoë agting vir W.A. de Klerk (die skrywer, geen familie van FW nie!) se boek The Puritans in Africa koester. Daarin praat hy van die puriteinse revolusies wat hulle oral in die nuwe wêreld, in die VSA, maar ook Suid-Afrika onder Afrikanerregering, afgespeel het. Dit was veral nywerheidsrevolusies wat groot ontwikkeling meegebring het.

GV: Is die huidige Afrikanerrevolusie dus iets soortgelyks, ‘n soort tegnologiese revolusie?

DR: Nee! Hoewel ons tegnologie daarvoor inspan, staan ons nou miskien vir die eerste keer in ons geskiedenis, voor ‘n volskaalse revolusie wat die Afrikanersamelewing geheel en al gaan verander, wat iets nuuts tot stand gaan bring. Ek sou dit veral met die Franse revolusie van 1789 wou vergelyk. Afgesien daarvan dat hulle die aristokrate se koppe afgekap het, was dit ook ‘n revolusie van idees, wat natuurlik deur skrywers en filosowe gelei is. Voltaire was die groot bevryder van Frankryk, eerder as Danton of Robespierre. Hierna het die Franse revolusie natuurlik oor die hele Europa gespoel en die Duitse Romantiek en nasionalisme tot gevolg gehad.

GV: Watter tekens van revolusie bespeur jy tans?

DR: Ek dink vir die eerste keer sedert ek ‘n kind in die sestigerjare was, bespeur ek die verlies aan beheer van, noem dit maar, die Afrikaner-establishment, die reste van die ou Broederbond en Nasionale Party wat nog steeds met ons is, in allerlei gedaantes, in die kerke, die universiteite en natuurlik Naspers, die land se grootste mediamaatskappy. Sonder die internet sou dit natuurlik nie moontlik gewees het nie, want voorheen is elke aanstelling, elke publikasie, elke brief in ‘n koerant gekeur om te sorg dat dit nie afwyk van die groot meesterplan wat deur ‘n paar invloedryke mense bedink is nie.

GV: Maar het die Broederbond en NP se meesterplan nie misluk toe die ANC die land oorgeneem het nie?

DR: Ek sou sê ja en nee. Verwoerd was ‘n soort buitestaander en sy gedagte van ‘n etniese konfederasie met die balkanisering van Suid-Afrika het nie oral byval gevind nie. Ná sy dood is dit laat vaar en het daar ‘n nuwe meesterplan gekom wat sou uitloop op ‘n soort naasbestaan van Afrikaners met Engelse, bruines en swartes, kortom, die multikulturele samelewing wat ons vandag met al sy verskrikkinge beleef. Vryheid was nooit deel van die Afrikaner-establishment se meesterplan nie, en veral nie vryheid vir die Afrikaner nie. Die risiko wat De Klerk en die destydse kabinet geloop het, tesame met Naspers wat hul oorgawe-ideologie gepropageer het (en steeds propageer!), was dat die Afrikaner hetsy geassimileer sou word, hetsy uit Suid-Afrika vedryf sou word. Maar dit het hulle nie vir een oomblik gepla nie. Die risiko dat hulle beheer sou verloor of dat gewone Afrikaners op hul vryheid en selfbeskikking sou aandring, was vir hulle ‘n veel groter probleem. Dis waarom die “regse gevaar” geskep is, met Eugène Terre’blanche as gelukbringer, driebeenswastika’s en al. Malema is op die punt om alle Afrikanergrond te konfiskeer, maar steeds beskou Naspers en die res van die heersende kabaal hul eie mense en hul vryheidsdrang as die groter gevaar? Was daar al ooit in die geskiedenis so iets doms gewees?

GV: So jy dink die Afrikaner-establishment is dom? Was De Klerk en Roelf Meyer dus net onnosel, nie ook verraaiers nie?

DR: Ja, ek dink so, dat hulle geweldig dom is. Mense kan deesdae insien watter groteske flater De Klerk en Roelf Meyer begaan het deur die sogenaamde Pretoria-minuut te aanvaar. Kyk hoe die Israeli’s oor elke duim grondgebied veg, met die wapen of by die onderhandelingstafel. Of kyk hoe Brittanje steeds aan Noord-Ierland vasklou, hoe hulle 30 jaar die Ierse Republikeinse Leër se bomme getrotseer het. En dis nie eens hul eie grondgebied nie. De Klerk het sekerlik in 1994 verraad gepleeg, maar daar was ‘n groot element van onnoselheid daarby. Hy het eenvoudig nie die gevolge van sy daad besef nie, was sonder die verbeelding om te dink hoe die land radikaal kon verander om meer soos ‘n mislukte Afrikastaat te word. Vandaar sy patetiese uitsprake in die onlangse tyd, soos om Malema as “laf” te bestempel. Hy is self die grootste nar in die geskiedenis wat deur ‘n langtermyngevangene vanuit ‘n tronksel uitoorlê is!

