Afrikanerpolitici en moraliteit

Geskryf deur Johann Wingard   

Maandag, 30 Mei 2011 07:31

Afrikaners word deesdae oorweldig deur die volksvreemde politieke moeras waarin hulle tans worstel. Is daar hoegenaamd nog plek vir die begrip van Afrikanervolk, en het daardie volk ‘n toekoms? Gaan die politiek van misleiding nog steeds die Afrikaners se toekoms bepaal? Gaan uitgediende politieke beleid wat deur baie as politieke beginsels verhef was nog hul daaglikse lewens oorheers?

Beleid moet die politiek van die dag aanspreek, maar beginsels word op moraliteitsoorwegings gevorm. Politieke misleiding is dus die onvermydelike gevolg as beleid tot beginsel verhef word. Beleid kan nog verander, maar beginsels staan vas. Beleid moet by veranderde omstandighede aanpas, maar beginsels is tog deurlopend.

” Dit is teen my beginsels om ‘n swartman se hand te skud, of om op Sondag te fliek of vis te vang,” is tipiese ‘beginsels’ wat deur beleid gevorm was.

Die probleem hiermee is dat die tydsgees altoos verander en moet beleid aangepas word om relevant te bly. Dit mag vereis dat gevestigde politieke praktyke op ‘n stadium oorboord gegooi sal word. Politieke realiste doen dit heel gemaklik, maar behoudendes vind dit moeilik om van hul beleidsbeginsels afstand te doen.

Dit is dus ‘n politieke dwaling om beleid tot beginsels te verhef, want beginsels word deur moraliteitsoorwegings gevorm, en beleid deur die politiek van die dag.

En dit is presies waar verdeling tussen die kieserskorps plaasvind, want binne die konteks van ‘n bepaalde tydsgees word nuwe beleid deur oorlewingspolitiek gevorm. Verwarring word dan by kiesers veroorsaak. Baie verstaan nie altyd waarom die politieke landskap dan so drasties moet verander nie.

In sy boek Politics Among Nations: The Struggle for Power and Peace probeer Hans Morgenthau om buitelandse beleid volgens sekere teorieë te verstaan en verskaf antwoorde op baie kwelvrae oor beleid en beginsels, sommiges wat ook in ons geval van toepassing is.

Hy beweer dat dit moeilik in die politiek is om tussen die waarheid en opinie te onderskei. Dit is ook moeilik om te onderskei tussen feite wat deur objektiewe bewyse en logiese beredenering ondersteun word teenoor onbewese subjektiewe versinsels en oordeel wat deur vooroordeel of dagdromery gevorm word.

Hierdie onderskeid tussen feite en versinsels moet egter ook aan die dubbele toets van rede en ervaring gemeet word, aangesien feite of opinies alleen onvoldoende is.

In ons soeke na meer helderheid oor wat die toekoms vir Afrikaners inhou, soek ons nou na ‘n antwoord op die kwessie van belange teenoor mag. Afrikaners se ekonomiese en kulturele belange en die mag om dit fisies te behou.

Dit vereis dat sy leiers se politieke motiewe teenoor die ideologiese oorwegings verstaan sal word. Maar intellektuele dissipline word egter vereis om die begrip te verstaan dat belange deur mag gedefiniëer word, omdat rasionele orde dan na politieke oorwegings gebring sal moet word. Die verhouding van beleid teenoor beginsels word dan ook beter begryp.

Dagdromery soos die Boererepublieke wat herstel moet word; Afrikaners kan ‘n verskil by die stembus tydens ‘n ANC verkiesing maak; of ons sal ‘n soewereine volkstaat in Suid Afrika volgens die Israelse model kan oprig, is sulke dagdromery wat nooit deur realistiese logika ondersteun kan word nie. Historiese voorbeelde word buite die konteks van die historiese tydsgees as voorbeelde aangehaal waarom beleid tot politieke beginsels verhef word.

Dit is nie maklik om die motiewe van politieke leiers te verstaan nie, omdat motiewe as sulks die versluierde sielkundige aspek van ‘n leier is. Daardie motiewe word deur die emosies van kieser sowel as van die leier verwring.