GV: Maar daar is tog slim Afrikaners ook?

DR: Sekerlik, ja. Ons het oor die afgelope veertig jaar of so net nie baie van hulle in die politiek of die media gesien nie. Ons moet besef dat as jy deur dom mense regeer word, dan dwing hulle uiteindelik hulle norme op jou af. En oor dekades heen is die Afrikaner verdom. ‘n Tyd gelede praat ek met Koos Malan wat sy boek vir my gebring het om te lees. Toe sê hy vir my: die Universiteit van Pretoria is ‘n hoërskool. ‘n Redelike goeie hoërskool wat mense van grade voorsien, maar daar is nie werklik navorsing of denke wat daar geproduseer word nie. In ‘n lewe-en-doodsituasie soos dié waarin die Afrikaner tans verkeer, het jy vir seker navorsing en denke nodig. Ons kort planne. Maar ZB du Toit het mos die De Klerk-geslag as “Boere sonder planne” beskryf. En ek is bevrees tot onlangs toe was ons sonder planne.

GV: Wat is die aard van die revolusie wat ons tans beleef?

DR: ‘n Revolusie begin met ‘n idee. Die idee wat mense tans beet het, is selfbeskikking, oftewel hoe ons aan hierdie moorddadige, korrupte bestel kan ontkom wat De Klerk en die buiteland in 1994 in hul onkunde en onnoselheid op ons afgeforseer het. Van Wyk Louw het mos gepraat van opstand wat net so noodsaaklik in ‘n volk is as getrouheid. “Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.” Maar wat ook belangrik is, is kritiek. Ook kritiek in eie geledere. Dis wat my opgewonde maak, dat die Afrikaner vir die eerste keer in ‘n lang tyd krities oor alles begin raak, eweneens oor onsself en ons eie tekortkominge.

GV: Maar wat is die nut van kritiek? Kan kritiek nie ook naderhand verlammend raak en net die huidige verdeeldheid onder ons mense vererger nie?

DR: Daar is ‘n mooi woord in Afrikaans vir iemand wat kritiek op sigself of as ‘n stokperdjie beoefen: ‘n kritikaster. Dis nie waarvan ek praat nie. Ek praat van kritiek met ‘n doel, van die kaf van die koring te skei, van die mes wat ingelê word om van al die onnodige bagasie van die verlede en die hede ontslae te raak. Daar is ‘n baie mooi, revolusionêre gedig van Van Wyk Louw waarin hy insgelyks van opstand praat onder die titel: “Julle is die oorheersers.” In die laaste strofe sê hy: “maar as julle dood/ en ‘n vrot plek in ons volk is,/ dan sal ons ‘n mes vat/ en vinnig, genadiglik/ sny deur spiere/ en vleis tot genesing.” Die soort kritiek wat ek in gedagte het, is om van die vrot plek in die volk ontslae te raak. Kritiek moet ook sorg dat die beste en mees samehangende idees oorleef terwyl swakker idees uitgeskakel moet word, ‘n bietjie soos die proses van evolusie wat telkens die mees geskikte lede van ‘n spesie selekteer. Lenin, die groot linkse revolusionêr, het dit ook as die krag van die vroeë Russiese Kommunistiese party gesien, dat hy hom deur debat en kritiek van binne af versterk.

GV: Daar is tans ‘n meningsopname op Praag waar ‘n mens kan stem hoe gou Afrikaners ‘n staat kan kry. Dit lyk asof die meerderheid stemmers dink dit sal eers oor tien jaar gebeur en nie binne ‘n jaar of twee nie. Hoe het jy self in hierdie opname gestem?

DR: Ek het gestem vir die opsie dat ons binne ‘n jaar of twee ‘n eie staat sal kry. Die omstandighede was nog nooit so rooskleurig nie, sowel plaaslik as internasionaal.

GV: Maar as dit nie in al die tyd sedert 1994 of selfs in die tyd sedert Verwoerd gebeur het nie, waarom sou dit nou gebeur?

DR: In die eerste plek vanweë die verswakking van die Afrikanerheersersklas, diegene wat voortdurend kompromieë wou aangaan, eers met die Britse Ryk en toe met die Nguni-ryk van die ANC. Malema is eintlik ook besig om namens ons hierdie mense te neutraliseer. Die tweede element is dat Britse en Amerikaanse invloed in Suider-Afrika besig is om te taan, met Zimbabwe wat nou volledig onder Chinese invloed staan en Suid-Afrika goed op pad daarheen onder Malema. Die Britte en Amerikaners wou hierdie multikulturele, reënboognasiebestel hier gehad het en daarvoor het hulle hul Afrikaner-meelopers soos die De Klerks (FW en Wimpie) en die destydse Broederbond gebruik. Ons sien dus nou vir die eerste keer in dekades ‘n vloeibaarheid wat vir ons beweegruimte bied. In ‘n sekere mate kan ons nou dink wat ons wil, sê wat ons wil en binnekort ook doen wat ons wil.

GV: Maar hoe gaan ‘n volkstaat of eie republiek binnekort kan realiseer?

DR: Hier op die Praagwebwerf is daar ‘n hele debat daaroor aan die gang. Maar die derde element by die vorige twee wat bykom, is die gunstige omstandighede vir selfbeskikking wat sedert 1989 geld, met ongeveer 50 nuwe state wat internasionaal ontstaan het. En dan natuurlik die heel onlangse Kosovo-mening van die internasionale geregshof wat op 22 Julie 2010 beslis het dat enige volk oor die reg beskik om homself vry te verklaar, sonder enigeen se toestemming. Al wat nou nodig is, is dat Afrikaners daardie selfbeskikkingsreg moet uitoefen.

GV: Maar daarvoor het ons grondgebied nodig. Wat van die algemene gevoel dat swartes oral in die meerderheid is en ons dus nêrens oor ‘n eie gebied beskik nie?

DR: Ons weet almal dat dit nie waar is nie. In ‘n sekere sin het apartheid geslaag, want hoewel jy in enige winkelsenrum ‘n multikulturele bevolking aantref, woon ons steeds grootliks in ons eie gebiede. Waarskynlik is dit minder die oorblyfsel van die ou groepsgebiedewet as iets wat spontaan gebeur, dat swartes verkies om tussen swartes te woon, Afrikaners tussen Afrikaners, Indiërs tussen Indiërs, ens. Wat nou moet gebeur, is dat ons die gebiede met Afrikanermeerderhede moet uitmerk soos ek en ander reeds voorgestel het en sodoende die grense van ‘n eie staat moet vasstel. Wat die plattelandse gebiede en landbougrond betref, gaan dit eintlik baie maklik wees, want ten eerste het die platteland tydens Suid-Afrika se chaotiese verstedelikingsproses ontvolk en ten tweede besit ons boere steeds daardie grond. Ons sal egter gou moet speel, want soos ons weet, staan Malema en die 8 000 jeugdige soldate wat hy besig is om op te lei, gereed om ons grondgebied te beset en te onteien. Voordat daardie onteiening plaasvind, sal ons formeel onafhanklikheid moet verklaar! Die onderhandelinge oor grense mag dalk jare duur en sal ook deur internasionale bemiddeling geskied, waarvoor die sogenaamde “Akkoord oor Afrikanerselfbeskikking” van 23 April 1994 voorsiening maak. Ons sal egter vroeër eerder as later onsself formeel onafhanklik van Suid-Afrika moet verklaar.

GV: Maar wie moet onafhanklikheid verklaar? Tans beskik ons nog nie oor ‘n skaduregering nie.

DR: Dis nou wat so interessant aangaande die Kosovo-uitspraak van die internasionale geregshof in Den Haag is. ‘n Groep individue wat as verteenwoordigers van die volk optree, kan daardie onafhanklikheid verklaar en dus die bal aan die rol sit. Teoreties kan tien Afrikaners bymekaarkom, hulself as verteenwoordigers van die volk konstitueer en tot ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring oorgaan, net soos die Kosoware teenoor Serwië in 2008 gedoen het. In die praktyk egter dink ek ‘n groterige groep Afrikaners wat ook afgevaardigdes van organisasies en politieke partye sou insluit, sal groter legitimiteit aan die onafhanklikheidsverklaring verleen.

GV: Hoe bewoord ‘n mens so ‘n onafhanklikheidsverklaring?

DR: (Lag). Wie weet? ‘n Mens kan ‘n baie formele, filosofiese dokument soos die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring van 4 Julie 1776 uitvaardig, of dit kan ‘n betreklik eenvoudige sin of twee wees waarin ons onsself as volk onafhanklik van Suid-Afrika verklaar in terme van die volkereg, artikel 235 van die huidige Suid-Afrikaanse grondwet, asook die Akkoord oor Afrikanerselfbeskikking van 23 April 1994. In die Kosovo-geval was dit so ‘n eenvoudige verklaring, want hulle het verwys na ‘n vorige VN-plan vir selfbeskikking wat deur Martti Ahtisaari opgestel is. Die Kosovo-deklarasie lui soos volg:

“Ons, die demokraties verkose leiers van ons volk, verklaar Kosovo hiermee ‘n onafhanklike en soewereine staat. Hierdie verklaring weerspieël die wil van ons volk en stem ten volle ooreen met die aanbevelings van die VN-spesiale gesant Martti Ahtisaari en sy Omvattende Voorstel vir die vasstelling van Kosovo se status. Ons veklaar Kosovo ‘n demokratiese, sekulêre en multietniese republiek, wat deur die beginsels van nie-diskriminasie en gelyke beskerming onder die reg gerig sal word.”