Weet ons werklik wat ons eie motiewe is?
Weet ons wat die motiewe van ons medemens is?
Weet ons werklik waarom FW die politieke mag prysgegee het?
Weet ons werklik waarom Genl. Contand VilJoen die Vryheidsfront gestig het om aan die 1994 verkiesing deel te neem?
Weet ons werklik waarom Kortbroek en Roelf Meyer na die ANC oorgestap het?
Weet ons werklik waarom die Vryheidsfront Orania as volkstaatgebied aan sy ondersteuners voorgehou het en sodoende 80% van sy steun sedert 1994 verloor het?
Weet ons werklik waarom Dr Pieter Mulder die pos as adjunkminister in die ANC-regering aanvaar het?
Weet ons werklik waarom Malema toegelaat word om sy ‘skiet die Boer’ lied te sing en waarom die ANC hom so naarstiglik verdedig?

Ons weet nie want ons weet nie wat die politieke rolspelers se motiewe was nie. Ons raai en maak ons eie gevolgtrekkings. Een kenmerk daarvan is egter dat die politieke van misleiding onlangse politieke beleid gevorm het, hetsy om die buiteland te mislei of om die Boere te ko-opteer (soos byv Dr Mulder se aanstelling), of om die Afrikanervolk in ‘n strategiese rigting te stuur (Genl. Viljoen) of om die Boshoff-deaal te verwesenlik, ensovoorts. Diegene wat hulself op binne inligting beroep het hul eie motiewe waarom hulle ander onder verdenking wil bring.

Maar ons sal nooit werklik weet nie.

Die geskiedenis het meermale bewys dat daar nie noodwendig ‘n korrelasie tussen die morele gehalte van motiewe teenoor beleidsverandering bestaan nie. Dit is van toepassing op morele sowel as politieke oorwegings en kan in ‘n groot mate aan bogenoemde lysie van toepassing gemaak word.

Robespierre, die Franse revolusieleier, se motiewe was seker die edelste toe hy duisende mense wat hy as moreel minderwaardig beskou het deur die valbyl laat onthoof het. Maar dit was presies sy utopiese radikalisme wat ook sy dood deur dieselfde valbyl tot gevolg gehad het en wat die revolusie, waarvan hy die leier was, tot ‘n einde gebring het.

Net terloops, is Malema die moderne Robespierre?

Egotistiese beleidmakers probeer om die gaping wat tussen persepsie en beleid aan die een kant en realiteit aan die ander kant bestaan, te verklein. Sodoende probeer hulle bewys dat hulle ‘n ander werklikheid aan hul kiesers deur goeie politieke leierskap kan bewerkstellig. Dit is tipies wat met ANC-leiers die geval is. Gevoed deur COSATU en SAKP se denkskrums word ‘n onwerklike utopie geskilder en wat hulle beweer binne die bereik en vermoeë van die land se swart leierskap is. Onrealistiese verwagtings word deur politieke misleiding geskep. Dit het die vermoeë om die land te verwoes.

Die toekomstige Afrikanerleierskap moet dus nooit onrealistiese verwagtings probeer skep nie, maar om eerder die morele hoë grond ten alle koste te behou om sy kiesers se belange binne die werklikheid van die dag te beskerm.

Politieke mag bestaan uit alles wat die beheer van mense op ander mense vestig en in stand hou. Politieke mag dek dus alle sosiale verwantskappe wat daardie doel dien, van fisieke geweld tot die mees subtiele sielkundige bande wat een persoon oor ‘n ander het. Mag domineer dus mens oor mens, of dit deur morele oorwegings beskerm word soos in die geval van Westerse demokrasië, of in beginsellose wetgewing wat deur ongetemde barbaarse kragte opgestel word om gewetenlose politici en hul volgelinge te bevoordeel.

Politieke leiers moet ook die vermoë besit om ‘n onderskeid te tref tussen wat in die algemene belang is en wat hul eie persoonlike voorkeure is. Politieke realisme vra nie vir ‘n onverskillige houding ten opsigte van politieke ideale en morele beginsels nie. Dit vereis egter ‘n skerp onderskeid tussen dit wat deur kiesers verlang word en dit wat moontlik is binne die werklikheid van tyd en plek waarin kiesers hulself tans bevind.

Hierdie sal die onderskeidende eienskap en denkprofiel van Afrikaners se nuwe leierskap moet wees. Dit is wat werklike leierskap vandag behels. Vandag is daar nie meer plek vir die politiek van misleiding van Afrikaners nie. As ‘n beginsel wat nooit opgeoffer mag word nie moet Afrikaners onvermoeid en onverpoosd aandring op dit wat aan hulle behoort. Dit is ‘n morele beginsel waarvan hulle nooit mag afwyk nie.

Verder sal Afrikaners maar die beste van ‘n slegte saak moet maak, uit en gedaan…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s