GV: Dus, drie sinne op papier is al wat nodig is?

DR: Presies! Maar gegewe die Afrikaner se voorliefde vir meer formele en literêre taal, moet ons miskien iets nader aan die Amerikaanse verklaring opstel, wat nogtans verwys na die regsbegsinsels en dokumente wat vir ons onafhanklikheidsverklaring ter sake is. Hier dink ek aan die Akkoord oor Afrikanerselfbeskikking van 23 April 1994, ons vestiging in die land sedert 1652 en die selfregering wat ons by tye in die verlede geniet het, in die Boererepublieke, asook die periode van 1910 tot 1994. Ook die vredesverdrag by Vereeniging van 31 Mei 1902 bevat ‘n artikel wat selfregering in die vooruitsig stel, met die belangrike punt dat stemreg of politieke regte vir swartes eers ter sprake sal wees nadat selfregering aan ons toegestaan is.

GV: Waarvoor wag ons dus?

DR: Ek weet regtig nie! Sedert 31 Mei 2003 is PRAAG eintlik besig om Afrikaners bymekaar te probeer kry en daar is vele ander groeperinge en organisasies wat insgeslyks ‘n vorm van Afrikanereenheid probeer bewerkstellig. Op 3 September gaan daar ‘n vergadering in Pretoria plaasvind waarheen alle Afrikaanse organisasies en belanghebbendes uitgenooi sal word. Ek en mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie is net besig om te besluit in watter lokaal dit moet plaasvind. By daardie vergadering moet konkrete stappe bespreek word om onafhanklikheid en selfbeskikking te verwesenlik. Intussen wil ek begin werk aan ‘n konseponafhanklikheidsverklaring wat onder Afrikaners en Afrikaanse organisasies versprei kan word. Hoewel, ek is ook lugtig vir die Afrikaanse organisasies waarvan sommige steeds deur die Afrikaner-establishment beheer word en teen Afrikanervryheid gekant is. Daarom wil ek ook persoonlik ‘n mandaat van die breë publiek bekom om die idee van Afrikanerselfbeskikking te steun. Ek het ‘n eenvoudige sinnetjie wat ek per internet, e-pos en sms gaan versprei: “Ek stem toe dat dr. Dan Roodt van PRAAG eendrag ander Afrikaners moet skep en selfbeskikking verwesenlik.” Dit stel die beginsel, die besonderhede sal oor die volgende paar weke in vergaderings uitgehamer word. Die wonderlike ding van die internet is, dat die volk – elkeen van ons – aan die proses kan deelneem en voorstelle kan maak. Dus is ons onafhanklikwording van meet af aan ‘n demokratiese proses, anders as in 1992 toe mense in die referendum “ja” gestem het en mnre. FW de Klerk en Roelf Meyer dit geïnterpreteer het as carte blanche om aan Umkhonto we Sizwe oor te gee sodat ‘n rassistiese, anti-blanke bestel na die model van Robert Mugabe of selfs Idi Amin in Suid-Afrika gevestig mag word. Dié keer sal elkeen weet waaroor dit gaan en sy insette kan lewer.

GV: Maar gaan vele mense, soos die Nasperskoerante en -meningvormers, dit nie afskiet nie?

DR: Natuurlik sal daar baie Afrikaners wees wat teen selfbeskikking gekant is, omdat hulle self tenderpreneurs in die nuwe stelsel is of besig is om hul kinders te verengels ten einde beter aan te pas. Die mbongi’s van die huidige stelsel gaan histeries raak as hulle dink dat ons uit hulle prettige gestig met sy regstellende aksie, SEB, korrupsie, geweld, wit skuld, ens., gaan ontsnap, maar elke verandering word altyd deur ‘n sekere groep konserwatiewes teengestaan. Dis mense wat nie verandering kan hanteer nie en die status quo wil sien voortduur. Maar hulle is verbeeldinglose swakkelinge wat deur die huidige Afrikanerrevolusie uit die pad gevee gaan word. Hul argumente is verslete en hul motiewe is verdag. Want moet ‘n mens nie self korrup wees om ‘n korrupte stelsel te ondersteun nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s